Afrikaans práát met my! (Goud) 320 Woorde
Myne. Ja, mýne! Mý Afrikaans.
Soos ‘n baba oor sy bersie en ‘n hondjie oor sy been. Dít is hoe ek voel oor my Afrikaans. Ek waak jaloers oor my moedertaal wanneer en praat en wanneer ek skryf. Perfekte woordeboek en sprelreël-Afrikaans gebruik ek beslis nie, maar ek beledig nie my taal, toegewyde oud-Afrikaansonderwysers óf voorouers deur te praat en skryf in die hedendaagse sms-taal nie. Ek gaan nie “saam iemand” iewers heen nie en ek laat nie al wat ‘n lidwoord of voorsetsel lui-lui weg in my gesprekke en skrywes nie. Ek stel my dus ten doel om die taal waarin ek daagliks kommunikeer, mooi op te pas en mense wat dit nie doen nie, liggies te betig. Ek is al in my lewe ‘n taalsnob genoem, omdat ek iemand reggehelp het. Aanvanklik was ek diep geaffronteer én bekommerd oor hierdie ongevraagde titel wat aan my toegedig is. Later het ek dit vergeet en verder gepraat en gestry saam met my mede taalsnobs om ons Afrikaans te beskerm.
Nie alleen praat, dink en skryf ek in Afrikaans nie, maar my Afrikaans praat ook met mý!
Ek hoor haar in my alledaagse handel en wandel. Sy praat met my deur die pasgebore lammetjie se dom ogies. Sy maak my hart week wanneer ek ‘n vet babawangetjie streel en wanneer ek die skugter vertroue in ‘n dier na wie ek uitreik, sien. Wanneer ek opkyk na die majestieuse berge, saamgeskraap deur twee Vaderhande, roep my Afrikaans my toe vanaf die hoogste pieke. Sy eggo deur die klowe, koggel die swewende arend en lag klokhelder tussen die branders en rotse. Lig ek my oë na die horison, fluisterroep sy en kan ek my vingers oor my sleutelbord laat sak en haar boodskap neerpen. Haar strelende stem noem my naam wanneer ‘n donsveer onverwags sy lêplek op my lessenaar kry en waar ‘n doudruppel diamant-mooi hang net buite my venster.
Afrikaans is my moedertaal, my erfenis, my woordvriendin…sy is mý Afrikaans.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek