Naka-Kuru ― Die Vier wat Kyk (’n Kosmologiese mite oor die Suiderkruis, van die Boesmans in die Kalahari)
Lank, lank gelede, toe die wêreld nog jonk was en die sand van die Kalahari nog nie die voetspore van die mense geken het nie, het die nagte nie altyd donker gevoel nie.
Hoog bo aan die die hemel het vier helder sterre soos ’n heilige teken gebrand. Daardie sterre is die Suiderkruis.
Dit was nie net blote sterre soos die ander sterre aan die hemelruim nie. Hulle was, is geglo, die oë van die voorvaders, en verteenwoordig vier jagters van groot krag wat hulself opgeoffer het vir hul volk.
In die dae van die eerste mense, toe diere en mense nog kon praat en saam leef, het daar ’n groot droogte oor die land gekom. Die watergate het opgedroog, die wortels het begin vrot, en die diere het in dorstigheid teen mekaar begin draai.
Die mense het nie geweet wat om te doen nie. Hulle het rondgetrek van duin tot duin, van kameeldoringboom tot kremetart, maar daar was geen water, geen kos, geen hoop nie. Die kinders het gehuil, die vroue het gesing om moed te hou, maar selfs die liedere het begin stil raak soos die wind wat moeg geword het.
Onder die mense was daar vier broers, almal jagters en wys in die weë van die veld. Hulle name was: Gai (die slim een), Koba (die dapper een), Horo (die sagte een), en Xam (die een wat met die geeste kon praat). Hulle het elkeen hul boë, pyle, tradisionele velddrag en hul stories van die ou mense geërf.
In die donker van die droogte het hulle bymekaar gesit om raad te gee.
“Die aarde is siek,” het Horo gesê. “Sy roep vir iets groter as jag en dans.”
“Ons moet die Groot Gees vra vir hulp,” het Xam geantwoord, en sy oë was vol sterlig, al was die lug nog donker.
Hulle het besluit om op te klim, nie teen ‘n berg nie, maar teen die lig self. Hulle het geweet as hulle hul laaste jag sou doen, nie op diere nie, maar op die donker van wanhoop, dan sou iets nuuts gebeur.
Gevolglik het die vier broers besluit om met liedere, rituele en vuurklippe in hul hande, onder die sterre te gaan sit. Hulle het nie geëet of geslaap nie, maar gebid en gewag.
Op die sewende nag het daar ‘n lig in die suide verskyn ― vier helder vlamme, reguit bo hul vuur – een vir elke broer. Die mense het opgekyk en gesien hoe die ligte stadig opstyg, asof die broers hul liggame agterlaat het en met hul ‘geesliggame’ in die hemel opgevaar het. Daardie vier vlamme het die Suiderkruis geword.
Vandag nog sê die ou mense: “Kyk na Naka-Kuru as jy verdwaal. Die broers kyk altyd. Hulle wys die pad suid, die pad huis toe. Elke keer as jy ’n vuur aansteek en jou hart is reg, sal hulle jou dalk antwoord, in wind of in die vlamme van die vuur, of in jou drome.
Die Suiderkruis is dus nie net sterre nie. Dit is ’n herinnering aan opoffering, aan hoop in droogte, aan die feit dat die gees van die veld, van die jagter, en van die voorvaders nie verdwyn nie, dit styg net op.
Onder daardie sterre sit Buks Appelblaar en sy Boese’mense elke nag nog by die vuurtjie. Hulle sing en dans en vertel stories, want hulle onthou daardie vier Boesmanseuns: Gai (die slim een), Koba (die dapper een), Horo (die sagte een), en Xam (die een wat met die geeste kon praat) …
——-oooOooo——-
©Pieter Mostert
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.