Slaap, jou wondersoete ding!
Daar kom ’n stadium in ’n mens se lewe waar slaap nie meer jou eie bedmaat is nie, maar ’n kieskeurige besoeker wat kom wanneer hy wil en dan boonop bly net so lank soos wat hy daarvan hou. Die ironie is, ek het hom vroeër jare nie juis waardeer nie. Ek het my oë gesluit en die wakkerwees-wêreld het verdwyn soos mis voor die son. Nou, aan die ander kant van sestig, moet ek hom hof maak soos ’n skaam geliefde. Met geduld. Met beloftes. Met warm melk en mooi woordjies van ondersteuning. En dikwels loop hy nog steeds verby my venster, soos ’n buiteperd in die ope velde.
Snags lê ek meestal doodstil – nie omdat ek so kalm is nie, maar omdat al my gewrigte hul eie taal praat wanneer ek te veel beweeg. Hulle kan vir jou ’n behoorlike gesprek voer! Die kamer is donker en die stilte hang soos ou klere teen my hangkasdeur. Ons kombers, lankal vertroud met die vorms en bulte van ’n lyf wat sy eie verhaal vertel, vou sagkens oor my heupe. Ek probeer doelbewus asemhaal, diep en rustig, soos voorgeskryf op aanlyn artikels. Daar waar die jonger garde my wil kom leer en vertel wat om te doen … Maar my gedagtes is wawydwakker, helder soos die sterre in ons droë Namibiese hemel.
Dit is vir my so eienaardig: deur die dag sukkel ek om te onthou. Ek stap kombuis toe en vergeet hoekom ek daar is. Ek blaai deur die televisiekanale en vergeet wát ek wou kyk. Maar as die maan hoog staan, word my brein ’n argivaris van alles wat ek ooit nog moes onthou: resepte van 1972, die naam van die Engelse onderwyser wat altyd “Mamma Mia” gesê het, die rekening wat ek Dinsdag moes betaal het en natuurlik: die vraag of ek onthou het om die stoof af te skakel. Dit is nie dat ek oor sekuriteit bekommerd is nie — dit is net dat ek weet, as ek opstaan om te kyk, sal die nag se rus soos ’n voëltjie wegvlieg en nie weer terugkom nie.
Intussen word my kussing gedraai, gedruk, gevou en omgekeer! Op dié koel kant. Op die ander koel kant. Totdat daar geen koel kant meer bestaan nie. Langs my snork my wederhelfte soos ’n kettingsaag wat al dekades getrou balke saag. Ek het al voorgestel dat ons Eskom daarvan bewus moet maak — dalk kan hulle hom in diens neem. Soos dinge nou staan, sny hy genoeg hout vir ten minste drie woonbuurte.
Ek luister na sy asemhaling – die ritme skerp en raserig, en vir ’n oomblik voel ek vreemd tevrede. Ons is al saam so lank dat selfs sy gesnork deel van die geheime klankbaan van ons bestaan is. Party niggies het herinneringe van romantiese musiek en sagte woorde. Ek het herinneringe van asemhaling wat klink asof iemand ’n trekker aanskakel daar in die verte. Maar hierdie is óns musiek, en dis goed genoeg.
In my soektog na slaap het ek alles probeer wat oumas, dokters, familie en onlangse gesondheidswebtuistes voorstel. Kamille tee – wat goed werk, mits jou blaas bereid is om die nag saam met jou te spandeer. Laventeldruppels op die kussing – dit is mooi vir die eerste uur; daarna ruik die kamer soos ’n apteek wat besluit het om parfuum te vervaardig. Meditasie, maar ’n mens kan nie in vrede asemhaal as jy jou eie asem monitor soos ’n brandalarm nie. Na drie minute het my rug gepraat, my voete gesing, en my senuwees het besluit die oefening is nie vir mense met ervaring nie.
Slaappille werk ook, maar bring ’n mens in die gevaar van vergeet. Want as jy vergeet dat jy een gevat het en weer een neem, word jy die volgende oggend wakker op die stoep, in jou pantoffels, met die koerant onderstebo en ’n halwe broodrolletjie wat jou hond jaloers aangaap.
En dan breek die nuwe dag aan. Die lig stort oor die tuin soos melk oor ’n koppie se rand. Die duiwe staan klaar gereed vir hul eerste vergadering van die dag, en ek sit met ’n koppie koffie op die stoep. As ek gelukkig is, vang ek bietjie son op my arms. As ek nog gelukkiger is, sluimer ek binne paar minute in. Die koffie loop dan in ’n dun strepie oor my bene af – ’n soort ‘badge of honour’ vir ’n nag van wakker lê.
Die moegheid loop saam met my deur die huis, deur die dag, deur al my gesprekke. Ek en my vriendinne sit saam, gesels los en vas oor die wêreld en sy vreemde dinge. Een vertel ’n storie ’n buurvrou met ’n raserige hond. My brein besluit om vir ’n oomblik te rus. Sy praat, ek knik, glimlag en vang soms net die laaste drie woorde: “en toe sê sy…!” Ek antwoord “Dis ongelooflik!”, en hoop maar dit pas in by haar vertelling.
Selfs in die kerk is ek nie heel veilig nie. Die prediker se stem is strelend soos ’n rivier deur ’n dorre veld. Hy praat oor die skepping, oor die goddelike asem wat lewe gee en ek neem sy woorde ernstig op: so ernstig dat ek my kop oorgee aan ’n knik en ’n sagte, heel menslike harde snork. Die tannie langs my tik my hard met die Bybel op die arm en fluister: “Die Here wil jou wakker hê.” Ek glimlag net, maar ek weet: dit was nie spiritualiteit nie, dit was ek wat vir die gemeente sing.
Televisie kyk word ’n heel ander avontuur. Ek gaan sit vir my gunsteling sepie; word wakker by die weervoorspelling. Ek probeer dan die weer kyk, maar teen die tyd dat die temperatuur vir môre aangekondig word, slaap ek weer rustig soos ’n baba.
Maar, en hier is die interessante deel: met die tyd begin ’n mens vrede maak met hierdie vreemde ritme. Slaap is nie meer eenvoudig nie – nie soos in jou twintigs, wanneer jy gaan lê, slaap en opstaan in ’n sekere patroon nie. Dit word eerder ’n gesprek of ’n dans tussen jou en jou liggaam. Soms begin die dans te vroeg. Soms begin hy te laat. Soms kom hy eers as jy al lankal vergeet het van die dans.
Snags, wanneer die huis stil is en die maan die vloere silwer verf, sit ek regop en luister na die naggeluide. Dit is ’n soort stil uur, een wat jou nie straf vir wakker wees nie. ’n Mens onthou. ’n Mens dink. ’n Mens kyk terug sonder bitterheid en vorentoe sonder vrees. As die slaap my dan vind, is daar iets sag daarby – iets wat ek vroeër jare nie geken het nie. ʼn Soort stil dankbaarheid.
En as ek nie slaap nie? Dan rus ek steeds. Want rus is vir my meer as net slaap. Dit is oë wat stil in die verte staar, hande wat nie werk nie en ’n hart wat rustig klop.
Slaap kom, soos alle goeie dinge, wanneer hy reg is.
En wanneer hy uiteindelik wel sy arms om my vou, voel dit soos ou, bekende beddegoed en sagte dagbreek – ’n herinnering dat selfs die nag ook sy eie troos bring.
En so fluister ek, elke aand, sonder haas:
“Slaap, jou soete ding.”
Al kom hy laat. Al bly hy kort. Hy kom mos nog steeds — en ek is hier om hom te ontvang.
©MarleneErasmus
21/11/2025
(1238 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek