Die essensie van sleurtake (618 Woorde)
Ek het ‘n paar jaar gelede op ‘n video afgekom wat handel oor die belangrikheid daarvan om jou bed elke oggend, sonder uitsondering, op te maak. Ene Admiraal William H.McRaven van Amerika was aan die woord en hy het ‘n hele paar voordele van bed opmaak voor die dag begin, met selfvertroue en gesag voorgehou. Die beginsel is kortliks dat dit die eerste taak van elke dag is, wat jou motiveer om meer en meer deur die dag te doen. Die gevolg hiervan is dat daar baie vermag is deur die dag en dat jy, deur jou bed op te maak, ook meehelp om die wêreld ‘n beter plek te maak vir almal. Die boodskap is dus duidelik: ‘n alledaagse, roetine sleurtaak is baie meer as net dit.
Ek stem saam met Admiraal McRavon, maar wil tog my persoonlike, noodsaaklike sleurtaak byvoeg: die regpak van ‘n kas (net nie elke oggend voor werk nie, asseblief!)
Ek het nog altyd ‘n ding met ‘n kas. Die verskillende style, vakmanskap, houtsoorte en praktiese sowel as estetiese waarde daarvan word in een oogopslag waargeneem deur my verlangende oog. Ek kan geen kas of kassie weerstaan nie…hoe ouer, hoe beter. Ek het egter ongelukkig ‘n baie praktiese, minimalisties-georiënteerde man. Wanneer hy sê: “Wát gaan jy daar binne sit en wáár gaan dit staan?” beteken dit nee, jy kan nie die kas kry nie. Ek vertroetel dus nou maar die kaste wat ek wel besit.
Alhoewel dit ideaal is om mens se kaste skoon, netjies en ge-orden te hou, is dit tog ook goed dat dit deurmekaar raak. Vir my is die uitpak van items, skoonmaak van die rakke en terugpak van die inhoud, werklik terapeuties. Soms verskuif ek een kas se inhoud na ‘n ander kas en word daar sommer twee kaste gelyktydig reggepak!
Wanneer mens ‘n kas regpak, vind jy weer ou foto’s en ander kosbaarhede, waar dit in veilige bewaring lê en selde raakgesien word. Dit doen die siel goed om dan weer daarmee te vertoef en dit selfs op ‘n oop rak te gaan uitstal, waar jy meer dikwels daarna kan kyk.
Daar gebeur ‘n ander wonderlike ding met my wanneer ek kaste regpak: my gemoed en denke word ook tussendeur ge-orden. Wanneer ek eers aan die gang is, loop my gedagtes ver paaie, terwyl my hande woel en werskaf. Dit gaan maak ‘n draai by my oorlede ouers en ek stort ‘n traan van verlange. My kinders meld onverwags koplangs aan en ek is weer dankbaar en trots op die lieflike volwassenes wat hulle vandag is. So met die uithaal en eenkant neersit van sommige goed wat ek wil weggee of weggooi, klim die alewige negatiewe gedagtes ook op daardie hopies. Die skroplap in my hand beweeg heen en weer oor die rakke, maar dit wil al vir my voorkom dat die kas in my kop, waarin ek alles en nog wat stoor, ook sommer ‘n goeie skrop en skoonmaaksessie deurmaak. Soos wat ek hopies items weer terugpak in die netjiese skoon kas, voel my gedagtes ook weer vars en georganiseerd. Bekommernisse is afgewas en lyk baie ligter en minder dreigend, terwyl die warboel van malende gedagtes en oordinkery nou netjies lê en wag om uitgesorteer te word.
Ek gaan beslis nooit die geleentheid kry om ‘n indrukwekkende toespraak te lewer oor kaste en hul lewenslesse nie. nog minder gaan hierdie skrywe versprei op sosiale media, baie mense kennis neem daarvan en kas regpak in ‘n ander lig sien.
Ek sal sal wel voortgaan om hierdie sleurtaak te beoefen én dit te geniet. Ek sal steeds ná elke regpaksessie (naby die kas) gaan ontspan met ‘n koppie koffie en my verlustig in die lekkerte van ‘n vars-reggepakte kas en kop.
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek