Aggregaat (Opdrag 8)
Doel
Aggregaat beteken geheel. Die Aggregaat is ‘n digstyl in vryevers digvorm wat ten doel het om intense emosie (pyn, liefde, haat, dankbaarheid) weer te gee. Die intensiteit van die emosie word versterk deur die eenheidsvorm van die gedig.
Struktuur en vereistes.
1. Die Aggregaat-digvorm is nie langer as 20 reëls nie.
2. Die digvorm maak gebruik van enige digstyl. Daar kan dus oop ruimtes wees om aan te dui wat die gedig se styl (bv. kwartyne) is, maar daar mag geen onderbreking in die sin wees nie daar dit van die een reël na die ander moet oorloop (enjambemente).
3. Die gebruik van die enjambement in elke reël van die gedig het ten doel het om die verse tot ‘n eenheid te bind en die eenheid te behou. Dit bevorder ook die leestempo en ritme asook die progressie en vloeiendheid van die gedig.
4. Die herhaling van dieselfde woord in ‘n daaropvolgende reël, of van die herhaling van ‘n woord met dieselfde betekenis in ‘n daaropvolgende reël, moet ten minste een maal in elke strofe voorkom om die emosie te versterk.
5. Die gedig moet afgerond word met ‘n koeplet wat die diep emosies van die digter saamvat.
Argelose saad
gebreek
gebroke, verniel
verwater, afgeskaal wie ek is of
wie ek wil wees in jou volmaakte teenwoordigheid in
jou heilige teenwoordigheid is ek dom en onbeholpe as
jou skadu oor my val is ek net ‘n buitelyn ‘n
stippellyn wat soos niks uit jou lewe gevee word al
het ek getrou gesaai met goeie saad is my oes turksvye
turksvye wat steek in my hande my
bloeiende hande
hande wat ek uitgestrek hou na jou vir genadewater maar jy
kyk verby my, verby na vêrre horisonne daar waar ek nie is as
ek met jou praat, verstrak jou mondhoeke as ek aan jou
raak skram jy weg en steek jou dorings diep
diep in my priem jy my oop in verborge bloedfonteine want jy
het my geweeg en my ongeskik bevind tog
is jy my ma ek,
ma se kind
© Evanthe 2018
8 Kommentare
-
Callie Vermeulen
WOW ene Evanthe - Pragtig en goeie skepping.
-
Viooltjie
Goeie werk, Evanthe 😃
-
Loretta Szikra
Sjoe Evanthe, waarlik diep emosies in 'n pragtige skepping.
-
Loretta Szikra
Ek moes hierdie gedig weer lees, dit raak waarlik baie diep aan n mens Evanthe - jy het my n groot knop in die keel besorg. Goeie werk! 😢😢
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie