
Bekende dokter laat ‘n bloedspoor deur Lynelle Clark
Sleepvoetend stap hy teen die helling af. Die bebloede byl sleep agterna en los ‘n donker streep op die pad. Die laaste uur se gebeure het hom uitgeput maar tog voel hy vars. Sy verstand helder en sy oë dwaal oor die bekende landskap. Soekend. Dan gewaar hy ‘n minibus ‘n meter van hom af. Met hernude krag tel hy die byl op en stap doelbewus nader waar die man met sy rug na hom ‘n wiel omruil. Met ‘n kragtige sweep van die byl slaan hy die lem in die man se rug vas. Hy val teen die bakwerk en chaos breek uit binne die bussie. Bloedstollende gille skeur die nag verder as ‘n oor op die grond val. Dié word gevolg deur ‘n arm en dan ‘n been totdat die kop eenkant toe rol. Oë starend, geskok met geen benul hoekom nie.
Die man grynsslag vir sy volgende slagoffer. Al wat hulle skei is die ruit van die minibus. Vinnig maak hy korte mette met die versperring deur die steel van die byl te gebruik en splinters skiet in sy slagoffer se gesig in. Soos spiese het hulle hul teiken getref: vlymskerp en presies. Die man is momenteel stil, geskok staar hy na die moordenaar en gil dan. Hy probeer nog keer maar die byl tref hom dwars oor sy gesig, wat in twee split. Bloed bespuit die moordenaar en hy lag waansinnig van genoegdoening en hou die insittendes dop wat behoorlik spring-val uit die voertuig om weg te kom.
‘n Kwêvoël versteur die nag verder en ‘n uil kyk met groot kykers na die gebeure. Hy draai sy kop amper 180 grade, self verstom wat hy sien. Die man volg die vlugtendes op ‘n gemaklike stap. Sy moegheid van vroeër nou heeltemal weg. Die grynsslag is permanent op sy gesig gemonteer, wreedaardig eintlik. Maar die ergste is die oë wat deur ‘n bloedwaas na die wêreld kyk. Van sy slagoffers se oorblyfsels kleef ook aan hom vas. Sy kaal borskas besmeer met bebloede-vingermerke soos hy sy hande al ‘n paar maal afgevee het. Die bloed taai en gekoek wat bydra tot sy “Grim reaper” beeld.
“Waar is hy?” gil ‘n vrou, en dan val sy. Verdwaas kyk sy om haar rond maar sien niks. Sy is alleen agtergelaat. Die mal man verskyn bo oor haar en giggel as hy die byl oplig.
“Hoekom doen jy dit?” Sonder ‘n woord bring hy die byl met ‘n kragtige hou op haar af. Sy koes maar die hou tref die kant van haar gesig. Sy voel hoe haar vel afgeskilfer word al langs haar wangbeen en haar oor val op die grond. Hare, bloed en vel meng met die aarde maar sy is nie bewus daarvan nie. Haar gesig vertrek in angs en pyn. Sy kyk hoe die byl weer af kom, haar bewegings traag. Haar kop word in die helfte gekloof asof sy ‘n boom is. Koud kyk hy na sy handewerk en kyk dan rond. Toe hy niemand anders gewaar nie keer hy terug na die pad en sleep weer die byl al agter hom, die pad af. Die teer skep ‘n onheilspellende klank so met die byl saam. Verbaas kyk hy na sy vryhand en sien ‘n onbekende hand waaraan hy nog vas hou. Hy bekyk dit met venyn as hy die trouring herken en grynsslag weereens. Hy bring dit nader, bekyk dit deeglik in die maanlig en ruik dan daaraan. Die reuk van dood maak hom gek en hy suig een van die vingers se bloed af. Smakkend lek hy die hele hand skoon en dan, wanneer dié skoon is, gooi hy dit die bosse in.
Hy volg die pad verder. Die eindbestemming onbekend. Maar vanaand pla dit hom nie. Hy wil soveel as moontlik saam met hom vat oor die afgrond tot in die vergetelheid in. Die lewe het hom ‘n streep getrek en hy het besluit om die lewe terug te kry. Tree vir tree marseer hy voort. Doelgerig, met sy gekose gereedskap van verwoesting wat hom getrou volg. Hy het so hard probeer om ‘n sukses van sy lewe te maak. Hy wou aan al die naysayers’ wys dat hy, wat Koos is, dit kan maak. Hy was goed op dreef ook. Die beste dokters praktyk in die stad. Die mooiste vrou in die kontrei, sy was immers Mej Sonneblom en toe Mej Kaapstad, gevolg deur Mev Suid Afrika. Die duurste motor het in die oprit gestaan voor ‘n imposante huis. Pragtige en talentvolle kinders. Alles was net reg. Maar toe moes hy haar mos betrap met Gert. Die hond. Hoe durf hy sy kloue in sy vrou slaan en dan ewe kordaat in sy praktyk instap asof hy sy plek besit. Not a damn. Dit was erg genoeg dat sy vrou by hom in getrek het twee maande gelede. Kort daarna het sy kinders ook by hom gaan intrek. Toe die eerste hou val het hy geweet hy wil soveel mense as moontlik seer maak. Nooit weer sal iemand iets van hom vat nie. Gert het roggelend nog probeer keer. Toe gaan sit hy op hom en gee hom ‘n paar klappe, net vir die lekker daarvan. Die swerkater wou nog pleit toe sny hy sy tong uit. Sy oë was smekend op hom gerig maar hy was doof en blind vir sy pleidooie. Nooit weer sal hy met hom praat nie. Hy wonder waar die feeks is. Hy wil haar mooi gesiggie oopkerf voor sy die tydelike met die ewige verwissel.
Hy gaan opeens stilstaan en staar voor hom uit. Hoekom lyk alles dan so wasig voor hom, wonder hy en vee oor sy oë. Maar sy sig word net swakker. En dan is dit pikdonker voor hom. Hy voel sommer pap en sink in vergetelheid weg. In die verte hoor hy iets en beur vorentoe.
“Koos!” Roep iemand hom en pluk aan sy been. Verergd klap hy dit weg. Hy wil nie uit sy komatose toestand geruk word nie. Hy wil daar bly totdat sy doel bereik is.
“Koos, word wakker!” roep die vrouestem. Onwillekeurig maak hy sy oë oop en kyk in sy mooi vrou se gesig, sentimeters van hom af. Sy hou sy een arm vas. Haar gesig bebloed.
“Dit is net ‘n droom Koos!” smeek-sê sy. Vies kyk hy na haar. Dan lig hy sy hand maar die voel swaar. Hy maak sy hand oop en iets val op die mat met ‘n plof geluid. Sy vrou probeer om weg te skuif, amper verboureerd. Hoekom sal sy bang wees vir hom? Hy kom penorent, lighoofdig. “Wat gaan aan met jou?” vra sy. Haar stem nou hees en dun. Hy kyk verstom na haar en dan na die chaos in die sitkamer. “Wat gaan aan?” vra hy verbaas.
“Onthou jy nie, Koos?” dan sien hy haar liggaam, die lê vermink voor hom. Weer kyk hy rond en stop by sy kinders – of wat oor is van sy kinders en huil onbedaarlik. Sy ruk weer aan sy broekspyp. “Bel die polisie, Koos. Kry hulp, asb.”
“Wat het gebeur, hoekom onthou ek nie.” Kerm hy en hou sy kloppende kop vas.
“Maar onthou jy nie?” vra sy swakkerig.
“Nee, wat?” trane begin teen sy wange afloop, niks maak sin nie. Kan dit wees? Sy droom is ‘n werklikheid en in afgryse neem hy die toneel in. Was hy regtig tot so iets instaat? Kon hy sy kinders vermoor? Die bewyse het nou voor hom geswem en sy gesig vertrek in pyn. ‘n Hartspyn wat hy nooit van genees kan word nie.
“Jy het hier ingestap en die kinders een vir een dood gemaak. Jy wou nie na rede luister nie. Ek het probeer om jou te stop maar dit was asof jy nie geregistreer het nie. Ek het jou nog nooit verneuk nie, Koos. Jy was nog altyd die enigste man vir my. Maar jou jaloesie het my mal gemaak. Jy het my verdink van ‘n verhouding met my eie broer, Gert. Hoekom? Ek moes wegkom van jou af.” haar stem was nou dof en baie sag. Haar lewe het uit haar getap, druppel vir druppel.
Verdwaasd staar hy na sy opgekerfde vrou. Haar woorde het deur hom gesny. Dit was nie ‘n droom nie. Hy het mense doodgemaak. Hoeveel, weet hy nie. Dan sien hy die byl langs die bank. Hy staan stadig op, sy lyf stram van die ongewone oefening en loop tot by die doods-instrument. Hy sak langs dit neer, kyk dan na sy vrou wat nou stil na hom staar. Soekend bestudeer hy die vertrek en kom tot rus op die trapreëling. Hy moet oor sy kinders klim tot daar en staan ‘n paar oomblikke stil. Sy kop draai, niks maak sin nie. Verdwaas kyk hy weg, gefokus op wat hy volgende moet doen. Daar maak hy die byl so vas dat die lem na hom wys, kophoogte. Met ‘n laaste kyk na die gruweltoneel gee hy die wapen sy volle aandag, snikkend tree hy terug en hardloop met ‘n slag in die byl vas.
Kopiereg @LynelleClark
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.