Jongste aktiwiteit:

Koedoe

Ek weet nie wat het gebeur nie. Die een oomblik was ek nog regop; die volgende oomblik staan ek hande viervoet op die vlymskerp rotse. My hande pyn. My knieë pyn. Ek probeer myself orent stoot, maar ek het net nie genoeg krag nie.
“Wat maak jy?”
Die onverwagse stem hier agter my laat ‘n lamheid oor my kom en ek verloor heeltemal my balans. Ek draai my lyf sodat ek nie op my gesig val nie, en beland ‘n hik op my rug. Ek bly doodstil lê en probeer die woede tot bedaring bring. Die pyn maak dit nie maklik nie.
‘n Seuntjie kom staan voor my waar ek hom kan sien.
“Ek vra… Wat maak jy?” Die selfversekering pronk in sy stem.
Ek gaan sit regop. Die bloed sypel uit diep kepe in my hande waar die rotse my gegaffel het. Uiteindelik beur ek orent en kyk die seuntjie op en af. Sy moulose hempie het beter dae gesien. Sy broek is ook nie beter af nie. Dit lyk ook of hy self nie onlangs seep en water gesien het nie. Hy kyk my vraend aan, dan rek sy oë so groot soos pierings as hy my bebloede hande sien.
“Kan jy nie sien ek jag koedoes nie, man!?” Sê ek geïrriteerd.
“Koedoes? Ek dink nie hier is koedoes nie. Nog nooit een hier gesien nie.”
My mondhoeke gee ‘n effens opwaartse beweging. Die onskuld van ‘n kind ken nog nie die bittere smaak van sarkasme nie.
“Hou op snert praat en gee my stok aan.” Sê ek en beduie na waar my kierie beland het.
Sonder om te aarsel raap hy die kierie op en hou dit voor hom uit asof hy vir my ‘n geskenk aanbied.
“Wie’s jou jy?” Vra ek kwaai terwyl ek die houtstok uit sy hande gryp. “Jy sê vir my Meneer. Of Daniël. Nie jy nie. En ook nie oom nie.”
Hy bly vasgeplant, in stilte, voor my staan. Dan trek hy die verrinneweerde hempie uit en hou dit na my toe.
“Wat doen jy? Dit gaan mos nie vir my pas nie.” Sê ek, onseker oor die vreemde gebaar.
“Vir Meester se hande.”
‘n Lig gaan aan. “Ek kan nie… Ek’s reg dankie.” Die wind is uit my seile. Ek voel hoe ek bloos oor die ongeskikte manier wat ek die argelose kind toegesnou het.
Hy neem my een hand versigtig en vee die hemp saggies oor die oop wonde. Die gedagte dat ek klem-in-die-kaak gaan kry van die vuil hempie hardloop deur my kop, maar die onbaatsugtigheid van die gebaar laat die gedagte vassteek in sy spore.
Terwyl hy doenig is vang my oog die lyfie van die kind. Hy is brandmaer, so dat ek sy ribbes kan tel. Ek het nooit besef iemand wie se velkleur bruin is, óók doodsbleek kan wees nie.
“Het jy nie skool nie?” Vra ek om die ongemaklike stilte te breek.
“Dis vakansie.”
Ek weet dis nie vakansie nie. Ek sal nooit strand toe kom as die spul vakansiegangers die vrede kom verjaag nie. Dit is hoekom ek so lief is vir die winter. Geen ongenooide sonsoekers wat my siel kom versondig nie.
“Waar’s jou Ma?”
“Sy’s by die huis. Dis ons huis wat se dak daar uitsteek.” Hy mik met sy oë na die ry huise toe, waar die nok van ‘n huisie net-net bo ‘n duin uitsteek.
Ek weet dadelik van watter huis hy praat. Ek het al baie gewonder oor die huisie wat soos ‘n seer oog tussen die rykmanspaleise staan. Vervalle. Die wit verf dop af en lê soos skilfers om die huis. Die dak was op ‘n tyd dalk groen of blou, maar die grys gee te min leidrade om vir seker te weet. Alhoewel die huisie omring is deur praalwonings, is dit asof die groot huise wegdeins van die krot – bang dat die rot aansteeklik is.
Uiteindelik is die kind tevrede dat die bloed gestop het en my hande relatief skoon is. Ek bekyk self my hande. Die wonde is toe nou nie naastenby so erg soos wat ek gedink het nie.
“Dankie. Jammer oor jou hemp.”
“Moenie worry nie, Meester. Dis nie my fancy hemp nie.” Ek frons oor sy gebruik van ‘Meester’. Dit voel argaïes; verkeerd.
Hy hurk en spoel die bloed uit die hemp in ‘n rotspoel, voordat hy dit uitdroog en oor sy skouer gooi.
Die wind sny genadeloos deur my en ek trek my baadjie stywer om my. Ek besef dat die kind gaan verkluim in sy huidige uitrusting. “Jy beter huis toe hol en iets warm aantrek. Jy gaan koue vat.”
Hy trek sy skouers op. “Kan ek kyk hoe Meester koedoes jag?”
“Ek dink die koedoes is weg vir vandag.” Ons kyk vir mekaar met net die dreuning van die golwe op die rotse wat die stilte breek.
“Goed. Ek moet seker gaan. Meester, moet maar versigtig hier op die rotse wees. Dis glad.” Hy draai om en met ‘n bokspring of drie is hy op die strand en verdwyn oor ‘n duin.

Die volgende dag is ek weer, dieselfde tyd, sukkelend met die kierie tussen die rotse. Ek weet die rotse is nie ‘n plek vir ou toppies met kieries nie. Maar dis al wat ek het om my tyd te verwyl. Terwyl ek buk om ‘n seester op te tel, is die stem weer hier uit die bloute uit agter my.
“Enige koedoes vandag, Meester?”
Ek skrik nie weer nie. Asof ek die stem verwag het. Ek besef ek het nie eers die moeite gedoen om sy naam te vra nie.
“Nee. Ek dink jy was dalk reg. Die koedoes wei nie so ver uit nie.”
Ek kyk vir ‘n oomblik na die seester in my hand, voordat ek dit agter die golwe probeer gooi.
“Wat was dit?” Vra hy nuuskierig en kom staan reg langs my.
“’n Seester. Hy was besig om dood te gaan. Hulle het water nodig.”
“Maar hier lê nog baie seesterre hier rond. Gaan Meester hulle almal red? Dit gaan mos jare neem!” Sê hy en beduie met sy hand na die dosyne seesterre wat met hoogwater op die – nou droë – rotse en sand beland het.
“Nee.” Antwoord ek. “Daar is te veel. Ek kan nie almal red nie.”
“Wat help dit om daai een seester te help as al die ander gaan doodgaan. Watse verskil maak dit nou eintlik?”
“Vir daai een seester, maak dit al die verskil in die wêreld.” Ek merk op hy’t weer dieselfde hempie en broekie aan as gister.
Hy staan en staar diep ingedagte na die golwe wat oneindig breek en breek. Uiteindelik kyk hy na my voordat hy glimlag en self ‘n seester optel en dit na die golwe se rigting gooi.
Ek haal die rugsak van my rug af en haal ‘n plastieksakkie uit. “Hier.”
Hy kyk vraend na die sakkie. “Wat is dit?”
“Maak oop en kyk.”
Hy ruk opgewonde die sakkie oop en haal versigtig, asof dit gaan verbrokkel in sy hande, ‘n splinternuwe Spiderman hempie uit die sakkie. En nog een. En ‘n broekie. Dan druk hy dit styf teen sy lyfie vas.
“Dankie Meester! Dis die mooiste hemde en broek in die hele wêreld!” Ek twyfel of enige iets ooit die glimlag van sy bakkies gaan afkry. En dit laat my glimlag. Ek kan nie meer onthou wat dit is om te glimlag nie.
Ons stap in stilte verder. Tel die een seester na die ander op en probeer dit red, met ‘n boog deur die lug, die water in.

Elke dag, reën of sonskyn, dieselfde tyd gaan stap ek op my gewone plek. Elke dag verskyn hy van nêrens – kondig homself aan met ‘n vraag oor koedoes. Ons stap. En praat. Algemene dinge. Diep dinge. Ek is telkens stomgeslaan oor die emosionele volwassenheid van die kind. Tog is daar ‘n onskuldigheid wat ek onaangeraak probeer los. Week in en week uit. Hy weet naderhand alles van my af.
Dis ook nie lank nie en hy weet dat ek my vrou se foto elke dag strand toe bring. Dat my dierbare, dierbare vrou nooit die see gesien nie. Sy het altyd gevra wanneer ons see toe gaan, dan het ek geantwoord ‘Een van die dae’. Sy het geduldig gewag dat ek tyd maak om die see vir haar te kom wys. Maar ek het altyd nóg ‘n vergadering gehad. Nóg ‘n kontrak wat gesluit moes word. So is 40 jaar verby sonder dat ek dit besef het. Of eerder te laat besef het. Die kanker het haar gevat voor ek haar die see kon wys. Ek het afgetree en kus toe getrek. Nou bring ek haar elke dag strand toe om te probeer opmaak. Ek wil niks met mense te doen hê nie. Ek wil net krepeer in my selfverwyt en seer. Ek het meer geld as wat ek moontlik kan spandeer in ‘n leeftyd, maar ek sou elke liewe sent gee vir nog tyd saam haar. Die cliché steek soos ‘n dolk in my hart, elke oomblik van elke dag. Geld kan nie tyd koop nie. Al daai geld het net seer en die alleenheid gekoop.
Ek weet nie of hy verstaan waarvan ek praat nie. Hoe kan die naïewe kind weet van die stad se gejaag en ‘n internasionale besigheid se eise. Wat weet hy daarvan om verantwoordelik te wees vir duisende werknemers?
Tog, luister hy aandagtig, maar sê niks.
Soos wat die winter aanloop raak my hart ligter. Ek groet selfs ander mense wat verby my loop op die strand. Een dag besef ek met ‘n skok, ek het my vrou se foto by die huis vergeet. Het ek háár vergeet? ‘n Wolk hang oor my en die kind kom agter ek praat die dag minder as gewoonlik. Hy respekteer die stilte. Asof hy weet. Ons stap die strand op en af soos ou vriende. Sonder om ‘n woord te sê. Dis ‘n gemaklike stilte. Met elke tree verdwyn die wolk oor my bietjie-bietjie, en ‘n lig kry die geleentheid om op my siel te skyn.

Die volgende dag kom ek oor die duin aangestap en ek word bewus van stemme en ‘n gelag in die verte, skaars hoorbaar bo die gedreun van die golwe. Toe ek op die kruin van die duin tot stilstand kom besef ek met ‘n yskoue ontnugtering dat die vakansie aangebreek het. Die eerste vakansiegangers het opgedaag om die welkome hitte van die nuwe seisoen te waardeer. Kinders. Mense. Orals.
Ek kan nie! ‘n Angs pak my beet en gaan sit drukkend op my bors. Die mense maak my verbouereerd en ek volg my hart haastig op en af tussen die rotse. Ek het lankal nie meer die kierie nodig nie. Weg van die mense af gaan sit ek op ‘n rots, en wag vir die vraag oor koedoes agter my. Maar dit kom nie. Die tyd stap aan en die son moedig my naderhand aan om koelte te soek. Met die terugloop vang my oog ‘n plastiek sakkie wat tussen die rotse lê. Ek sukkel oor die rotse tot by die sopnat sakkie en loer in. Binne is twee Spiderman hempies en ‘n broekie. Dit voel asof my hart uit my bors geruk word en die koue water ingeslinger word. Ek spring op en hardloop na die vervalle huis toe waar hy daardie eerste dag gesê het hy bly. Ek klop aan die lendelam voordeur. Na ‘n ewigheid, maak ‘n stokou tannietjie die deur oop.
Sy gluur my aan voor sy bitsig sê, “Nee, ek wil nie my plek verkoop nie!”, en begin die deur toemaak.
“Wag Mevrou! Waar is die kind?” Ek ken steeds nie sy naam nie. Hoekom nie? Hoe kan ek na weke se praat nie sy naam ken nie?
Sy kyk stip in my. Nie ná my nie. In my. Dit voel of sy my siel kaal uittrek. Na ‘n lang stilte antwoord sy, amper versigtig. “Hier is nie ‘n kind nie.”
“Nou al vir 40 jaar nie.” Voeg sy by.
Sy sien die verslae verbasing, pyn en hartseer in my gesig en haar oë word sag.
“Ek is jammer.” Sy glimlag. “Hy’s 40 jaar gelede dood. Gegly hier onder op die rotse. Sy kop gestamp en verdrink. Nou’s hy ‘n engel. Hy red die een na die ander siel. Tel die siele op soos uitgespoelde seesterre en gooi hulle weer terug in die see, om hulle nog ‘n kans te gee. As jy hom nie meer sien nie, dan is hy klaar met jou. Jou vrede gegee en jou siel gered.” Sy vat my hand en hou dit met teerheid vas. “Hoekom was jy hier?” en sy beduie in die rigting van die strand
“Om vir my vrou die see te wys.”
“Die dooies kan nie sien nie.” Antwoord sy, steeds met ‘n sagte glimlag.
“Om myself te vergewe.”, sê ek saggies. Hierdie keer eerlik.
Sy gee my hand ‘n drukkie, knipoog vir my en verdwyn die huis in. Ek staan ‘n oomblik voor die toe deur. ‘n Duisend emosies vloei deur my. Dan stop dit by ‘n gelukkige vrede.

Ek stap weer af na die strand toe. Haar foto is wéér nie in my sak nie. Ek gaan sit op die sand en bekyk die mense. Meisies giggel vir elke brander wat oor hulle spoel. Daar speel ‘n klomp jong latte rugby. ‘n Jong paartjie kyk diep in mekaar se oë.
“Dankie, Koedoe.” En ek glimlag.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed