Leopold se appels
Leopold se Appels
Groot grashoed met sy rooi-grys blokkieshemp, denim en oorpak.
‘n Welopgevoede man, mooi gebou. Sy spiere laat die nooiens se bene vou.
Bruin gebak deur die son, staan Leopold elke dag krom in die boord.
Met appels betaal hy sy brood, voorsien hy vir sy gesin.
Pa van vier, leef hy elke uur van die dag. Stil sit bestaan nie in sy woordeskat nie.
Hy sê: “Rus is vir die dooies. Sweet is gemaak om met jou hande te betaal.”
Elke dag werk ek in die boord van goed en kwaad.
Daar kom soms goeie oes. Ander jare het die vlieë dit verwoes.
Die volk vermoed die goed en kwaad gaan oor daardie nag toe hy nog te veel wyn kon vat.
Teen die krans het hy die motor gerol. Die lewe het sy vrou op slag kom neem.
Al het hy die wyn gelos, sien jy steeds die las in daardie mooi bruin oë.
© Ryno du Plessis 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.