Jongste aktiwiteit:

Bessie (Deel 5)

Later die aand, na aandete, loop Bessie by die voordeur uit tot op die stoep. Juffrou Malherbe maak baie lekker kos. Hulle het hoenderpastei gehad met ’n mengelslaai. Juffrou Malherbe se man, oom Wouter, het ook saam met hulle geëet. Hy het van die werk afgekom net toe Bessie haar tasse klaar uitgepak het. Oom Wouter is ’n sterk geboude man en lank. As hy en sy vrou langs mekaar staan, pas haar kop hom net mooi onder die skouer. Oom Wouter is ’n vriendelike man en soos sy vrou, het hy pragtige blou oë. Oom Wouter is ’n makelaar op die dorp. Hy werk met ander mense se geldsake. Hy klink vir Bessie na ’n baie slim man. Juffrou Malherbe en oom Wouter pas perfek bymekaar, dink Bessie. Hulle is ewe slim en vriendelik.

Bessie loop tot by die stoepswaai in die hoek. Sy kan haar verbeel dat die swaai haar uitnooi om te sit. Sy gaan sit versigtig. Die swaai wieg stadig voorentoe en agtertoe. Bessie skyf haarself gemaklik sodat sy met haar rug teen die leuning sit. Dis skemer. Die son se laaste strale speel deur die tuin en ’n paar mossies baljaar vir oulaas op die grasperk. Dit voel vir Bessie soos ’n droom, so salig. Sy wens haar ma kon nou saam met haar hier op die bankie sit. Meskien sou so iets haar ma gesond kon maak. Bessie wonder waar haar ma nou is. Waarheen gaan ’n mens as jy doodgaan?

Bessie hoor ’n telefoon êrens in die huis lui. Iemand antwoord dit. Agter haar in die sitkamer, word die televisie aangeskakel. Sy kan nie uitmaak watter program wys nie, want die klank is baie sag gedraai. Dan hoor sy juffrou Malherbe se stem nader kom. Die televisie se klank word heeltemal afgesit en Bessie kan die gesprek binne die huis duidelik hoor. “Wie het gebel?” vra oom Wouter. “Die maatskaplike werkster. Hulle het Bessie se pa opgespoor.” Juffrou Malherbe se woorde gee Bessie hoendervleis.
“En?” vra oom Wouter.
“Hy wil van niks weet nie.” antwoord juffrou Malherbe.

Bessie wonder of sy moet opstaan en wegbeweeg van die stoep af. Sy is nie seker of sy veronderstel is om hierdie gesprek te hoor nie. “Wat gaan nou van die kind word?” hoor sy weer oom Wouter se stem. “Haar pa kom later die week af vir haar ma se begrafnis. Die maatskaplike werker sal dan weer met hom probeer praat, maar vir eers bly sy by ons tot daar ander reëlings getref word. Ek hoop dis reg met jou?” daar is ’n oomblik van stilte. Bessie sluk hard. Sy dink nie oom Wouter hou van die idee dat ’n vreemde kind by hulle woon nie. Trouens, sy dink nie eens juffrou Malherbe hou daarvan nie, hulle het maar net ingestem omdat hulle haar jammer kry. Dit kan vir niemand lekker wees as iemand anders se kind ewe skielik op jou drumpel afgelaai word en jy moet maar net uitfigure wat om verder te doen nie. Bessie voel skuldig. Dit is nie regverdig teenoor juffrou Malherbe en haar man nie. Meskien moet sy wegloop. Sy kan vir haarself sorg. Die man wat hulle sê haar pa is, hoef ook nie verder te worry nie, sy leef al veertien jaar sonder hom, sy sal dit nou ook kan regkry.

Oom Wouter se volgende woorde laat skiet haar gedagtes in duisend stukkies: “Nee, ek het absoluut geen probleem daarmee nie. Bessie kan bly vir solank as wat dit nodig is of vir solank sy wil.” ’n Stoel skuif en Bessie kan oom Wouter hoor opstaan. “Waarmee ek wel ’n probleem het,” gaan hy voort; “is ’n ma wat haar in ‘n graf ingedrink het en ’n pa wat vir veertien jaar sy kind se bestaan ontken!”
“Wouter, dis darem bietjie kras.” sê juffrou Malherbe.
“Maar dit is die waarheid, Marlien! Jy weet dit self. Hulle is die naam ouers nie werd nie en Bessie…geen kind, verdien om so groot te word nie!” Bessie kan hoor dat oom Wouter erg omgekrap is. Hy praat al hoe harder. “Hy stuur darem elke maand vir hulle geld, Wouter. Ek is seker hy probeer sy bes onder omstandighede…”
“Twak!” onderbreek oom Wouter sy vrou. “Onderhoudsgeld maak nie van jou ’n pa nie, net so min soos die woord ma van iemand ’n ma maak. Hulle het haar nie verdien nie. Sulke mense moet nie kinders hê nie!”
“Wouter! Dis nou genoeg.” Probeer juffrou Malherbe haar man kalmeer.

Bessie sit so aandagtig die gesprek in die huis en luister dat sy nie die duif sien nader kom nie. Dit fladder die stoep op en beland met ’n harde plof teen die sitkamer venster. Bessie skrik haar boeglam. Dit word stil binne die sitkamer en dan hoor sy voetstappe na die deur toe beweeg. Die swaar houtdeur gaan oop en juffrou Malherbe kom uitgestap op die stoep. Bessie sien hoe die juffrou skrik toe sy haar op die stoepswaai sien sit.
“Bessie, hoe lank sit jy al hier?” vra sy. Bessie pers haar lippe op mekaar en laat sak haar kop.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed