Die Tegnologiese Goliat
LED-lig blou sy oë blink-verhewe
in glans agter glas wasem sy asem
flikkerende algoritmes kodeer
sy hart klop skommel
die God-geordende ‘pixels’ van die heelal
met voortdurende F-stop
en sluiterspoed verstellings
wat die etiese-ordepatrone
van die mens se moraliteit aanval
sakpas GPS-ruitverwysings
plot die mens gekodeer
binne digitaal-kliniese ‘servers’
en ‘WI-FI’-seine skommel die lug
ons ‘surf’ op Google se ‘maps’
want die ‘pindrop’ van sy inligting
is geleë in die ‘Cloud’ van ‘alwetendheid’,
ons gedagtes is geprogrammeer in ‘Gig’
ons harte klop met data
ons bid met ‘Wi-Fi-gedagtes’
ons lag en huil in ‘GIF’s’
ons het baie gesiglose vriende
in lande regoor die wêreld
wat ons nooit sal besoek nie
ons groet met emoji’s
en flirt met vals profiele
ons het verstrengel geraak tussen
staalbedrade ‘backups’ van inligting
(soms ongeverifieerd)
vir sonskyn en braai
sê ons ‘koebaai’
ons maak nie meer kos nie
ons ‘post’ ‘Kentucky Fried-likes’
met die druk van ’n knoppie
en met elke happie
druk ons nog ‘n knoppie
want op Bakkiesblad (FB)
het ons baie volgelinge
ons bid ook nie meer
ons raak nie meer stil voor God nie
die Tegnologiese Goliat
is besig om ons moraliteit te vertrap
waar is ons ‘slingervel van wysheid’ dan?
die ‘Tegnologiese Dawid’ van integriteit
wat ons gedagtes tussen ‘Giga-byte-gode’
weer op die God van die heelal kan vestig?
——-o00o——-
[©Pieter Mostert
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Oktober 2025 – OOP projek