Stilte
Ek voel haar fluister
in die wiegie van die wind
roep sy my tot introspeksie
hoe stil is stil?
laat ek jou vertel:
stilte is ongeskrewe woorde
wat geen mens kan skryf nie
jy hoor haar stem
soos winkende hande* roep
haar nostalgie deur die gras proe
haar heimwee in die trane
van die donderstorms sien
haar spore oor die duine
voel jy haar aanraking
in die waaisand van vergifnis
ruik jy haar asem
sy skuif die gehardste duine
en verander die watergate
in spieëls van introspeksie
stilte is nie die afwesigheid
van klank nie
stilte is
waar realiteit genoeg moed kry
om gehoor te word
——–oooOooo——
©Pieter Mostert
(* Interteks uit Winternag van Eugene Marais)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.