ALLETTA BOONZAAIER HFSTK 7
Ek dink ek het te seer gehad om op te let waarheen is Cindy werklik met my oppad en toe ek weer sien stop sy voor ma Aletta se huis. Sy wip uit die Land-Rover uit en hardloop om na die linkerkant toe om my uit te help. Ek probeer nog maar dit is te seer. Gelukig kom ma Aletta uit die huis uit en met n gil storm sy nader om ook te help ondersteun.
“Aarde Cindy, wat het die man getref”, wil sy dadelik weet.
Terwyl ek op hulle twee leun vertel Cindy in kort wat gebeur het en dat Gert nie veel beter lyk nie.
In die huis is dit spaarkamer toe en moet ek op die bed gaan lê. Ek word gehelp om my hemp uit te trek en ek hoor hoe hulle hulle asems intrek en is ma Aletta die eerste een wat to verhaal kom.
“Liewe aarde Melt maar die man het jou omtrent verniel. Jy is dan vol blou kolle op jou lyf. Ek gaan gou warm water haal en ons moet jou gesig ook weer dokter”.
Terug met die warm water word ek afgespons en met my gesig weer gedokter sit-lê ek teen die kussings en moet ek nou my kant van die storie vertel.
“Ek het na sy onbeskofte gedrag teenoor my net agter hom aangestap stoor toe en hom reguit gesê ek wil met hom praat oor sy suster en dat ek haar seun is. Hy het ma Aletta begin skel vir n hoer en my n hoerkind genoem. Dit was vir my net te veel en toe storm ek hom. Die gevolg van hierdie stormloop sien julle nou”.
Ma Aletta sku haar kop en sit haar hand op my arm neer: “Melt as jy my in die eerste plek gesê het dat jy gaan sou ek jou gekeer het want ek weet Gert is onversetlik. Ek het al vrede gemaak met die gedagte dat daar nooit n versoening sal wees nie. Pla my nie meer nie, hy moet maar met sy gewete saam leef. Ek gaan nou vir ons ete maak, Cindy kan hier by jou bly”.
Toe Aletta uit die kamer is trek Cindy n stoel nader en kom sit by my. Sy kyk my diep in die oë en met haar vingers wat so liggies oor my arm dartel gee sy haar mening: “Melt ek is trots op jou. Jy het jou en jou ma se eer verdedig en dit wys my mos jy is n man van my drome”.
So lekker warm gevoel trek deur my en dan bloos Cindy bloedrooi toe sy besef wat sy gesê het.
“Dankie Cindy”, kry ek darem so tussen my seer lippe deur terwyl ek haar hand in myne neem en n drukkie gee. Nog blyer word ek toe sy nie haar hand terugtrek nie.
Iets wat my pla is hoe het sy en Colleen geweet om te kom kyk wat aangaan en vra ek so skewebek om nie te seer te kry nie: “Hoe het julle geweet om stoor toe te kom”.
“Ek het vir Colleen vertel wat jy kom doen het. Sy het alles net so gelos en vir my gesê; “Kom Cindy dat ons gaan keer. Hulle gaan mekaar vermoor want Gert gaan rusie soek. Jy weet Aletta is n taboe onderwerp hier. Die res van die storie ken jy”.
Omdat ek nie veel kan terugpraat nie sit ons maar so en handjies vashou tot ma Aletta met n skinkbord vol slaaie en n stukkie vleis terugkom en Cindy haar hand ewe skamerig terug trek.
Ma Aletta glimlag toe sy dit sien maar lewer geen kommentaar nie. Die skinkbord word op my bene staan gemaak en word Cindy aangesê om my te voer.
So onder die voerproses merk ma Aletta op: “Melt ek is vies oor wat gebeur het maar ek is ook trots op jou. Jy sal maar n dag of wat in die bed moet bly lyk dit my”.
Nadat ek gevoer is kom ma Aletta met n glas water en pynpille: “Hier drink dit en dan rus jy bietjie”.
Sy gaan sit op die ander stoel en het ek nie n keuse nie, ek moet maar drink. Ek besef te laat dat sy moes n slaappil bygegee het want toe ek weer voel raak ek lomerig en gly weg in droomland.
Ek skrik laat middag wakker en voel die pyn het bietjie bedaar. Ek is alleen in die kamer en dit is doodstil in die huis, duidelik is Cindy nie meer daar nie.
Asof gestuur kom ma Aletta die kamer n paar minute later binne: “En toe, het John Wayne ontwaak. Hoe voel jy Melt, die pyn darem bietjie bedaar?”.
Ek knik my kop en vra: “Waar is Cindy?”.
“Sy is huis toe met jou Land-Rover. Sy moet darem seker gaan vertel dat sy veilig terug is en sy sal nou weer kom jou verliefde vent”.
“Sy beter vinnig kom dat ek haar kan gaan aflaai en huis toe gaan en ek is nie verlief nie”, en met die kom ek orent om op te staan. My lyf wil nie saamwerk nie en met n pynkreet sak ek terug op die bed”.
Ma Aletta bring weer vir my twee pynpille en terwyl ek dit drink hoor ek haar sê: “Melt jy sal maar more in die bed moet bly dat daardie lyf van jou kan rus. Jy kan nie daar op jou eie gaan bly nie. As jy moremiddag beter voel kan jy huis toe gaan maar eers bly jy hier”.
Sy staan hande in die sye en gluur my heel kwaai aan. Ek gee boedel op en antwoord nie, sal maar so maak.
Ek dink ma Aletta is oor die ergste skok en toe sy by my op die bed kom sit trek sy los: “Melt wat het jou besiel om met Gert te loop moeilikeid soek. As Cindy en Colleen julle nie gekeer het kon julle mekaar dood geslaan het”.
Pynlik antwoord ek: “Niemand skel my ma uit vir n hoer en vir my as n hoerkind nie”.
Aletta skud net haar kop en vat my hand in hare: “Moet sê ek is trots op jou. As ek n man was sou ek dieselfde gedoen het”.
Ma Aletta kry so veraf uitdrukking in haar oë: “Melt ek en Lukas het mekaar opreg lief gehad. Ek het myself vir hom gegee omdat ons mekaar so innig lief gehad het en jy is die produk wat uit daardie liefde gebore is. Ek wonder baie dae wat sou gebeur het as ons toegelaat was om met mekaar te trou, al was ons so bitter jonk”.
Ma Aletta swyg so paar oomblikke en vertel dan verder: “Hy het toe gaan studeer vir n dokter, later chirurg. Dit is at vir my die bitterste is, dat my hoop dat hy na my toe sal terugkom na sy studies voltooi is en ons ons kind kan gaan soek, verpletter is toe ek hoor dat hy Amerika toe is en data met n Amerikaanse vrou getroud is.
Ek kry haar innig jammer en skielik is ek bly dat ek n ligpunt in haar lewe kan wees toe ek my Land-Rover langs die huis hoor stop met nog n kar agter haar
n Paar oomblikke later kom Cindy ingedartel met haar ouers op haar hakke.
Haar pa is die een wat my laat glimlag met sy opmerking: “Ek moes kom kyk, het nie gedink ons het ons eie John Wayne nie”.
Haar ma trek haar asem in: “Liewe aarde maar jy is omtrent verniel”.
Aletta staan op en verdwyn om vir ons koffie te maak en moet ek die hele storie weer oorvertel.
Toe ma Aletta terugkom met die koffie en almal geholpe is begin Koos Cloete vertel: “Ons was van die begin af teen Colleen se huwelik met hierdie man gekant maar sy het haar eie kop gevolg. Vandag breek dit my hart om te sien hoe hy my dogter verniel het”.
Koos neem n paar slukkies koffie en gaan dan aan: “Ons gaan soms plaas toe terwille van Colleen maar glo my dit is ter wille van Colleen en die seuns. Ek is bly hy het n slag n loesing gekry en as hy soos jy lyk dan kry ek eintlik lekker in my hart”.
Koos neem weer n paar slukkies: “Ek dink sy bly maar net daar ter wille van die seuns. As dit nie vir hulle was nie sou sy lankal pad gegee het en sy weet my huis staan oop vir hulle”.
Tot almal hulle ry kry word daar nog bietjie om my bed gekuier en dan groet hulle. Cindy se afskeidswoorde laat my hart sommer warm klop en n piksoentjie op die voorkop laat die ekstase deur my are hardloop.
“Sien jou more ou grote en wees nou maar rustig in die bed”, en met n warm glimlag verdwyn sy.
Ma Aletta kuier tot laat aand by my en toe sy my nag sê kan ek nie aan die slaap raak nie. My gedagtes hardloop rond en dit is toe dat ek besluit dat ma Aletta nog heeltemal jonk genoeg is om weer geluk in haar lewe te vind. Ek moet net n geskikte kandidaat kry om aan haar voor te stel. Sy is immers n mooi vrou en dit behoort nie te moeilik te wees om die regte man in haar te laat belangtel nie, die vraag is net waar kry n man n ongetroude man van haar ouderdomsgroep. Met hierdie gedagte raak ek uiteindelik aan die slaap.
Ek word die oggend vroeg wakker gemaak met n heerlike koppie stomende koffie en dit is toe wat ek besluit om hierdie onderwerp aan te raak nadat sy verneem het hoe voel ek.
Moet sê die nag se rus het my goed gedoen en terwyl sy by my op die bed sit met n koppie koffie raak ek die onderwerp aan: “Ma, dink ma nie ma is nog jonk genoeg om iemand te ontmoet en gelukkig saam met hom te wees nie. Ma is tog mooi genoeg om n man se voete nog onder hom uit te slaan”.
Ma Aletta bloos bloedrooi: “Jy is nou sommer laf Melt, jy weet ek stel nie belang nie en ek het jou al vertel hoekom nie”.
“Ja ma maar daardie rede bestaan nie meer nie”, antwoord ek.
Ek kry ook ontbyt in die bed en raak die onderwerp nie weer aan nie maar ek het vas besluit, ek gaan vir haar n maat soek, sy is darem na al hierdie jare geregtig daarop.
Cindy daag so bietjie later die oggend op en toe sy die kamer inkom is die eerste vraag: “Hoe gaan dit met John Wayne vanmore? Voel die lyf al beter”.
Ek glimlag vir haar: “Beter dankie. Sal more weer topfiks wees”.
Ons kuier maar die oggend so saam maar teen middag ete voel ek dat ek nou moeg vir die bed is. Ek staan op, nou nie die maklikste nie, maar kom darem orent en na n heerlike stort voel ek goed genoeg om saam met hulle middag ete aan tafel te geniet. Ma Aletta se hoendergereg en slaaie is uit die boonste rakke en nadat hulle skottelgoed gewas het gaan ons sitkamer toe aar ma Aletta vir ons bietjie op die orrel speel. Cindy sit styf langs my op die rusbank en ons hou handjies. Moet nie fout maak nie ma Aletta sien dit en glimlag van oor tot oor. Al wat sy n slag opmerk is: “Hier kom n ding”.
Ons kuier tot laat middag en toe Cindy groet word ek met n warm soen gegroet voordat sy blosend in haar kar klim om huis toe te gaan.
Ma Aletta kom staan by my toe sy om die draai verdwyn. “Oulike meisie nè Melt. Siende dat jy nou vir my iemand wil soek mag ek seker ook iemand vir jou soek en Cindy is my kandidaat vir jou sy is in elk geval vrek verlief op jou en jy is ook maar erg verlief”.
Wat kan ek sê, stilbly is ook n antwoord maar al reaksie is dat ek rooi om die ore word want ma Aletta het raak geraai, net ek is teen kantoor romanses gekant. Kan net dink die geskinder wat dit gaan afgee as ek en Cindy n item moet word soos dit genoem word deesdae.
Ek sal moet versigtig wees en Cindy nie moet aanmoedig nie maar in my kop baklei dit, Melt ou seun, vergeet daardie een, jy gaan val vir haar, een of ander tyd.
Die Sondagaand voel ek goed genoeg om weer n slag huis toe te gaan en Maandag is ek by die werk, blou oog en al. Ek kom gou agter dat ek die onderwerp van bespreking vir die dag is maar steur my nie daaraan nie.
Niemand waag om uit te vra nie en ek gaan hulle nie vertel nie, babbelbek Cindy sou hulle in elk geval vertel het.
11 Kommentare
-
-
borrels
:-)
-
Evelyn van der Merwe
Ek ditto vir Louie, maar verstaan ook jou penarie met die 120 bladsye. Hierdie gaan in elk geval 'n treffer wees. Hou so aan.
-
Anze
Neels ek het heerlik gelees... ek voorsien sommer nog n hele klomp kinkels in hierdie verhaal
-
Kiekies
'n Lekker lees alweer. Ek hoop nie dis die einde van die geveg nie.
-
Ch Nel Venter
Geniet jou skryfwerk terdee dankie
-
Viooltjie
Lekker gelees, Neels. Ek dink Aletta verdien beslis 'n bietjie liefde in haar lewe :-)
-
Amaspoke
Pragtige werk, ek lees te lekker.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Louie
Ek lees lekker Neels. Vertel ons bietjie hoe lyk die ander ou