Eden Goud 1105 Woorde
“Hoe vêr nog Pa?”
Klein San-Marie vryf haar enkels. Dit is nou al drie weke van ongenaakbare son. Die bandana om haar neus en mond ruik al na sand en stof. Sy trek die breërandhoed oor haar oë. Die son is ekstra skerp vandag. Spikkels snork liggies toe sy aan die leiband pluk. Hy slurp dorstig die koel water uit die bakkie wat San-Marie na hom uithou. Dan sleepvoet hulle verder die onbekende in.
Hans vou die kaart oop. Volgens aantekeninge behoort hulle binne die volgende dag of twee die kruis op die kaart te bereik. Ongetemde land. Eden. ‘n Nuwe begin. Mag dit alles wees wat sy Oupa Gert belowe het. Die kaart was die enigste erfstuk wat aan hom toevertrou was. Die res is deur gulsige kleinkinders opgeraap en op veilings verkoop vir drank geld. Oupa Gert het hierdie leersakkie die aand voor sy dood in Hans se hande gedruk. Hans het dit in sy baadjiesak versteek. Terwyl die ander soos wilde honde oor aardse goed baklei het, het Hans en sy gesin die wa gepak en laatnag in die pad geval. Niemand sou in elk geval na hulle kom soek nie. Swartskape. Uitgeworpenes. Te arm om deel van die familie te wees. Oupa Gert het geweet.
San-Mari vryf haar arms. Die luggie is koeler vanmore. Die son vlek rooi-oranje op die horison. Sy stoot ‘n paar ekstra kole onder die ketel in. Die kamp ontwaak. Hulle voorraad raak minder. Tog glo en vertrou sy dat haar pa die regte besluit geneem het. Hy was maar altyd Oupa Gert se oogappel. Oupa Gert het belowe dat daar eendag vir hulle ‘n uitkoms wag. Hy was ‘n dromer en het altyd stories vertel oor sy jong dae as swerwer en ontdekkingsreisiger. Niemand het hom ooit geglo nie. Totdat hy die kaart aan pappa oorhandig het. Pappa was die enigste persoon wat Oupa ten volle vertrou het. En nou volg hulle blindelings Oupa se opdrag.
“Daar wag ‘n nuwe lewe op julle. Los als. Trek.”
Die wa kreun oor die klippe. Vir drie weke was dit sand en stof. Nou verander die landskap om elke draai. Die bandana hang los om San-Marie se nek. Plek-plek beur daar ‘n groenigheid deur die klippe. Die horison verkleur van vaal bruin na ‘n mistige blougroen. Van vêr kan Hans die kliprantjie se kartel uitmaak. Die kaart wys ‘n skerp draai na regs en dan ‘n soliede rots struktuur, maar ook dat hulle deur daardie struktuur moet begweeg? Hy skud sy kop. Ai Oupa Gert! Tog beur hy voort. Oupa het ‘n rede gehad.
Spikkels staan dikgevreet in die skadu van ‘n yslike boom. Die takke vorm ‘n tipe sambreel en die blare is hartvormig en olyfgroen. Hans het nog nooit tevore hierdie tipe boom iewers sien groei nie. Die mos vorm ‘n sagte bed onder die blaredak. San-Mari het ‘n stroompie ontdek waar sy die watervoorraad kon aanvul. Pappa sê hulle sal teen laatmiddag hulle bestemming bereik. Sy is moeg. Mamma en boet lê agter op die wa. Boet is maar net 8 jaar oud. Tog help hy wanneer hulle hout aandra en wanneer pappa wild slag wat hulle in wippe vang. Sy sou wat wou gee om net weer ‘n soet vrug in haar hande te hou. Spikkels ruk nog ‘n bol sappige gras uit die grond. Sy sweer die perd glimlag terwyl hy kou.
Hans staan voor die soliede krans. Sy moed in sy skoene. Wat moet hy nou vir sy vrou en kinders sê. Hy sak sy ken op sy bors. Dan sien hy dit. Klein. Rooi. Die fyn strepie skaars sigbaar onder die donker wortel van die slingerplant. Hy lig die wortel met die punt van sy skoen. Die pyltjie wys vorentoe. Die Slingerplant se ranke beweeg effens toe hy daaraan stoot.. Dan voel hy die opening. Hulle kan met gemak om die digte slingerplante beweeg. Hans en San-Marie trek saam aan die plante terwyl Spikkels die wa deur die opening trek. Mamma en boet stoot die wa van agter af. Die dik plante val weer netjies in plek toe hulle deur is. Afgesny van almal. Die deur na hulle verlede nou toe. Die kranse vorm ‘n nou steeg en hulle kan nie omdraai nie. Hier moet hulle nou net vorentoe.
Stadig maar seker word die pad al wyer. Hulle hoor die gekabbel van water. Voor hulle word die pad versper deur ‘n watergordyn. Hans waag dit eerste. Dan roep hy opgewonde na die res van sy gesin. Voor hulle lê ‘n groen oase. Bome vol in bot. Voltros vrugte wat lyk soos die swart Hanepoot druiwe wat Oupa Gert in die agtertuin geplant het. Hierdie vrugte lyk meer soos vingers, langwerpige korrels wat blink in die son. Die soet reuk van laventel en Jasmyn hang soos sagte mis rondom hulle. Die vallei lê in ‘n perfekte kom. Dan sien hulle dit. ‘n Dun strepie rook wat soos ‘n slang uitkartel na bo. Hans frons. Is hier dan tog mense?
Versigtig beweeg die geselsskap na onder. ‘n Hond blaf. Hoenders skrop tussen die welige oorgroei van die woud. ‘n Ouerige dame kom hulle tegemoet.
“Hans! Julle is uiteindelik hier.”
Hans kyk verbaas na die ouer vrou.
“My magtag tant Grieta, Oupa Gert het gesê julle en die Noormans het in die Kaap agtergerbly. Hoeveel jaar is dit nou?”
“Ons het Eden saam met jou Oupa Gert ontdek Hans. Ons het besluit om hier vir ons ‘n lewe te bou en Oupa het belowe dat hy die kaart net aan jou sal gee met sy dood. Ek aanvaar dus dat my broer nou by ons Vader is. Jou broers en suster sou hierdie plek verwoes het. Jy was nog altyd die omgee kind. Eden is jou erfporsie Hans. Jy en jou nageslag sal hier ‘n toekoms bou. Kom ek gaan wys jou die huis wat Oupa Gert met sy eie twee hande vir julle gebou het.”
San-Mari rol die volryp perkse in haar hand. Dit is nou reeds 5 jaar sedert hulle hul intrek in Eden geneem het. Pa Hans en die Noormans se seuns het die ingang na Eden nou goed verbloem. Van tyd tot tyd gaan hulle na die naaste dorp vir proviant. Suiker. Tabak. Linne. Verder word als self hier in Eden gekweek, geteel en gebou. Eden is ‘n ware paradys. Vrugte is volop en dwarsdeur die jaar bekombaar. Die sade wat Oupa Gert vir hulle in die houthuis gelos het, het gesorg vir goeie oeste. Haar hand beweeg na die ronding van haar maag. “Eden is ons tuiste” fluister sy. Sy glimlag toe die klein lyfie saggies teen haar handpalm beweeg.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.