Jongste aktiwiteit:

Bessie (Deel 6)

Juffrou Malherbe draai om en loop weer die huis in. Bessie hoor haar met oom Wouter praat, maar so sag dat Bessie nie kan uitmaak wat gesê word nie. Dan kom juffrou Malherbe weer uit en trek die houtdeur agter haar toe. “Mag ek?” vra sy en beduie na die oop sitplek langs Bessie. Bessie knik en juffrou Malherbe kom sit langs haar op die stoepswaai. Vir ’n paar sekondes sê niemand ’n woord nie. Hulle wieg net rustig heen en weer. Bessie kan sien juffrou Malherbe weet nie wat om te sê nie, meskien voel sy sleg omdat Bessie hulle gesprek gehoor het.

“Juffrou hoef nie oor my te worry nie, ek sal op my eie gaan bly. Ek kan vir myself sorg.” sê Bessie. Juffrou Malherbe kyk na Bessie en frons. “Ek wil vir niemand ’n las wees nie, juffrou.” voeg Bessie by.
“My liewe kind, waar kom jy daaraan?” juffrou Malherbe se stem is sag, dit klink amper asof sy wil begin huil. Bessie draai haar gesig weg van die juffrou af. Sy kyk na waar die duif teen die ruit vasgevlieg het. Daar is ’n vetkol op die glas en op die vensterbank lê vaalgrys donsies. “Ek neem aan jy het gehoor waaroor ek en oom Wouter gepraat het?” vra juffrou Malherbe. Bessie kyk weer na haar. “Ja, maar ek sê nie so omdat ek julle gehoor praat het nie, juffrou. Ek wil rêrig vir niemand ’n las wees nie en ek weet hoe om vir myself te sorg. Selfs toe my ma nog gelewe het, moes ek anyway…” Bessie bly stil. “Vir jouself sorg?” voltooi juffrou Malherbe haar sin. Bessie knik.

Juffrou Malherbe vat Bessie se hand. “Dat jy mooi na jouself kan kyk, twyfel ek nie vir een oomblik nie, Bessie, maar geen kind is veronderstel om sonder ’n stabiele huishouding groot te word nie. Elke kind behoort lief gehê en versorg te word deur ’n ouer of voog.” Juffrou Malherbe se hand is warm om hare. “Maar ek het niemand meer nie, juffrou. My ma is al familie wat ek gehad het en nou is sy dood. So ek moet eenvoudig net vir myself kan sorg.” “Nee Bessie, jou ma is nie al familie wat jy gehad het nie, sy is die enigste familie wat jy gekén het. En ja, sy is dalk nie meer met ons nie, maar jy het nog ’n pa.”

Bessie trek haar hand uit juffrou Malherbe se warm hand uit. “Ek dink nie hy wil my pa wees nie, juffrou. En anyway, ek het hom nog nooit eens ontmoet nie, so ek dink nie hy tel as ’n ouer nie.” Juffrou Malherbe sug. “Ek verstaan wat jy bedoel, Bessie, maar hy bly jy jou wettige ouer en hy het sekere verpligtinge teenoor jou.” “Maar juffrou, as iemand nie ’n kind wil hê nie, kan niemand daai persoon mos dwing om die sekere verpligtinge na te kom nie.” “Seker nie jong, maar, Bessie? Sou jy nie graag jou pa ten minste wil ontmoet nie?” Bessie trek haar skouers op. “Ek weet nie, juffrou. Ek sal nie weet wat om te doen of te sê nie. En hoe daag ek net by hom op en sê ‘hallo pa, ek is die kind wat jy nie geweet het jy het nie.’?”

Bessie staan op en loop ’n entjie weg van die stoepswaai af. “Hy het van jou geweet, Bessie.” sê juffrou Malherbe agter haar. Bessie staan stil en kyk oor haar skouer na juffrou Malherbe. “My ma het dan gesê hy weet nie van my nie.” Juffrou Malherbe staan op en kom staan langs Bessie. “Bessie, ek weet nie presies wat jou ma jou oor jou pa vertel het nie, maar ek vermoed daar is baie dinge waarvan jy nie geweet het nie. Een van daai dinge is dat jou pa wel geweet het van jou bestaan. Hy betaal jou skoolfonds en ek weet ook dat hy nog al die jare onderhoudsgeld aan jou ma betaal het.” Bessie se kop voel lig. Sy hoor wat die juffrou sê, maar dit maak nie vir haar sin nie. “Nou vir wat betaal hy geld vir ’n vrou en kind wat hy nooit eens sien nie? En hoekom sal my ma vir my gejok het?” Bessie voel hoe dit binne haar begin warm word.

Juffrou Malherbe sit haar arm om Bessie se skouer. “Ek weet daar is baie dinge wat nie nou vir jou sin maak nie, my kind, en ek het self nie al die antwoorde op jou vrae nie. Tot tyd en wyl gaan jy by ons bly en jy is nié vir ons ’n las nie, hoor jy my?” Bessie pers haar lippe op mekaar en kyk stip voor haar uit. Sy voel hoe trane in haar oë begin brand. “Die maatskaplike werker kom môre skool toe om weer met jou te praat.” gaan juffrou Malherbe voort. “Sy behoort ’n paar van jou vrae te kan beantwoord, maar die eintlike persoon met wie jy moet gesels, is jou pa.” ‘n Traan glip uit haar oog en rol oor haar wang. “Wel, dis bietjie moeilik om met iemand te gesels wat niks met jou te doen wil hê nie.” snik Bessie. “Ai Bessie.” troos die juffrou. “Ek wens ek kon iets doen om dinge vir jou beter te maak.” Bessie ruk los onder juffrou Malherbe se arm uit. “Daar is niks wat juffrou kan doen nie! Daar is niks wat niemand kan doen nie. Al wat ek nou wil hê, is my ma en niemand kan haar terugbring nie!” Bessie hardloop by die huis in en reguit na die kamer toe waar haar klere in die vreemde kaste gepak is. Sy gooi die deur toe en val op die bed neer. Die trane hardloop nou onkeerbaar uit haar oë en sink in die kussing in. Sy huil en huil tot haar kop later seer word. Miskien as sy haar oë toemaak en slaap sal sy droom en miskien kan sy droom van haar ma. Bessie gooi die natgehuilde kussing eenkant toe, klim met haar klere en al onder die kombers in en maak haar oë styf toe.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed