Hemel palet
Die opwinding borrel diep binne in my genadig is nog ‘n martelende week verby die naweek ontvlugting lê voor die deur weg van dit wat my rustelose hart versteur in raadsale vergader werkslawe uur op uur om geforseerde oorbodige opinies te verduur Die pad huis toe is in donker gedagtes omvou onversadige verkeer laat my gedagtes grou kwalik opgewonde op pad Weskus toe oor die kreef wat ek in my verbeelding proe die vryheid van saligheid wat ek na smag vry van die burokrasie wat ek daagliks verag Op die Klipheuwel pad by Fisantekraal verby sal jy die stank van die week se frustrasies kry ‘n laaste poging om jou geesdrif te smoor om vir oulaas die geraas in jou kop te hoor skielik ontbloot sy haar, verleidelik, onbeskaamd in winters kleure is die natuur eerlik verwaand Die Kaapse winterreën al was dit maar min het met haar wonderwater haar kant gebring die oeste het gewasse in oorvloed gegee om opgewonde ‘n nuwe seisoen te betree die velde wat pronk soos 'n windgat pou noop my om op die pad na bevryding te hou Malmesbury is ‘n waansinnige geskarrel bevlek met gemors wat in die wind rond warrel langs Dieprivier brug lê ‘n besope man reeds in sy eie donker wêreld vasgevang op die naat van sy rig lê hy in sy pyn en kwel sy ewe dronk vrou wat hom van oorkant die pad skel Uit die dorp se geraas en malle rumoer wyk die kraaie wat in my kop rond sloer net voor Rondomskrik se lowergroen plaas word my kop stadig ontslae van al die geraas voor my is die hemel doek ‘n kaleidoskoop ten einde laaste word ek van die grou gestroop Die helder oranje son in veelsydige kleure omring skakerings van granaat wat die roesbruin indring pampoen, mandaryn geel, lemoenskil en koraal bloos appelkoos met kleure uit ‘n kinderverhaal robyn pienk, bloue-pers-violet van ‘n aandblom verdiep in die veranderende kleure wat my verstom ‘n Sierlike hemel tapisserie met sy warm palet sonsondergang wat hom teen die donker verset amarant of purper rooi wat uitdoof na framboos lelie pers wat die wange van die wolke laat bloos ek wil dit vasvang in woorde en met almal deel op skrif vir almal met beeldende tafereel Almal het al so ‘n kaleidoskoop gesien en ervaar op sosiale media geplaas en soos ‘n gedagte weer laat vaar ‘n apatiese blik op die streel paneel van jou slim foon teen die skoonheid van die natuur het jy jouself verloën ek móét hierdie bekoring uit God se hand herleef as ek maar kon dig soos Opperman of Boerneef
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.