Kersfees; van “groot-oog wag” tot gryse wysheid.
As ons Kerstyd nader laat dit my altyd dink aan ’n tyd – miskien was dit net gister, miskien veertig jaar gelede, toe Kersfees by ons huis begin het lank voor Desember. Meeste van ons kinders was nog klein, vol opgewondenheid en so seker dat Vader Krismis bestaan. Ons het gewoonlik die kersboom vroeg opgesit, nie omdat ons so goed georganiseerd was nie, maar omdat die kinders reeds op die eerste warm Novemberdag aangekondig het:
“Dit is tyd vir die kersboom en liggies!”
En net daar het die seisoen vir ons gesin begin:
Briefies in kinderhandskrif, liggies wat skitter in die nag – net soos ’n hond wat elke jaar probeer het om die plastiek kersballetjies in die hande te kry! Hy was doodseker daarvan dat dit vir hom bedoel was.
Oukersaand het die gesin se opwinding hoogty gevier! Reeds vroegmiddag is almal kamer toe gejaag om bietjie te rus om die aand tot twaalf uur wakker te kan bly. Van slaap was daar nie veel sprake nie, kort-kort het kinderlaggies deur die gang gesweef. Daar is lekker eetgoed gemaak en foto’s geneem om die herinneringe vir later te bêre. Die fotosessie was lank en vol pret.
Vroegaand is daar voor die venster stelling ingeneem om die straat dop te hou. Almal wou ’n glimps van Kersvader kry indien hy hom wou laat sien.
Dan is die liggies aangeskakel en soos kinders nou maar is, kon jy die afwagting op die gesiggies sien.
“Ma, dink Ma Kersvader sal weet ek het vir hom koekies onder die boom gelos? Sal hy ons briefies vind? Dink Ma hy hou van gemmerkoekies en melk?”
Die jongste met haar groot ronde, glinsterende oë het vrolik gebabbel:
“En as hy honger is en alles opeet? Moet ons nie nog sjokolade ook vir hom los nie?”
Ons het natuurlik saam gespeel, want ouers word nooit oud vir kersfeesplesier nie.
“Moet ons nie ’n wortel vir die rendiere ook neersit nie?” het my man dan gevra. “Kyk, die arme goed vlieg die hele nag om hier by ons uit te kom!”
En so het ons ’n paar wortels langs die koekies gesit. Soms, laatnag, moes ons onthou om die wortels net genoeg te kou sodat dit lyk asof ’n denkbeeldige rendier daar was. Die kinders het die volgende oggend gegil van opgewondenheid:
“Hy WAS hier! Kyk sy tande se merke!”
Ek het vinnig na my man geloer, sy mondhoeke vol krummels, en geweet: ja, hy het sy deeltjie gedoen.
Die geskenke was soms oorvloedig. Kerspapier het soos sneeuvlokkies neer gefladder. Die vloer het gelyk soos ’n slagveld van lint, geskenkpapier en leë speelgoed verpakking. Daar was altyd een wat batterye gesoek het, en altyd ’n geskenk waarvan ons nie kon onthou wie dit gekoop het nie.
En tussen die chaos het ons heerlik saam geëet, gesing en die kinders het met ster-oë ingeval as ons Kersliedere begin sing het, al het die jongste altyd die refrein van drie liedjies deurmekaar gesing.
Maar tyd stap aan, die kinders word groot en Kersfees het ongemerk begin verander.
Daar kom ’n eerste dag wanneer die kinders nie meer vra hoe Vader Krismis in die skoorsteen pas nie. Wanneer die vrae heelwat meer filosofies raak:
“Hoe weet ons Hy ís gebore? Wat beteken dit werklik?”
Net soos dit, het ons fokus stadig verskuif.
Die groot geskenke het kleiner geword, en die betekenis groter.
Oukersaand was nie meer net koekies, wortels en geskenke nie, maar:
* Bybellees aan die tafel,
* die ou Psalms en Gesange boeke oopgeslaan,
* ’n gebed vir vrede,
* en gesigte vol nadenke eerder as net sjampanje en confetti.
Ons het saam gesing – soms bietjie van die noot af, maar altyd met mening:
“Stille nag, heilige nag…”
Die kinders het hul liedere uit die Psalms en Gesange aangepak met dieselfde entoesiasme waarmee hulle destyds uitgewerk het hoeveel rendiere ’n slee nodig het om Namibië te bereik. Soos die jare verby gegaan het, het Kersfees ’n dieper betekenis gekry – ’n soort heiligheid sonder om die herinneringe van vroeër heeltemal te vergeet.
Nou, ná sestig, is die huis weer stiller – maar die herinneringe sing steeds in elke vertrek.
Na ontbyt op die Kersdag kyk ons na die kersversierings wat nou maklik hanteerbaar is. Ons dink aan daardie nagte van min slaap en baie opwinding. Ons onthou plastiek gewere, popmeubels en “Mamma, ons is te opgewonde om te slaap!”. Ons lag oor die keer toe die hond die plastiek honde-been opgeëet het en ons tot April nie geweet het wat van sy geskenkie geword het nie.
Dan word dit weer stil – die soort stilte wat vol is van vrede, die soort wat sê:
Kersfees is nie net nog ’n aardse ritueel nie, dit is elke jaar ’n “onthou” dat daar vir ons ’n Verlosser gebore is in ’n stal in Bethlehem.
Nou sing ons saam:
“Kom alle getroues…”
Nie omdat die kinders almal by ons aan tafel is nie, maar omdat die betekenis dieselfde bly.
En ná die “Amen” kyk ons mekaar sag met ’n glimlag aan:
“Onthou jy nog toe hulle met groot oë gewag het op Vader Krismis?”
Ja… ons onthou.
En dit bly mooi.
Dit bly Kersfees.
©MarleneErasmus
27/11/2025
(858 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek