As flitspoeier ontplof
As flitspoeier ontplof
Vandag span jy osse, waar
ploegskare breek en draai
téén die dor gebeente van verset.
Môre verlang jy terug:
swart moerkoffie, varsgebakte brood
en plaasbotter,
beeste bulk in rooi Afrikaner stof.
Gister onthou jy die oes,
jy gooi woorde in die vuur
en sien hoe gesigte wroeg.
Oor ‘n leeftyd kyk jy heen:
die Doringboompie is nou boom,
jy bid en bring hulde –
Totius-VanWykLouw-Opperman
Krige-Jonker-KoosDoep-Krog
Want júlle het in die wind gesaai.
© Ernst Fernando dos Santos
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Inkmoderator
Ernst, dit is 'n besonderse gedig wat amper 'n odyssee word tussen die landskap en die woorde van, van die meesters. Ek vind niks hierin waarop ek krities kan fokus nie. Alles pas en vloei mooi. Ek wil tog vra: dink jy nie die laaste sin kon meer beteken (of sterker oorkom) as jy skryf 'in die wind' pleks van slegs 'die wind' nie? Dit is maar net terloops. Skryfgroete IM