Jongste aktiwiteit:

Bessie (Deel 7)

Dinsdagoggend. Gisteroggendgend dié tyd her haar ma nog geleef, dink Bessie. Dis die periode net voor eerste pouse, Sy het nou Engels. Die juffrou praat aan en aan, maar Bessie hoor nie ‘n enkele woord nie. Sy dink aan gister en al sy gebeure, haar ma en die gesprek gisteraand met juffrou Malherbe. Toe sy vanoggend wakker word, was die huis stil. Oom Wouter was reeds weg werk toe en juffrou Malherbe was al by die skool. Toe sy opstaan en haar kamerdeur oopmaak was daar ’n nota aan die buitekant opgeplak; Goeiemôre Bessie. Hoop jy’t lekker geslaap. Jou ontbyt is in die microgolfoond, maak dit net warm. Jou pouse kos is op die tafel in die kombuis. Sien jou later. Xxx Juffrou Malherbe.
Die ontbyt was spek en eiers. Die kos wat vir pouse ingepak is, was macaroni en kaas. Ontbyt was nog nooit rêrig ’n prioriteit in die woonstel langs die rooidakhuis nie. Daar was Bessie maar tevrede soggens met die oorskiet van wat ook al die vorige aand geëet is. Pouse kos is ook vir haar ’n onbekende ding. Bessie kan nie onthou dat haar ma al ooit vir haar ’n kosblik vir pouse gepak het nie. Soms, as Bessie op kleingeld van haar ma afgekom het, het sy dit gevat en die volgende dag by die skool se snoepie gebruik. Sy weet mens moet nie eintlik iemand anders se goed vat sonder om te vra nie, maar dis nie asof haar ma dit ooit agtergekom het nie. Nou dink Bessie aan ’n ander ding; as dit wat juffrou Malherbe oor die onderhoudgeld gesê het, waar is, dan het sy tegnies nie haar ma se geld gevat nie, maar hulle geld, geld wat haar pa vir hulle gestuur het. Haar pa. Sy wonder hoe hy lyk. Sy wonder of sy na hom lyk, want sy lyk nie soos haar ma nie. Haar ma het rooi hare gehad en groen oë. Sy wat Bessie is, het blonde krulhare en bruin oë. Al wat sy van haar ma het, is dieselfde neus. ’n Kort wipneus.
Toe die klok lui en almal hul boeke wegpak om te gaan pouses hou, kom staan die skoolhoof in die klas se deur. Bessie sien haar dadelik. Juffrou Malherbe beduie vir Bessie dat sy na haar kantoor toe moet kom. Bessie knik. Sy pak haar boeke ekstra stadig weg. Waaroor sal sy nou weer kantoor toe moet gaan? Is dit omdat sy gisteraand so onbeskof kamertoe gestorm het? Bessie tel haar rugsak op haar rug en stap na die skoolhoof se kantoor toe. Om haar loop kinders in verskillende rigtings en vorm groepies wat saamdrom op die grasperk of bal skop op die rugbyveld. Sal sy ooit ook deel kan wees van so ’n groep?, wonder Bessie. Sal sy ooit êrens behoort?
Bessie loop by die sekretaresse se kantoor in. Sy sit agter die lessenaar, besig met ’n telefoonoproep. Juffrou Malherbe staan en gesels met ’n vrou. Die maatskaplike tannie. Bessie onthou haar van gister. “Ah, hier’s sy nou.” sê juffrou Malherbe. “Bessie, jy onthou nog vir mevrou Van Eyk?” Bessie knik. “Hallo Bessie.” groet die tannie. “Hallo.” groet Bessie terug. “Sal ons deurgaan na my kantoor?” vra juffrou Malherbe en beduie dat hulle moet deurgaan na haar kantoor toe. Bessie loop voor, die maatskaplike tannie agter haar en juffrou Malherbe heel agter. Toe hulle binne die hoof se kantoor is, trek juffrou Malherbe die deur agter hulle toe. “Sit gerus.” sê juffrou Malherbe. Bessie haal haar rugsak af en gaan sit. Dis nogal dieselfde stoel waarin sy gister ook gesit het. Mevrou Van Eyk gaan sit op die ander oop stoel en juffrou Malherbe neem haar plek in in haar stoel oorkant Bessie en die maatskaplike werker.
“Kan ek vir julle tee of koffie aanbied?” vra juffrou Malherbe. Bessie frons. Sy het nog nooit gehoor van ’n skoolkind wat in die skoolhoof se kantoor sit en tee drink nie. “Tee sal lekker wees, dankie.” sê die maatskaplike tannie langs haar. Juffrou Malherbe knik en kyk na Bessie. “Niks vir my nie, dankie juffrou.” sê Bessie. Die skoolhoof tel die foon op en vra vir die sekretaresse vir twee koppies tee. Bessie wonder waar dié tee gemaak word, want binne sekondes kom die sekretaresse die kantoor binne met die twee koppies tee. Toe sy weer by die kantoor uit is en die deur agter haar toemaak, begin juffrou Malherbe praat. “Bessie, mevrou Van Eyk is hier om ’n paar goedjies met jou te bespreek. Wil jy hê ek moet by wees of sal jy gemakliker voel as julle alleen praat?” Bessie dink bietjie hieroor. Sy voel bietjie ongemaklik met die vreemde tannie. “Juffrou kan maar bly.” sê Bessie. Juffrou Malherbe knik en sit terug in haar stoel. “Nou maar goed dan.” begin mevrou van Eyk. “Eerstens, Bessie, hoe ondervind jy die blyery by mevrou Malherbe en haar man? Is jy gelukkig by hulle?” Bessie wonder hoekom die tannie dit vra. Lyk sy ongelukkig? “Hulle is goed vir my, tannie. Daar is nie probleme nie.” antwoord Bessie. Dis die waarheid. Juffrou Malherbe en haar man is rêgtig goed vir haar en al het sy gister eers by hulle aangekom, was daar nog geen probleme nie. Behalwe gisteraand. Toe sy so onsteld geword het toe sy en juffrou Malherbe oor haar pa gepraat het.
“Dis goed om te verneem.” sê die maatskaplike tannie. “Want jy gaan heel moontlik nog vir ’n paar dae by hulle moet tuisgaan tot ons alternatiewe reëlings getref het.” Bessie hou nie van al die hoë woorde wat die vrou gebruik nie. Sy verstaan alles wat sy sê, maar die tannie het nie nodig daarom so koud en saaklik te laat klink nie. Bessie kyk na mevrou Van Eyk. Sy wonder of die vrou kinders van haar eie het. Haar gitswart hare is in ’n stywwe bolla op haar kop gestapel en sy dra ’n vaalgrys broekpak. Sy lyk kwaai. Sy lyk nie soos ’n ma nie. Maar dan nou weer, juffrou Malherbe lyk soos ’n ma en sy is baie goed met kinders en sy het nie kinders nie. Bessie sal nogal graag wil weet hoekom die Malherbes nie kinders het nie. Meskien kan hulle nie kinders kry nie. “Bessie?” onderbreek mevrou van Eyk haar gedagtes. “Sal dit vir jou ’n probleem wees om vir nog ’n paar dae by mevrou Malherbe en haar man tuis te gaan?” Bessie skud haar kop. “Glad nie, tannie. Dis baie lekker by juffrou Malherbe.” antwoord Bessie. Die maatskaplike tannie maak haar keel skoon. “Mevrou Malherbe, nie juffrou Malherbe nie. Sy is getroud.” sê die tannie streng. “Ag, al die kinders by die skool noem my juffrou Malherbe, mevrou van Eyk. Ek is per slot van sake ’n juffrou van beroep.” Sê juffrou Malherbe en knipoog vir Bessie.
Die maatskaplike tannie dink nie dit was snaaks nie. Sy gaan op haar bot manier voort. “Bessie, ons het jou vader opgespoor. Hy is wel baie teensinnig om kontak te maak met jou, maar hy het ingestem om jou moeder se begrafnis by te woon. Hy tref die reëlings vir die begrafnis. Ons behoort vandag nog te hoor wanneer die roudiens gehou gaan word en dan sal ek jou in kennis stel. Daarna sal ek, jy en jou vader bymekaarkom en verder gesels.” Die vrou praat te vinnig, dink Bessie. “Die items in die woonstel waar jy en jou moeder gewoon het, gaan intussen opgepak en verwyder moet word.” gaan sy voort. “As daar iets is wat jy nog benodig, sal mevrou Malherbe jou neem om dit te gaan haal, maar dit sal voor Vrydag moet wees, want die verhuurders van die woonstel wil die plek teen die naweek begin skoonmaak en regkry vir nuwe huurders.”
Nuwe huurders. Items van die woonstel wat opgepak en verwyder moet word. Begrafnis. Haar ma se begrafnis. Weet die vrou wat sy sê? Bessie voel weer hoe die hardloop in haar bene begin kriewel. Sy wil nie verder hoor nie. Asof juffrou Malherbe haar gedagtes kan lees sê sy: “ Mevrou Van Eyk. Dit alles gebeur so vinnig. Is dit werklik nodig om nou al alles uit die woonstel te verwyder?” Die maatskaplike tannie antwoord ongeduldig. “Dit is nie my besluit nie, mevrou Malherbe. Die eienaars van die woonstel wil dit so hê. Jy moet tog verstaan, met niemand wat meer die woonstel bewoon nie, bring dit geen huur in vir die verhuurders nie.” Swak antwoord, dink Bessie, maar wie is sy om te stry?
Bessie hoor die skoolklok lui. Pouse is verby en almal gaan nou aangaan met die res van hulle skooldag soos normaal. Die maatskaplike tannie sê nog ’n paar goed waaraan Bessie nie rêrig aandag gee nie. Juffrou Malherbe is die enigste een wat luister. Sy stel ’n vraag of twee. Die twee vroue praat met mekaar en dan word Bessie verskoon. Sy vat haar rugsak en loop uit die hoof se kantoor. Die twee vroue hou aan met praat toe sy die deur agter haar toemaak. Bessie voel niks lus vir teruggaan klas toe nie. Haar gedagtes is te deurmekaar. Toe sy buite kom, is die kindes besig om te verdaag na hul klaskamers. Sy loop in die rigting van haar volgende klas. Biologie, as sy reg onthou. Iewers agter haar begin ’n paar meisies giggel. “En nou is ou Bessie mos ’n wesie.” hoor Bessie ’n stem sê. Rentia. Bessie maak of sy dit nie hoor nie en loop aan. “Hulle sê die tannie was poepdronk toe sy verongeluk het.” hoor Bessie ’n ander meisie sê. Sy pers haar lippe op mekaar en loop aan. “Ja, shame. Die tannie was nie lekker in haar kop nie.” sê nog een. Bessie gaan staan stil en draai om. Rentia en die drie meisies by haar gaan ook staan. Bessie gluur vir Rentia aan. “Wat nou hu?” tart Rentia haar. “Gaan jy nou ons al vier se rompies aftrek?” Rentia vou haar arms selfvoldaan voor haar bors en tuit haar lippe. “Vlieg in julle dinges in!” skree Bessie en draai om. Sy begin hardloop. Vinniger en vinniger. Agter haar giggel die vier meisies en sy hoor hulle nog lelike dinge sê, maar sy luister nie. Sy hardloop, verby die Biologie klas en weg van die skoolgebou af. Toe sy weer sien, staan sy op die grasperk voor juffrou Malherbe se huis.
Die houtdeur is toe. Niemand is by die huis nie, dit weet Bessie. Sy loop by die stoep op en reguit na die stoepswaai toe. Sy laat gly haar rugsak stadig van haar skouer af tot dit op die grond val. En toe gaan sit sy op die swaai. Voorentoe en agtertoe wieg sy. Die hardloop in haar voete bedaar en sy vergeet van Rentia en haar vriendinne. Bessie sit gemaklik terug in die swaai en haal diep asem. Mevrou Van Eyk se gesig doem voor haar op. As sy ’n kind moes hê, sou dit seker iemand soos Rentia wees, dink Bessie. Hulle twee is darem baie dieselfde. Bessie wil nie meer aan hulle dink nie. Sy wil aan niks dink nie, sy wil net hier sit en swaai. Sy voel rustig hier. Sy voel veilig hier.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed