Lobgevegte tussen verse
Lobgevegte tussen verse (brons)
Ek staal my by die lees van woorde
wat oor my spoel uit alle oorde
tussen taalsuiwerheid wat drup
en dié met ‘n stappel in sy hup
My regterlob, hoogs onontwikkeld
is op sy beste maar versukkeld
My linkerlob, versot op rede
snak na die sin in Griekse snede
Ek spartel tussen skommel-frases
verloor die goue draad deur fases
Ek voel my dom waar ander swymel
terwyl ek dronk deur woorde tuimel
Maar praat dit vêr-links Afrikaans
voel dit weer soos ‘n kopstamp-dans
begin sy skoon-banale streling
die aftelling na my verveling
Ek skud my kop oor my gebrek
aan artistieke intellek
Ek wroeg te veel waar ek dit mis
want woorde kerf sy eie nis
So ploeg ek maar die middelgrond
en saai my woorde nie te bont
My lobbe doen hul hele bes
om dit weerskante te bemes
Ek skryf nie vir die resensente
waardering van die plebs, my rente
en met respek, Meders en Perse
Ek is mos ek, en so my verse
2 Kommentare
-

Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Christa D
'n Interessante gedig. 'n Weerlees gedig om die diepte te verstaan.