Nog ‘n pakkie tyd (Goud)
die tyd het aan my deur kom klop
net na middernag gisteraand
deftig uitgevat met pluiskeil en manel
staan hy op my drumpel
om sy storie te vertel
ek nooi hom in vir koffie
maar sit die wou hy nie
hy’s bietjie besig so sê hy
en die ritme in sy houding
tik hier reg voor my verby
sy storie was nie lank nie
net ‘n tyding wat hy bring
dit was eintlik soos ‘n droom
waar die wakker-word sy aandeel
van gemengde denke bring
hy’t ‘n pakkie hier gelos
hy sê dis ‘n bietjie van homself
dis “hoogs breekbaar” gemerk
in groot genade toegedraai
en ek moet saggies daarmee werk
nou staan ek hier en hy’s reeds weg
dis donker en ek’s moeg
die pakkie op die tafel
lyk kleiner as laas jaar
en sy storie oor my lening
het my heel nag aan die wroeg
Andries Fourie
(Seirdna)
21.09.2023
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek