
Wetteloosheid, ons nuwe normaal
(Woordtelling 763)
Dit is geen geheim dat Suid-Afrika onder ’n donker wolk van korrupsie swoeg om kop bo water te hou nie. Verval van die infrastruktuur, hoë misdaad, werkloosheid, armoede, stygende inflasie, stygende rentekoerse en -petrolpryse, beurtkrag vir die afgelope 16 jaar, is slegs enkele voorbeelde van die uitdagings wat ons daagliks in die gesig staar. Voeg daarby ’n nie-funksionele strafregstelsel en ons het die perfekte resep om as ’n falende staat geklassifiseer te word.
Die hele situasie rondom Thabo Bester se ontsnapping uit die tronk het vele Suid-Afrikaners na hul asems laat snak. Hoe is dit moontlik om so maklik uit ’n gevangenis uit te stap en die owerheid kom dit eers byna ʼn jaar later agter! Dit sou seker lagwekkend gewees het indien dit nie so ernstig was nie. Die feit dat hy hulp van binne én buite die tronk gehad het, is eintlik van minder belang teenoor die innoverende plan waarmee hulle dit uitgevoer het.
Terwyl sy verdwyning ’n briljant uitgewerkte plan was, is ontsnapping uit ons tronke geensins ’n nuutjie nie. Volgens die Departement van Korrektiewe Dienste het 139 gevangenis tussen 2020 en 2022 dit reggekry om te ontsnap. Sommige klouter deur hul vensters, ander oorval die wagte, neem die sleutels af en stap doodeenvoudig by die deur uit. Annanias Mathe was bekend dat hy verskeie kere uit maksimum-sekuriteit tronke ontsnap het. Dit laat mens wonder hoe goed ons is om oortreders binne te hou, en te keer dat die getal misdadigers ophou groei.
ʼn Ander groot probleem in ons regstelsel is die gewoonte om sake uit te stel. Oudpresident Jacob Zuma se ondersoek oor Staatskaping draal al sedert Junie 2005 en daar is geen einde in sig nie. As hy nie gesondheidsprobleme het nie, of weens ouderdom nie kan verskyn nie, duik daar bloot net ʼn ander rede op. Met ander woorde, die staat en strafregstelsel word gemanipuleer deur diegene wat bereid is om afkoopgeld te betaal en sodoende vind vervolging selde plaas, veral van hooggeplaastes.
Miljárde rande van die belastingbetaler word jaarliks gespandeer aan sake wat nooit by vonnisoplegging uitkom nie. Ons sien dikwels hoe hooggeplaaste politici geïmpliseer word, maar daar word nooit teen hulle opgetree nie, en hulle word ook nooit uit hul amp onthef nie. Die mees onlangse voorbeeld is toe André de Ruiter bekend bemaak het dat die korrupsie en sindikate in die Eskom-sage tot in die parlement strek. Tot vandag het geen haan daaroor gekraai nie. Diegene wat weet wie hierby betrokke is, is oënskynlik te bang om die nodige stappe te neem. Dit beteken bloot dat sommige meer onaantasbaar is as ander.
Dit is nie net Eskom wat deurloop nie, maar daar is ook ʼn Mafia bedrywig in die konstruksie- en mynbedryf, en daar het bitter min gekom van die plundering wat gedurende 2021 in KwaZulu Natal plaasgevind het.
Verder is dit bloot die onbevoegdheid van die staat om die aantal misdade wat gepleeg word, effektief te hanteer. Daar is ʼn groot gaping tussen die aantal sake wat aangemeld word, en die uiteindelike skuldigbevinding van misdadigers, soveel so dat baie landsburgers nie eens meer “minder ernstige” misdade soos inbrake rapporteer nie.
Tydens ʼn konferensie gehou deur AfriForum wat die verval van die strafregstelsel bespreek het, het Adv. Nel konkrete voorbeelde uitgelig wat op die verval van die strafregstelsel dui, sowel as die kwynende onafhanklikheid van die regbank. Adv. Gerrie Nel, prof. Kos Malan en dr. Llewelyn Curlewis was sprekers by die konferensie. Hulle is van mening dat ons strafregstelsel ʼn sinkende skip is wat nie gered kan word nie.
Die Nasionale Vervolgingsgesag is óf meesters op die gebied om sake onbepaald te laat sloer, óf hulle het nie die vermoë om sake van korrupsie te vervolg en af te handel nie. Volgens dr. Curlewis is die Suid-Afrikaanse regstelsel lank reeds nie meer die toonbeeld van oppergesag waarna ons altyd gestreef het nie. Elke burger in hierdie land is uitgelewer aan die korrupsie van ons falende regstelsel, en daardie selfde burgers is dikwels ook die slagoffers van onopgeloste misdade, sommige so ernstig as moord.
Strafverhore is ʼn klug, veral waar daar politiek by betrokke is.
Maar wat sou die oplossing wees? ʼn Privaatsekuriteitsindustrie? Sal dit enigsins moed verskaf aan die sielsmoeë publiek wat jaarliks miljarde rande aan die staatskas bydra in die vorm van belasting? Waar gaan als eindig? Gaan die vuis-voos publiek ten spyte van hierdie belasting, ook moet begin betaal sodat die inbrekers, verkragters en boelies privaat gearresteer en vervolg kan word? Ons hoedens is laag oor ons oë getrek en ons hoop op ʼn beter toekoms vir almal, is aan die kwyn.
https://afriforum.co.za/staatskommissies-regering-se-gunstelinguitsteltegniek/
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2023 KLUG projek