Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Skeertyd in Namakwaland, Derik en die windhonde

Deur Boetiegoed
Datum gepubliseer: 12 September 2021 Aantal woorde: 1239 106 Kere gelees 3

Oom Piet is ‘n groot man, wanneer jy voor hom staan kan jy nie sien waar sy kop eindig en sy nek begin nie. So vra hy vir my om vir hom ekstra sonkragpanele op sy plaas in Namakwaland te verskaf, nie te installeer nie, want sy seun Derik gaan ‘n raam bou wat in die rondte kan draai vir al daardie panele. Hy sal dit opsit, se Oom Piet.

Ek gaan lewer die panele af, al vier en twintig van hulle en verduidelik vir Derik dat hy die panele drie-drie moet bedraad. Ja, Oom antwoord hy, ek weet wat ek doen. Twee weke later bel Derik my: Oom ek het gemaak soos Oom gese het, maar toe ek die panele op die batterye koppel draai daar rook agter die panele uit. Ja, se ek, ek sal maar kom regmaak. Daar gekom maak ek die panele aan die agterkant oop en al die diodes is uitgebrand. Verkeerd gekoppel. Ek vra vir Derik wat daar teen die tuinhekkie staan om nader te kom dat ek hom kan verduidelik wat ek nou doen. Nee, se hy, ek staan net hier Oom ek kom nie naby daardie panele nie. Dit kos my agt en veertig diodes uithaal en weer nuwes in soldeer, want elke paneel het twee diodes.

‘n Paar maande later moet ek ‘n sonkragpomp by Oom Piet gaan regmaak. Daar gekom vra ek: Waar is Derik dan? Nee, se die Oom, hy vang vis in Hentiesbaai. Ek werk aan die pomp wat toe in die stoor le en sien so uit die hoek van my oog daar kom ‘n man op die werf aan. Bitter vuil en vol olie klim hy uit die bakkie en stap na die huis toe. Later weer uit en daar gee Oom Piet vir hom ‘n hand vol spanspekke. Ek gaan in die huis in, vlug ook maar vir die middag hitte en ek en Oom Piet drink ‘n Orossie en “maak boeke op”. Buite gekom het die klong wat toe vir my werk net al die gereedskap op die ou wit Cruiser gelaai en ek sit agter die stuur reg om te ry, oppad Calvinia toe. Wil julle manne nie ‘n paar spanspekke he nie? Vra die Oom. Nee, dankie se ek hulle sal nou net pap skud hier agter op die bakkie, ons is nou oppad om op Calvinia te werk en dan Carnavon toe. Ek sien uit die hoek van my oog die klong gee my so ‘n vuil kyk en daar trek ons.

Die klong se my: Jy se nee vir die Oom en daardie vuilgat machanic wat daar op die werf aangekom het het oppad huistoe langs die land gestop, deur die draad geklim en ‘n streepsak vol spanspekke gepluk en agter in sy vuil bakkie gelaai. Nou het Oom Piet vir hom nog ‘n handvol spanspekke gegee en jy se nee dankie vir die spanspekke wat hy vir ons wil gee!

‘n Paar maande later laat Oom Piet my weet as ek weer die kant toe kom, moet ek weer by hom ‘n draai kom maak, want hy het weer ‘n stukkende pomp op die werf. Ek moet by Merwe gaan werk so ek stop eers by Oom Piet, ek kyk so rond en sien nie vir Derik nie en vra Oom Piet, waar is Derik dan nou weer Oom? Nee jong, sien hy het gaan visvang in Struisbaai, daar is een of ander kompetisie.

Ek werk die pomp en ry na Merwe toe om daar te gaan werk. Daar gekom werk ek tot amper donker en Merwe se my nee, jy slaap hier oor die vrou het klaar die vleis uitgehaal en op die draad gehang om te ontdooi. Later sit ons by die vuur en hy braai die lekkerste skaap tjops en gooi daar vir ons ‘n rooiwyntjie. Waar het jy vandag gewerk voor jy hier gekom het, vra hy. Nee Merwe, se ek, was by Oom Piet aan en Derik vang alweer vis!

Ai, se Merwe, laat ek maar niks se nie. Hoekom? Vra ek. Nee, man daardie Oom het al sy dae met daardie laaitie. Hoe so, druk ek hom. Nee man, ek wil nie eintlik daaroor praat nie. Later loop die rooiwyn mooi en ek vra weer: Wat was die probleem dan daar by Oom Piet?

Nee, man sien dit is skeertyd, en skeertyd moet jy heeltyd by die skeerders wees, want die skape moet aankom, die skeermasjiene moet loop, en as jy nie genoeg krag het nie moet daar permanent ‘n kragopwekker loop, want daardie manne kos jou geld. Dan moet jy ook toesig hou dat hulle nie die skape raakskeer nie en dat hulle nie meer skape “opgee” wat hulle geskeer het as wat werklik geskeer is nie. Nou hoe werk dit? Vra ek. Nee, man jy gooi boontjies of mielies in elkeen se blikkie en so hou jy rekord deur die dag, want vir elke vier honderd skape wat hulle skeer kry hulle ook nog ‘n slagding op die koop toe.

O, ek sien, laat ek weet. Ja, se hy ek kom daar aan by hulle plaas, want ek weet Oom Piet is nie daar nie en hy het my gevra om ‘n ogie te hou. Daar aangekom en Martin van BKB is daar die skeerders laat waai, maar geen teken van Derik nie. Nou, wat nou? Vra ek. Nee, man ek vra vir Martin of hy weet waar Derik is. Nee se hy, hy het nou self eers seker so ‘n halfuur gelede hier aangekom en Derik was nie hier nie. Merwe stap na een van Oom Piet se werkers en vra: Weet een van julle manne waar Derik is? Ja, die Kleinbaas is saam met sy vriend dorp toe. Dorp toe, vra Merwe. Ja, meneer dorp toe. So ‘n uur later kom Derik en sy pel rustig daar aangery elkeen met ‘n pie en ‘n Coke in die hand. Waar kom julle nou vandaan?, vra Merwe. Nee Oom, se Derik, ons het honger geraak en vir ons elkeen ‘n pie en Coke gaan koop op die dorp.

Hulle smul aan de pasteie en drink die Coke en staan ‘n staan daar rond. Na so 15 minute, vra Derik vir Merwe en Martin, wil julle iets “cools” sien? Nog voor hulle kon antwoord draf Derik daar weg stoor toe. Daar is ‘n geraas in die stoor en ‘n geblaf in die honde hokke. Die volgende oomblik kom Derik met ‘n moerse spoed by hulle verby gejaag met ‘n quad bike, ‘n tou agterna en iets wat soos ‘n lap lyk wat agter aan die tou vasgemaak is. Dan is die hel los soos ‘n klomp windhonde hier agter die quad bike met die tou en “lap” agterna hardloop. Derik vlieg letterlik oor die spoedwalle oor die werf en dan op die grond pad af en met ‘n stofwolk en groot geraas maak hy ‘n draai anderkant die store en kom weer verby met al die windhonde nou kort op sy hakke.

Na so drie rondtes haal die windhonde hom in en hy stop, klim af en stap na Merwe en Martin toe, met ‘n groot glimlag op sy gesig. Daar gekom se hy, dis nou hoe ‘n man windhonde laat oefen, quad bike, tou en ‘n ou jakkalsvel!

En wat se jy toe? Vra ek vir Merwe. Nee, sy hy niks, ek klim toe maar in my bakkie en ry huistoe….




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 15
Kommentaar telling: 11

Ek skryf net omdat dit lekker is, want dit is soos terapie vir my.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 150 gaste aanlyn

Bydraes – Argief