…TOE GLIMLAG JY
Die son gly-skuur weer sy vingers oor die geëelte kranse
en kom soek skoor by my voorstoep
met sy soetstroop goud beloftes
en sopnat blare toegevou in hoop
Die winter se weggooi blare
draf met giggel laggies voor die oggend se windvingers
oor my wit gerypte grasperk
en verdwyn by die plaashek soos ʼn meerkat in sy gat
Toe glimlag jy…
en ek trap ʼn trappie mis met my terugkyk
in die oopvou van jou glimlag
met jou hande in jou voorskoot toegevou
Die son kraak die nag se ys glimlag oop
terwyl die skaaphond op die bakkie lag en wag
en voerlande stoei onder die ryp van die oggend
en jy glimlag om te sê dit’s reg
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.