Jongste aktiwiteit:

Ano
vir

Ano

Lees meer oor Ano

November 2018

1.‘n Skouerhoogte tameletjie (woord telling 966)

Hier in Ekurhuleni (die ou Oos-Rand) kan ons seker nie te veel kla oor dienslewering nie. Miskien is dit ‘n geval van die padda wat so stadigaan saam met die water warm gemaak word en het ons die geleidelike agteruitgang nie so vreeslik baie agtergekom nie. Die paaie in die dorp self en omliggende woongebiede is darem redelik sonder gate al lyk dit na ‘n heel ander storie soos die dorp verder uitbrei na die plotte toe.

Selfs al is daar ‘n klagte, word dit selde deur gewillige ore aangehoor. More is mos nog ‘n dag en Kersfees kom ook. Mens kan behoorlik voel hoe daar sleepvoet gewerk word. Om tot ‘n laer rat oor te skakel en in Afrika-tyd te funksioneer is selfde aangenaam. Elke dag het genoeg van sy eie werk, maar ek sweer die groter meerderheid hoop dat more nooit sal gebeur nie, of verkieslik net tyd vir eet en slaap en geen werk.

Die stelsel werk so : die straatlamp of drie voor jou huis gee almal tegelyk in en alles lyk in die skielike stikdonker baie onheilspellend. Hierdie lampies het heel waarskynlik oorgegee weens die onbestendige kragtoevoer wat dán te veel is, dán te min. Daardie op-en-af kan ek dikwels waarneem op die elektroniese wekker want dit kan tot tien minute in twee weke vooruithardloop.

Terug na die straatligte. Nou moet ons ‘n plek bel, drie dorpe verder vanwaar jy woon en waar ons lank gelede verneem het dat dit die sentrale kantoor is. En moet ook nie dink jy gaan by ‘n toonbank staan nie. Jy het ‘n foon met baie klets-tyd nodig en moet nie skrik vir die rekening nie. Alle klagtes word by een nommer aangemeld en dan begin ons agter in die ry, heel dikwels baie vêr agter en om die hoek in die ry. Wanneer mens nou uiteindelik met ‘n lewende wese kan praat kan jy werklik net hoop dat dit iemand met ‘n simpatieke oor sal wees.

Eers die straatnaam stadig s-p-e-l. So moet jy ook die uitbreiding s-p-e-l want dit is mos nou ‘n heel vreemde plek en hulle het gewoonlik geen koekin clue waar dit op die aardbol is nie. Moet net nie die dorp se naam vergeet nie, want anders soek hulle die donker probleem in die verkeerde dorp se Voortrekker straat. Maar hierdie is ‘n redelike maklike probleem, jy kry ‘n verwysingsnommer en dan moet jy maar jou beurt afwag totdat daar ‘n beskikbare lorrietjie met die nodige toerusting en petrol in jou rigting sal ry. Die wagtydperk is dikwels iets tussen dae en weke en intussen hoop jy maar dat die skelms nie ook ontdek dat hulle rustig onder die dekmantel van die nag inkopies kan gaan doen nie.

Maar hoe gemaak met ‘n onbekende buurman wat drie jaar gelede ‘n huis vir ‘n paar miljoen gekoop het en nog nooit ingetrek het nie? Die dubbelverdiepinghuis staan dus al vir drie jaar leeg. Op sigself is dit nie te vreeslik nie want nou-en-dan daag ‘n tuinier op wat tuin skoonmaak en die dooie blare opvee. G’n mens weet ooit wanneer dit gebeur nie want die man is so stil soos ‘n muis en daar is geen merkbare roetine in sy besoeke nie. Al hoe mens kennis neem van so ‘n skoonmaak sessie, is wanneer die dik gestopte plastieksakke op die sypaadjie neergesit word.

En daar bly dit staan tot in ewigheid want die vullis verwyderaars weier om enige sakke van die grond af op te tel. As die vullis nie in ‘n ‘bin’ gesit word nie, bly dit daar staan totdat dit vergaan – of iemand kla (soos Ano)…

Ano weet hoe om te kla, maar sy het nie altyd die kennis waar om met hierdie klagte heen te gaan nie en met die uitdeel van geduld was daar al boom geskraap. Eerstens bestaan die gesondheidsdepartement jare al nie meer nie. Tweedens trek hierdie streek se sentrale munisipaliteit sy klein skouertjies op want hulle weet ook nie aan wie se klok hierdie probleem gehang moet word nie. Die kere wat ek wel die tuinier daar raakgesien en gevra het dat die gemors verwyder moet word, val op dowe ore.

Teen hierdie tyd is my moertjie al effe dik want die sakke het oor ‘n redelike aantal maande tot skouerhoogte gegroei. Tussen die verrottende blare het die rotte ‘n heel snoesige rooi-lig-distrik-hotelletjie waar hul ongestoord kan aanteel. Maar nuwe honger mae soek mos kos!

Dan kla ons seker maar by die DA, of hoe? Die ventjie is immers hier ingestem en dit is seker tyd dat hy iets vir die samelewing en buurt beteken. Geen antwoord op die e-pos wat uit mooi prentjies en kwaai byskrifte bestaan nie. Hy is net so lam soos die munisipaliteit en stiller as die groeiende rot bevolking.

Na baie gesoek en gekrap na die eienaar se inligting, is daar genoeg ammunisie vir ‘n beriggie in die plaaslike koerant, sommer so saam met die DA-vent se naam en kontakbesonderhede. Dit was nog nie eens saktyd vir die weeklikse koerant nie, toe staan hier ‘n voertuig om die sakke weg te ry.

Nou wonder ek… Wie was verantwoordelik dat dit opgeruim is? Die stadsraad – waar daar uiteindelik geen klag gelê kon word nie want daar is nie ‘n geskikte afdeling vir so iets nie. Dit kan nie die DA-kêreltjie wees nie want hy het genoeg weke gehad om iets te laat gebeur wat toe nie so gewerk het nie. Dit moet die koerant wees! Iemand daar het dalk gesien hier om moeilikheid want met elke keer wat ek voor dooiemansdeur te staan gekom het, het my bloeddruk ‘n bietjie gestyg.

Ek sê : dank die stadsraad se onwillige werkers af en gee dit oor aan die koerant. Iemand daar weet hoe om vuur te stook! Viva City Times!!

Ano

Januarie 2019 Projek

2.Die wêreld is aan die verander

My hart was diep bedruk omdat Buurdorp strome reën (of seën) kry, maar hier bly dit kurkdroog. Ongeag dat ons veronderstel is om midde-in die reënseisoen te staan, word die swembad word al hoe leër en die gras begin plek-plek vergeel.

Dit gebeur toe ook dat ons laat een nag kennis kry dat Buurdorp ʼn geweldige hoëveld-storm gehad het terwyl die druppels hier net die reuk van stof losgewoel het. Die gedagte om weer vars vloeiende water te sien is moeilik om te onderdruk, daarby het Guppy ʼn uitstappie nodig en ons besluit om na die naaste spruit (wat ook as grens tussen die dorpe dien), te gaan voete natmaak.

Die eerste dag van die nuwe jaar is gewoonlik maar stiller aangesien meeste nog eers laasnag se partytjie-roes moet afslaap voordat hul bloedbelope oë die skerp sonlig kan hanteer. Dus, sou ek my oë vir ʼn wyle toemaak, kon ek my maklik verbeel ek is midde-in die paradys. Geen motors, geen stappers of drawwers, geen vissermanne … net die wonderlike stilte en luide voëlsang. Stadig en diep trek ek die geur van gesnyde gras en warm goudgeel sonlig in. Ek IS in die paradys en my hart sing!

Die spruit is egter in volle vloed en selfs die weelderige grasperk lê gedeeltelik onder water. Die kakofoniese lawaai van swerms voëls is hier-en-daar genoeg om enigeen te laat weghardloop. Alhoewel ek en Guppy al vantevore so ʼn oorstroming beleef het, het nie een van ons twee al ooit visse op die gras sien swem nie! Dit wriemel van die blink swart lywe soos hulle op die grasperk speel. Sommer groot skole, elke vis ten minste die lengte van my lang arm. Miskien kielie die gras hul jeukerige pense en daarom waag hulle dit ewe dapper buite hul veilige habitat, salig onbewus dat die opgewonde spelery dalk onnodig aandag sal trek.

Oënskynlik het alle spesies ʼn ingebore nuuskierigheid en onbeskryflike lus vir avontuur en Guppy is verseker geen uitsondering nie. Met ʼn bietjie aanmoediging plas sy ook oor die nat gras om ʼn potensiële speelmaat te besnuffel, maar hierdie glibberige platpens-lang-snor-gedoente wil nie stilstaan vir ʼn kennismaking wat dalk op ʼn onbeplande ontbyt mag uitloop nie. En dit is hier waar die arme dierasie weereens haar vermoë om op die water te hardloop ten toon stel! Sy spring ore, pens en vier bene bokant die water uit, maak vinnige hardloop bewegings in die lug voordat sy terug in die water plons en met ʼn verblindende spoed verby katrol. Dit is wonderlik wat skrik aan mens en dier kan doen en ʼn vertoning van adrenalien op sy beste. Veilig maar duidelik gespanne, en met bietjie aanmoediging waag sy dit nog ʼn paar maal nuuskierig terug.

Verder teen die stroom af, daar waar die water heelwat dieper is en waar die wilgerboom se takke saggies in die water swiep, daar is haar gunsteling plek om te swem. Vandag kom sy egter met ui in die bek terug wal toe. Goed! Iemand het dalk sy ui verloor maar Ano se skroewe is nog min of meer op hul plek… Ek mag dalk al ʼn varkie of so verloor het, maar my UIE is nog almal in die laai.

Voorspoedige 2019! *** Who-hoo!

Ano

Feruarie 2019 projek

1.Lui-lui telefoon, telefoon lui-lui

Die enigste oplossing vir tydverkwisting waar dit staatsdepartemente aangaan is seker om die plek so ver moontlik te vermy. In elk geval, dit werk vir my. So op ʼn manier. Mens kan min of meer enige organisasie vermy tot die dag wat daardie een die enigste is wat jou probleem kan oplos, soos Telkom.Liewe genade! Dit het NET twee maande geneem voordat daar aandag aan ons klagte gegee was! Dit was moontlik om e-posse te ontvang, maar ek kon nie daarop kon antwoord nie. Desember kon dit nog op ʼn manier verdra word want dan is besigheid stillerig, maar Januarie wanneer almal vuur en vlam aan die werk is, moet mens nie die kliënte laat dink jy soek nie hul besigheid nie! En in die era van elektroniese kommunikasie waar 99% van al my kommunikasie d.m.v. e-pos gedoen word, was dit byna dieselfde as om te kyk hoe my hoofslagaar met ʼn stomp mes afgesaag word. Ek bedoel, wat ʼn frustrasie om belangrike inligting by iemand te bekom, maar hulle kon netsowel op Pluto gewoon het!Miskien was ons doelbewus gemuilband, en dalkies was die die heelal se manier om my geduld te toets. Nie snaaks nie, hoor.Ek het gekla, gesmeek, kwaad geword en toe nog gekla. Sommer baie keer. Die fout moes oor en oor aangemeld word omdat ons elke keer gehoor het dat die probleem opgelos is, net om uit te vind dat daar absoluut niks gebeur het nie. En terwyl ek eendag sit en die verskillende afdelings van Outlook van hul e-pos vrag verlig, tel ek meer as vyftig boodskappe wat ek aan myself, tussen my verskillende adresse gestuur het. Net om te toets of dit dalkies afgelewer word natuurlik, maar ek wag steeds vir die aflewering daarvan.Wanneer ek die klagte opgevolg het, het hulle adres getoets deur ʼn e-pos te stuur vanaf ʼn adres wat alreeds jare tevore gekanselleer was. Bid jou aan. Hier ontvang ons ʼn e-pos van ʼn adres wat nie meer bestaan nie. Dit word ook gerapporteer. Na die tweede poging kry ons ʼn werknemer wat verstaan wat ek sê en wat dit ook suksesvol regkry om daardie adres vir goed uit my lewe te laat verdwyn. Moes dit nou werklik vyf of ses jaar neem om daardie ou probleempie op te los? Ek het immers gedink ons woon in ʼn semi-beskaafde land.Ewenwel, na die hoeveelste klagte oor dieselfde probleem, en my skroefies al rooi-warm aan die brand, vra ek dat Hubby asb. met die dametjie sal gesels. Hierdie keer het hulle ONS gebel, dus was hulle goetertjies ook seker al goed opgewen en te styf vasgedraai oor die kliënt wat net nie regkom nie. Uiteindelik moes ons hoor dat die probleem nie op hierdie rekenaar is nie. (Wat ʼn verrassing want Ano kry dit gereeld reg om die elektroniese toestelle waarop sy haar vingers laat rus, snakkend blou te laat word. Die skerm kry so ʼn mooi blou kleur en dan sak ʼn lelike stom stilte neer.)Skynbaar het Telkom hul “server” verander en nooit daaraan gedink om hul gebruikers in te lig nie. En ek wonder hoeveel oproepe en klagtes van dieselfde aard het hulle ontvang, dié dat die geduldige dame uit Pretoria spesiaal geskakel het om ons so mooi en stap-vir-stap te help.Skoonseun vertel dat ons in ʼn land woon waar alles nog goed werk en waar ons nog relatief veilig is – gemeet aan die res van Afrika se standaarde natuurlik. Skynbaar gaan dit so beroerd verder Noord dat jy dankbaar is om terug te kom na ʼn plek waar daar meeste ure elektrisiteit en lopende water is. Ook terug na ʼn plek waar die rioolpype onder die grond is en uitskot nie in vore langs die pad verbydryf nie. Die reuk, oh die reuk… Mag die avontuurlus my asseblief net nooit so ernstig beetpak dat ek die res van die vasteland wil besoek nie.Altyd iets om voor dankbaar te wees, lyk dit my. Maar dit is ook so dat wanneer mens eers moet woon en werk waar dit rêrig moeilik gaan, dan lyk hierdie land en sy al groter wordende afwesige dienste soos ʼn prentjieboek paradys. Mens waardeer eers iets as jy daarsonder moet klaarkom.

Ano

Julie 2020 – Klanknabootsing projek

1.Nog net een keer, ek daag jou uit

Woordtelling 407
Stergradering Silwer

Ugh, as mense weet wat sommige klanke aan my siel doen sal party dit uitbuit en ander dalk meer op hul walglike gewoontes let. My aanvanklike opinie was dat ek net sensitief vir klank is totdat ek gesien het dit het wragtag ʼn naam! Misophonia – ʼn klank-hater. Dalk is haat ʼn effense sterk woord, maar ek is ook nie skaam om te sê dat ek permanent sagte was oorpluisies in my handsak dra nie en dit baie dikwels, baie openlik, gebruik. Ek sê maar net. Partymaal moet mens sommige ander se vlymskerp stemme effens verdof voor daar dalk vlieënde pierings binne-in ʼn gebou gesien word. Sommige se stemme is mos natuurlik ʼn paar oktawe hoër en dit sny deur murg en been, veral wanneer hulle opgewonde raak.

In ons familie was daar dan ook hierdie DIERBARE man – tot hy begin eet. Ek was ook lief vir hom, maar selfs dit het gewissel na gelang van ons interaksie. ʼn Weeklange kuier het my dan ook sommer twee maal bly gemaak – eers om hom te sien arriveer en daarna weer om vir oulaas totsiens te waai terwyl sy motortjie al hoe kleiner en dowwer in die verte word. Die daaglikse drie maaltye (sonder om teetyd te tel) saam om een tafel was telkemale ʼn marteling want ek kon nie oorkant hom sit en kyk hoe die kos in sy oop mond rondmaal soos in ʼn sementmenger nie en om langs hom te sit en te hoor hoe hy oopbek kou was nie minder afskuwelik nie. En die ander ure van die dag het hy aan ʼn perskepit gesuig, dit rond en rond in sy mond en teen sy tande gerol.

En toe leer Hubby ook ʼn grillerige gewoonte aan en begin sulke snaakse suiggeluide deur sy tande te maak. Onophoudelik totdat ek later nie meer weet of ek moet bly sit en druk opbou soos ʼn stoompot nie, of ter wille van almal se veiligheid liefs net op my besem klim en die uitspansel in vlieg nie. En dan wanneer hy met sy een hand vir “ure” aaneen oor sy been vryf. Op ʼn dag haak my kop onverwags heeltemal skeef uit plek uit en ek sê ek toe mos hy is ʼn kloon van bogenoemde familielid. Daardie dag het ek gedink dit is ikabod met my. Die groot ta-ta. Nou vou ek maar my kop in my kussing toe, dan weet ons albei dis nou weer sulke tyd!

Ano

September 2020 – Liefdesprojek

2.Bedwelm deur liefde

Volgens Carolyn Gregoire is liefde eintlik niks meer as ’n dwelm nie. Dit het al die eienskappe om jou hoog tussen die sterre te gooi sowel as om jou kop onder slik te hou totdat jy spartelend in trane en seer-bitterheid versuip. Liefde maak jou obsessief, trek jou aandag af, laat jou droomverlore die vlaktes instaar en alles wat tussen-in ookal mag voorkom.

Verliefdheid verander die chemikalieë in jou brein en laat jou snaakse dinge doen. Jy leef van koue water en liefde en dit is tydelik genoeg. Vir sommige is die vrystel van hierdie heerlike hormone so wonderlik dat hulle van die een maat na die volgende spring om net voortdurend op daardie hoogtes te sweef. Dit is ook ʼn natuurlike pynstiller en miskien moet mens maar liefs swaar masjinerie tydens hierdie tyd met versigtigheid hanteer. Jy kry dit dan ook reg om net op een ding te fokus en daarom dat ander se waarskuwings so maklik in die wind geslaan word. Wie wil dan nou in elk geval slegte goed oor hierdie wonderlike mens hoor? Jy sien bloot nie daardie waarskuwingsligte flikker nie want jou brein is beneweld.

Maar in die Bybel leer ons van vier tipes liefde, naamlik Eros (wanneer Salomo sy liefde vir sy bruid besing), Storge (liefde vir jou familie/kinders), Philia (liefde en omgee vir jou medemens) en Agape (Goddelike liefde). Vir ʼn kort tydjie het daardie Agape liefde soos ʼn mantel om my wese gevou en selfs na al die jare is daar nog steeds nie woorde om dit te beskryf nie. Dit is ʼn vorm van liefde wat geen mens kan uitdink of selfs probeer na-aap nie, want al kry jy dit ampertjies reg, is mens bloot nie in staat om daardie allesomvattende gevoel te vervolmaak nie. Vir die eerste keer het ek gevoel hoe dit is om myself ten volle te aanvaar – warts & all. Daarin het ek geleer wat dit beteken om deernis vir jouself te hê en waarom mens nie gedurigdeur jouself met ʼn sweep oor die skouers moet slaan oor alles wat jy verkeerd gedoen het nie. Ek dink dit is hierdie tipe liefde wat ek vir ou Guppy voel. Sy is met haar vier groot pote onvoorwaardelik my hart se hele punt en wek heelwat meer as net deernis in my hart. Ek sal selfs waag om te sê dat ek haar effentjies liewer het as vir Hubby, maar moet dit asb. net nie hardop sê nie!

Intussen beleef die meeste van ons seker op ʼn daaglikse basis bewustelik twee van hierdie vier liefdes en as jy gelukkig is, ʼn derde. Liefde vir jou familie is seker min of meer altyd daar, al is dit net een ander persoon. En familie is nie altyd iemand wat aan dieselfde familiegroep behoort nie, maar ook vreemdelinge wat jy met jou hart uitkies en hegte bande mee smee. Skynbaar het mens ook jou kinders met die Storge liefde lief, alhoewel ek reken dit reik aansienlik dieper as vir ander familielede. Dikwels besef mens eers die omvang van hierdie liefde wanneer so ʼn kind ʼn nie meer deel is van jou daaglikse bestaan nie en ek is jammer om te sê dat ek verseker nie my sibbe (of ouers) so lief het soos my kinders nie. Dit is nie uit keuse nie, maar ‘n biologiese feit.

En omdat ek op ʼn daaglikse basis met vreemdelinge in aanraking kom, mense wat ek nooit tydens my aardse bestaan sal ontmoet nie, ken ek ook Philia-liefde. Jy hoef nie iemand in die oë te kan kyk of sy hand te skud om vir hom ʼn diepe deernis te voel nie. Dit is moontlik om vir iemand om te gee sonder dat julle ooit vriende sal word. Miskien is jul belangstellings, opvoeding en sienswyse so uiteenlopend dat daar byna geen raakpunte is nie, maar wanneer jul onverwags in dieselfde bootjie op ʼn stormagtige see roei, is dit nie moeilik om die hand uit te steek en die roeispane vir ʼn wyle vas te hou nie. Ons dra mekaar deur die storms van die lewe, ons sit ʼn arm om die skouer en help mekaar oor die skerp klippe.

Ons het almal van al hierdie vier tipes liefde nodig om ons deur ons daaglikse sorge en vreugdes te dra. En ʼn hart wat oop is om te gee, is ook ʼn hart wat oop is om te ontvang. Aangebied met liefde,

Ano

Desember 2020 – OOP-projek

1.Die reine waarheid

Hoe ons ooit sonder selfone hier aan die onderpunt van Afrika reggekom het, kan ek net nie meer onthou nie. En hoeveel kleiner nuanses van gesprekke ongemerk verbygeglip het, wil ek ook nie van weet nie, want sien, wat die ore nie hoor nie treur die hart nie oor nie. Maar wat is nou lekkerder as om enige tyd, enige plek met jou geliefdes kontak te kan maak? Sommer so in die ry ook. En so vang my ore ’n klein vyfjarige stemmetjie op die agtergrond op. “Mamma, ek het Corona.” So tussen vasklou aan die foon om nie van skok in die lug op te sweef nie en skerper luister, kom die antwoord, “jy het nie Corona nie my seun, jy is honger.” Oh, OK en dankie tog. Die kleine wyse mannetjie het al weer bietjie gekoes toe middagete uitgedeel was en nou byt daardie hongerpyne. Dit is darem makliker om reg te stel as om virusse te dokter. En die verlange na die eienaar van daardie klein stemmetjie timmer my weer hard op die hart.

Soos die jare aanstap het ons ook besluit dat ons nie in hierdie reusagtige grot sal bly woon totdat ons op ’n hospitaalbed hier uitgestoot word nie. Of erger, toegerits in ’n swart plastieksak nie. Sewe-en-twintig jaar is seker lank genoeg om in een huis te woon en is ’n verandering nie so goed soos ’n vakansie nie? Ons het juis in hierdie jaar nie vakansie gehad nie – dink ek. My 2020 geheue is so vol gate dat ek eers met die laaste naweek van November besef het ons het nie ’n agt-maand-lange ‘ground hog day’ tydens Maart beleef het nie.

Maar iewers in daardie klompie maande het ons tog besluit om die lewe aan die nekhare te gryp en te verhuis na ’n kleiner plek. ’n Huisie by die see. Ag nee wat, al is dit by die see is die regte rede eerder daai klein honger mannetjie en sy sussie. Ons het nou al genoeg konserte en ander prettighede gemis om my sommer elke dag knorrig te laat voel. Dit is tyd dat die familie weer vir ’n slag almal in dieselfde omgewing woon sodat ons met minder moeite by mekaar kan uitkom en sodat die regering se besluite oor waar jy mag beweeg en waar nie, vir goed stilgemaak kan word.

Maar so begin die groot uitpak, uitsorteer, skoonmaak en inpak ook. Met Hubby wat kans gekry het om vir sewe-en-twintig jaar lank op te gaar lyk sy oë skielik wild en angstig soos die een na die ander item op die Rommel Tafel uitgepak word en teen R5 verkoop word. Hy steel die ketel terug, Ano haal dit met ʼn beneukte gesigsuitdrukking uit. En so begin die bakleiery. “R30 vir ’n werkende ketel is te min, ons moet ten minste R60 vra.” “Maar vir daardie geld kan mens al byna ’n nuwe een koop!” Dis R30. Uit en gedaan. Die pantoffelregering het gepraat.

En dis is ook nie asof daar ’n skaarste is aan ou ketels wat lank gelede gebreek, herstel is en toe in die buitekamer op die rak staan gemaak is nie. Ano se bek hang oop. Het ons rêrig vyf ketels op hierdie werf gehad? En vier televisies? Ons het dan net een van als gebruik. Waar kom alles vandaan?!? Ons verkoop en verkoop, gee weg, gooi weg maar die huis raak nie leër nie. Inteendeel ek sweer die goed teel iewers aan en blykbaar is die buitekamer ‘n bedrywige plek!

Teen die tyd wat ek voel ons begin nou makliker asemhaal, is die jaar ook sommer verby en my gedagtes het meer tyd om te wonder oor die nuwe huis daar doer ver. Gaan ons so gelukkig wees om weer ʼn 5m hoë denneboom te hê waar die rankplant dit elke Kersseisoen op sy eie met geel blommetjies versier of is ʼn posseël-erf te klein vir sulke oorgroot baldadigheid? Sal ons ooit weer sien hoe die Vlamlelies gedurende die feesseisoen in rooi ontplof? Sal die soet geur van Yesterday-Today-Tomorrow ook swaar in die lug hang terwyl ek ʼn ruskansie op die dik grastapyt geniet? Is daar swaeltjies by die see? Wat van daardie klein wit skoenlappertjies wat elke somer by die derduisende van Wes na Oos trek? Is daar ook haelwit Cumulus wolke wat elke middag soos styfgeklitste room teen die bloue lugruim opstapel, net om later te hoor hoe die vensters ratel wanneer die harde donderweer praat? Bars reënbuie ook onverwags en luidkeels oor die droë aarde uit? Is daar pers-blou Jakarandas en geel grasvlaktes? Gaan my hart verlang na die vertoning van Air France wanneer sy grasieus in haar wit uitrusting deur die helder blou van die Gautengse hemelruim klief, die dosyne vliegtuie elke paar minute tydig en ontydig oor die huis dreun? En, hoe op dees aarde gaan ons Guppy se hondehuis oor die tuinhekkie getel kry??

Soveel opgewondenheid, soveel onsekerheid. Miskien moet mens nooit so lank op een plek woon nie want jy raak half vasgegroei daar, jou wortels verdik en word stokkerig-oud. Tog is die uitsorteer van lank vergete gebruiksartikels nooit ʼn slegte ding nie. En wanneer die jonger geslag nie ouma se ou slaai-en poedingbakkies wil hê nie, is daar altyd iemand anders wie se oë blink skitter wanneer ʼn winskoop oor hul pad kom. Die een se weggooigoed is ʼn ander se skat.

Diep asemhaal. Vyf tellings in, en vyf tellings uit. Rustig! Alles sal regkom want elke ding gebeur op die regte tyd.

Ano

April 2021- Oordenkingsprojek

2.Covid-oordenking – ‘n Blessing in disguise

(Woordtelling 400)

Na ʼn jaar van gedwonge inperking en probeer om nie in die openbaar te hoes nie, kyk ek bietjie terug en tel my seëninge.

Skoonseun was veronderstel om Januarie 2020 by ʼn lugredery te begin werk, maar omdat die maatskappy onder geldelike stremming was, is alle nuwe aanstellings en opleiding onmiddellik opgeskort. Natuurlik was dit ʼn geweldige terugslag want daar moes inderhaas by die ou werkgewer gesmeek word om sy vorige pos terug te kry. Dit het gekeer dat hulle nie alles verloor het en van ons afhanklik geword het nie. ʼn Blessing in disguise.

Dogter moes in Maart weer begin werk na ʼn paar maande tuis met nuwe baba, maar omdat die lugvaart letterlik tot stilstand gekom het, was haar pos ook na die maan. Dit was natuurlik ook ʼn skok, maar sy is innoverend en talentvol en tussen borsvoedings en slapelose nagte het sy ʼn suksesvolle bakkery op die been gebring. Slegte nuus vir die oomblik maar uiteindelik ʼn blessing in disguise.

Intussen het die jaar van gedwonge tuis bly my laat besef dat ek nie meer hier eenkant soos ʼn uil op ʼn kluit wil sit en kyk hoe die kinders aan die ander kant van die land grootword nie. Die president het nog nie eens gekug terwyl hy die reis tussen provinsies opgehef het nie, toe is die besluit al geneem. Die lewe is te kort en ons gaan teen almal se advies tog agter die kinders aan trek.

Huis word in die mark gesit, ons kry ʼn oënskynlike oneerlike agent en die eerste koopkontrak loop genadiglik skeef. Genadiglik? Iewers langs die pad vind ons uit dat die ander vent se “verkoopte” huis deel van ʼn onafgehandelde boedel is. ‘n Blessing in disguise maar ek swets steeds ʼn paar woordjies. Intussen word ʼn groot wens hemelwaarts gestuur: ʼn kontant koper asb. en jong mense met klein kinders – hierdie erf soek kinders. So word die gesinnetjie netjies by ons adres afgelewer, perfek volgens bestelling! Drie weke na die dokumente onderteken is, is die registrasie afgehandel. Wie sou ooit kon raai dat enigiets in hierdie tyd so vinnig kan gebeur?

En terwyl ek luister hoe ʼn pensionaris *** en kla oor die verlore jaar (?) en ʼn ander nie kan kuier en kerk toe gaan nie, vou ek my hande uit dankbaarheid saam vir al die oorvloedige seëninge wat oor ons pad gekom het. Voorwaar ʼn geseënde jaar!

Ano

Junie 2021 – Interteksualiteits projek

1.Ledigheid is die Duiwel se oorkussing

(Stergradering : Silwer. Woordtelling : 385)

“Ledigheid is die duiwel se oorkussing” was seker Moeder se geliefkoosde uitdrukking. Oënskynlik het sy baie van ledigheid geweet en heel duidelik geen vertroue in die mensdom en hul (goeie) oordeel gehad nie. Enige uitdrukking – positief of negatief – word dan ook baie vinnig deel van jou denkwyse, veral as dit op ‘n byna daaglikse basis saam met pap en melk opgedis word. En dit wat jy glo is ook duidelik sigbaar in jou daaglikse handel en wandel. Om dan ook heeltyd die slegste van ‘n ander te verwag, is verseker nie vrugbare grond vir goeie gedrag nie. Indien jy van mening is dat ‘n sekere persoon baie ledige tyd op hande het en daarom verseker aan een of ander onheilige praktyk gaan deelneem, het jy hom klaar veroordeel en skuldig bevind, selfs al het hy nog niks gedoen nie! Hiermee word dus gesinspeel dat die mens inherent sleg is en indien hy ‘n oomblik van stilte sou beleef, word allerhande onheilighede sommer gou-gou uitgedink – wat natuurlik nie noodwendig waar is nie.

Sondes soos die misbruik van drank/dwelms/seks, buite-egtelike verhoudings, ‘n gejaag na geld en roem, hoogmoed, afguns, leuens, diefstal, moord, verkragting of enige ander aksie wat jou medemens op enige manier skaad – liggaamlik, geestelik of sielkundig, het nie ledigheid nodig om bedink of uitgevoer te word nie, maar alleenlik ‘n geleentheid en gewillige deelnemer nodig. Selfs die persoon wat sy dae so stampvol met aktiwiteite pak dat daar nie tyd is om sy gedagtes te draai nie, kan tyd skep om die duiwel van oor tot oor te laat glimlag.

Maar waarom is ledigheid nie noodwendig die duiwel se oorkussing nie? Elke lewende wese het stil tyd in sy lewe nodig. Tyd vir stilte is egter ‘n uiters belangrike deel van elkeen se lewe en skep die geleentheid vir broodnodige rus en introspeksie. Dit is ‘n tyd waar kreatiwiteit die kans kry om op die voorgrond te tree en ‘n persoon wat nie weet hoe om kreatief ledig te wees nie, loop die gevaar van uitbranding. Die keuse daar sal dan wees of jy kattekwaad beplan of die tyd gebruik om na liggaam en siel te herstel van die druk van die daaglikse lewe. Soms neem dit ‘n ernstige kopskuif om weg te kom van spreekwoorde wat al eeue van geslag na geslag oorgedra word.

Ano

Augustus 2022 – My huis is my woning projek

3.Huis, paleis pandok, varkhok

Ja-nee-wat, een plek waar ek nou nie sal aanpas nie, is daai plekkie wat skitterblink van bo tot onder en daar nie eens ʼn foto raampie op gisteraand se gebruikte kaggel staan nie. Te klinies en onpersoonlik. Vriendin vra juis om verskoning dat haar woning so deurmekaar is en ek kyk verwonderend rond want daar is niks wat moontlik deurmekaar kan wees nie. Ek kan my weerkaatsing in die teëlvloere sien en die kaal rusbank se leer kraak klinies-ongemaklik onder my agterstewe. Dis koud en onpersoonlik daarbinne. Letterlik. Dit is nie net die min sonlig in die huis wat my laat ril nie, maar ook die gasvrou se perfeksie. Elke haartjie op sy plek terwyl Ano alweer lyk asof sy reeds weke gelede kop eerste uit ʼn stokou tuimeldroër getuimel het. Ek wil-wil my pinkie in die lug hou terwyl ek fyntjies aan my teetjies suig, maar ek weier ook koppig om my met hierdie eksie-perfeksie lewenswyse te laat intimideer. En, sy mag dalk net die waarheid agterkom en vermoed ek spot so liggies, maar baie openlik, met haar.

Dan kan ek ook nie help om te wonder wat sy van my en my ou deurmekaar huisie dink nie. Gister se koerant lê nog op die kombuistafel en dit is okay, ons blaai nog daarin en maak ʼn lysie van Checkers se nuutste spesiale aanbiedinge. Die skottelgoed is gewas en gebêre, maar die vadoek hang aan die hakkie langs die wasbak. Oh genade, wat ʼn afskuwelikheid!

My verbeelding hardloop met my weg wanneer ek dink dat liewe vriendin eers ʼn paar kalmeerpilletjies moet sluk nog voordat sy dit oorweeg om in te loer. Sy moet so half in ʼn beswyming verkeer om hierdie deurmekaar plek te oorleef. En natuurlik is daar hopeloos te veel kaggel**kkies, soos my skoonseun laggend na my versameling “goetertjies” verwys. Dalk is dit nie ʼn goedige laggie nie, maar eerder een gebore uit pure benoudheid en hartlik oor sy lippe borrel wanneer hy na hul toekomstige erflating kyk. My ore slaat bot toe. Solank ek met verf, lappies en gom kan skep, sal daar allerhande goetertjies gebore word, vinniger as wat dit nuwe base kan kry.

Die mure en teëls is ʼn warm, vrolike kleur met sonlig wat by byna elke venster instroom. Gister het Hubby ʼn modderspoor op die kombuisvloer getrap, en niemand het ʼn aar gebars nie. Genadiglik is skoonmoeder ook nie meer hier om met haar lappie te vee waar jy ookal jou voete oplig nie. Partymaal word orde en higiëne so ver gevoer dat mens te bang is om daar binne asem te haal. Jy weet, jou asem bevat waterdruppels en dit gaan sit op elke denkbare oppervlak. Jou vingerafdrukke ook. In sommige huise hou ek maar liefs my handjies op my skoot want mens weet nooit watse kieme mens op die gepoleerde Embuia meubels gaan laat nie. Ek kug maar saggies in my elmboog sodat daar so min as moontlik “mens” in hierdie kil laboratorium sal agterbly. Wie weet, dalk versamel die mense DNA of iets vir een of ander eksperiment.

My ou huisie is ʼn plek om gemaklik te wees. Een waar die kinders hul blokkies en poppe op die mat kan uitgooi en lustig kan speel. Die speelgoed sal wel weer hul plek na die kas vind en as dit nou ʼn dag of twee op die tafel bly rondstaan, gaan niemand mor nie. Dit is immers nie nodig om die huis te steriliseer sodra die voordeur agter die gaste toeklap nie. Hier moet jy met ʼn behaaglike sug op die bed kan neerval en nie bekommerd wees omdat die duvet nie meer eksie perfeksie is nie. Jy moet rustig koffie kan drink sonder om te sien hoe die gasvrou die koppies was nog voordat dit in die wasbak grondgevat het.

Ek kuier graag in ʼn plek waar ek weet ek mag maar my voete op die rusbank sit, maar dit uit respek nie doen nie. Dit is waar ek tuis is. Daardie plek waar die hond en drie katte ook in die sitkamer mag sit sonder om verskree te word.

Maar wat is ʼn huis sonder ʼn bietjie warmte? Net ʼn baksteen gebou, niks meer nie. Die skouhuise op Top Billing. Die blou-blou swembad en wasige wit gordyne wat liggies deur die skuifdeure waai. Die haarlose Windhond moet verkieslik buite sit bly maar steeds snags sy plek as liefdevolle waghond volstaan. Nooit sal jy ooit ʼn modder voetspoortjie op die kliniese kombuisteëls vind nie.

En dalk, eendag wanneer Hubby dit sou waag om na ʼn verdwaalde laatnag uitstappie by die voordeur in te sluip en my met ʼn besem in die hand sou betrap, sal hy seker ietwat verbaas vra of ek huis skoonmaak of dalk beplan om iewers heen te vlieg? Dit sal heel waarskynlik die laataand vlug wees, want ons vroutjies is mos kreatief en weet tog waarvoor besems eintlik gebruik word, of hoe?

Ano

September 2022 – Snelheidsprojek

2.Daar is reëls?

(Woordtelling 832)

Spoed mag dalk die enkele grootste bydraende faktor tot ernstige motorongelukke wees, maar dit is verseker nie die enigste probleem nie. Die wetstoepassers verloor maklik uit die oog dat die mense toenemend ongeduldig en wetteloos op die paaie bestuur. En dat reëls skynbaar net vir enkeles geld – natuurlik diegene wat darem probeer om die regte ding te doen, al kyk niemand nie. En, hierdie selfde wetstoepassers is tjoepstil oor hul eie bydrae tot die toestand van algehele wetteloosheid. Die feit dat hierdie reëls vir die voëls geskryf word en niemand dit toepas nie, help geensins.

Wat van al die onpadwaardige voertuie op die pad? Hoeveel keer gebeur dit dat die een voertuig in die donker, in die een voor hom se agterend inry, net omdat die voorste motor nie ligte het om aan te skakel nie? Niemand hoef eintlik vreeslik vinnig te ry om steeds ʼn noodlottige ongeluk betrokke te wees nie.

As ek ooit gedink het dat die mense van Gauteng nie eintlik padreëls toepas nie, het ek verseker ʼn verrassing gekry na ons na die Oos-Kaap verhuis het. Na al hierdie tyd bid ek nog steeds voordat ek my lewe in die stroom motors rondom ʼn sirkel waag, want hier is jou kanse skraal dat enigeen jou sommer ʼn beurt sal gee, al is dit volgens reëls jou beurt om te ry. Dit is opmerklik hoe dankbaar party bestuurders is indien iemand hul wel ʼn ou kansie gun om ook in die stroom in te kom. En moet dit nou net nie waag om vir die gebore-en-getoë Oos-Kapenaars daarop wys nie! Jy het ʼn beter kans om lewendig anderkant uit te kom indien jy jou kop deur die tralies van die leeuhok sou steek.

Of die mense ken nie hul padreëls nie, of hulle gee bloot nie om nie. Dit is elke mens vir homself en jy mag skynbaar maak soos jy wil. ʼn Rooi verkeerslig? Ag nee wat, dis mos net ʼn kleinerige lastigheid van tydmors. Ons glip net so saggies oor en maak asof botter nie in jou mond kan smelt nie.

En ja, ons weet almal hoe ongerieflik dit kan wees as dit jou beurt is om nie elektrisiteit te hê nie. Die verkeersligte se koppe hang moeg en mense kan goed warm onder die kraag raak wanneer hulle mekaar so een-vir-een ʼn beurt moet gee om te ry. Maar so staan ek eendag geduldig in die lang stroom motors, wagtend dat dit uiteindelik genoeg sal krimp tot daar waar ek in die linker-draaibaan kan inskuif. Daar was seker ʼn engeltjie of twee wat vir bietjie oponthoud gesorg het, want die volgende oomblik hoor ek net ʼn geklap en gedonder van die linkerkant af. Ek koes half verskrik en wil-wil net my kop met my t-hemp toemaak. Donderweer kan nie soveel geraas maak nie, en hier van die agterkant af kom ʼn yslike vragmotor sommer op die sypaadjie aangestorm, op pad na daardie einste linkerbaan. Miskien moes hy dringend by ʼn toilet uitkom want hy kon net nie wag nie. Sy voertuig is mos groot en vir wat sal hy hom dan aan ʼn kleinigheid soos “staan in die ry en wag jou beurt af”, steur? En al die tyd het ek gedink dat die stroke teer vir die motors is en die stroke gras vir die voetgangers.

Dan praat ons nie eens wat op die paaie buite die stede aangaan nie. Die twee-baan paadjie wat al langs die kus tussen Port Alfred en Port Elizabeth kronkel, het al gesorg dat menige bestuurder nooit sy eindbestemming bereik nie. ʼn Sperstreep? Haai, het die verkeersdepartement dan vergeet om spasies in te sit? As jy ʼn ander motor wil verbysteek maak jy soos jy smaak, net wanneer jy wil. Die bestuurder wat van voor af aankom moet maar uitswaai, al is daar nie eens ‘n skouer aan die kant van die pad nie. Die ou dae se verkeersbeamptes het al afgetree en vandag s’n is nutteloos. Daar is niemand wat agter ʼn bos sit en kyk dat jy jou mooi gedra nie. Die snelheidsgrens is in elk geval net vir sissies en dit lyk asof die meeste mense nie afstand kan skat nie. Hier moet jy maar staalwol op jou tande groei, of eerder tuis bly. Maar ons het al geleer om oë reg rondom ons kop te groei en is heeltyd besig om al agt daarvan te gebruik.

Dus, al sterf derduisende mense jaarliks op die paaie weens spoed, moet die mens se gebrek aan respek eers aangespreek word. Hy moet eers verantwoordelik gehou word wanneer hy die “kleiner” reëls oortree voordat hy sal ag slaan dat daar ʼn spoedgrens vir ʼn rede is. Die verbreking van padreëls is eintlik net ʼn simptoom van ʼn baie groter probleem: die gebrek aan respek vir mekaar en om ander lief te hê soos jouself. Daar is geen prys aan die einde van die dag wanneer jy jouself soos ʼn padvark gedra nie, al dink jy dat jy nou grootmeneer is!

Ano

November 2022 – OOP Projek

3.Winkeltjies om oor huis toe te skryf
(woordtelling 1717)

So byna verstik ek aan my graanvlokkies toe die nuus breek dat daar ʼn moontlike R3 prysverhoging in die petrolprys gaan wees. Dit voel asof die nuusberig van iewers baie ver af aangesweef kom. My ore sing skielik te hard en terwyl ek en Hubby met groot oë na mekaar sit en staar, besluit ons daar en dan dat van uitstel ook afstel kom, en dis nou of nooit.

Dis reeds donkiejare vandat ek die eerste keer moes hoor hoe Hubby droom om eendag deur die land te reis en al daardie piepklein dorpies te besoek waar daar net een stopstraat en ʼn maer hoender is. In my gedagtes is klein dorpies ʼn piepklein spikkeltjie op die landkaart, een stopstraat en heel waarskynlik net twee twyfelagtige geskraapte paaie. As stadsjapie kan ek seker maar erken dat dit my werklik bang maak want die anonimiteit van die stad pas my immers heel goed.

Iewers in my agterkop het ek die idee dat klein-dorpie-mense te min het om te doen en te veel tyd spandeer om die bure se doen en late te bekyk – en dit dan met kleur en geur oor te vertel. So het my liewe skoonsuster ʼn nuwe rusbank gekoop en voor die ding nog sy staan in die sitkamer gekry het, was buurvrou al klaar daar om ʼn opinie te lug.

Maar dit was nou of nooit. Die petrolprys gaan nie vinnig ophou styg nie en as ons wil gaan kyk hoe ander mense lewe, beter ons haastig lewe in ons uitgedorde geraamtes kry.

Ons kom ooreen om by ELKE liewe padstal te stop en die plaaslike verkopers en kunstenaars te ondersteun. Gelukkig maak Hubby se swakheid vir konfyt en tuisgebakte koekies die inkopies darem effens makliker. Immers werk die mense hard om hul produkte op die rak te kry en uit waardering sal ons hulle op ons beskeie manier ondersteun. Maar niemand het ons gesê dat tussen hiér en dáár ten minste ʼn honderd padstalletjies soos wafferse soldate geplant staan nie.

Ons reis op die R62 begin douvoordag in alle erns. Soms is die dorpies so klein, dat indien daar nie ʼn padstal was nie, ons soos ʼn laag-vlieënde vuurpyl deur die dorp kon skiet. By gebrek aan derduisende inwoners en indrukwekkende winkels, bied hulle wel gasvryheid in oorvloed aan. Hulle doen nog moeite om bietjie te gesels en koffie aan te bied wat mens se oë laat toeknyp van pure lekkerkry. Die geur van kerrie pasteie wink en veroorsaak dat ons al agter ons neuse aanloop, al is dit nog lank nie etenstyd nie. Hubby hou van etenstyd op spesifieke ure van die dag en enigiets buite daardie uur is “nie nou tyd nie”. Maar waarom is 11uur nie goed genoeg vir middagete nie, veral as jou mond water net deur die geur daarvan!

In Oudtshoorn span ons vir ons eerste nag uit. Heerlik rustig en die geroep van die donkie is musiek in my ore. Die feit dat die toilet en die slaapkamer alleenlik met ʼn effense gordyntjie geskei word is effens uhm, grillerig, maar dis skoon. Om moet nie heeltemal in pessimisme te verval nie, kyk ons maar eerder die silwer randjie om die donker wolkie raak. In die stort moet mens jou danspassies ken wanneer die heerlike stroom water ewe skielik na yskoud verander, en pas na jy heeltemal wakker geskrik het, is dit skielik weer kokend. Mens kan sommer sien dat die huismense nog nooit in hul eie gastehuisie oorgebly het nie, want dan sou hulle geweet het dat die spieël ook vir jou gesigte trek wanneer jy daarin kyk. Seker om jou te koggel na daai verfrissende stort.

Waarom Uniondale spesifiek so ʼn groot indruk gemaak het, kan ek nou nie juis sê nie. Dit mag dalk al die spookstories wees, of die tannie by die winkel se duidelike gebrek aan valstande. Miskien is dit omdat die kerk, polisiestasie én begrafnisondernemer knus teenoor mekaar lê. Die marmelade is ongelukkig ʼn groot teleurstelling, want nie net is die stroop so dik en taai dat mens dit kan gebruik om brommers mee te vang nie, die lemoenskil is so hard dat ek in my gedagtes met ʼn goed gemikte korrel en n stukkie skil, ʼn lieflike karoo skapie in sy vier spore kan laat neersak. Net jammer die kettie is nie ingepak nie. Maar miskien is die probleem eerder dat dit my te veel herinner aan my eie gebrekkige kombuisvaardighede. Ons besluit dat ons stadsmaniere ons ongeskik en neus-optrekkerig maak, en ek skuif die potjie konfyt saggies opsy. Mens wil ook darem nie jou tande se blink stopsels uittrek en per ongeluk insluk nie.

Intussen lê die Karoo oop en wyd en al is dit winter, is die gras steeds groen met blou-grys bossies tussen-in. Die klipperige berge en bergpasse is asemrowend mooi. By Doornkraal leer ons dat ons water kan spaar deur wyn te drink. Ek verkyk my aan die gekleurde vere stowwers, die verskillende tipes sout en nog meer soorte konfyt. Daar is iets vir almal en die varsgebakte roosterkoek is uit die boonste rakke. Die moderne puttoilet en outydse wasskottel by Bella de Karoo is letterlik iets uit ʼn ander wêreld. Frikkie se Gat-plaas stal is net so indrukwekkend, maar dis Ronnie’s Sex Shop wat ons behoorlik na ons asem laat snak. Gekke en dwase skryf mos op mure en glase, dan nie? Hier is die mure so vol geskryf dat daar nie ʼn oop kolletjie is nie. Dit lyk wel asof die mure elke paar jaar geverf word want die datums reik darem nie te ver terug in die verlede nie. Honderde bra’s hang van die plafon af en ek kan nie help om te wonder of die vroumense dit sommer op die plek uitgetrek en oorhandig het nie. As ek ook moet oordeel oor die waatlemoen-groottes wat daar hang, moet party liefs nie sonder hul onderklere rondloop nie.

Mens kan sien dat die herfs hierdie kontrei nou reeds mooi onder sy geel-bruin kombers toegetrek het. Die landerye van vrugtebome, getooi in ‘n koeler herfs jas van geel en rooi, is beeldskoon. Natuurlik laai ons ʼn paar kilogram droë vrugte en neute in ons mandjie. Wat is dan lekkerder as vrugte uit die boord, al is dit gedroog? Mens ry bloot net nie deur Ceres en Montague en koop nie vrugte nie! In Rome maak jy soos die Romeine en as jy jouself in die land van vrugte bevind, eet jy vrugte!

Iewers tussen hier en daar klim ek op die rug van ʼn metaal draak en ons gly deur die blou hemelruim tot waar die wolke opbreek en stilweg verdamp. Wat ʼn ondervinding! En watter wonderlike talent van die kunstenaar om uit skroot materiaal so ʼn skepping te kan maak. Nooit sal ek weer met dieselfde belangelose oë na drake en blik-diere kyk nie.

Dit gebeur toe natuurlik ook so dat ons op ʼn Saterdag deur Tulbach reis. Die dorp se strate is oorspoel met plaaswerkers en ons eerste gedagte is dat dit ʼn opstand moet wees. Dit moet wees, want in Gauteng beteken so ʼn samedromming dat daar moeilikheid is – pas voordat die knopkieries en vuurhoutjies in die lug gestoot word! Angstig kyk ons rond, maar die massa vorm netjiese rye by die bank en supermark se ingange. Ek slaak ʼn sug van verligting want ja, dit is natuurlik die einde van die maand en Saterdag is mos tradisioneel ‘n inkopie dag.

Tulbach se ryk aan geskiedenis sorg dat ons eers bietjie tyd by die museum spandeer. Daar leer ons van die reuse aardskudding op 29 September 1969. 6.1 op die Richterskaal en het tussen 15 en 30 sekondes geduur. Baie mense het dan ook gedink dat die wederkoms aangebreek het. So ʼn reuse skudding is natuurlik redelik ongewoon hier aan die onderpunt van Afrika en ons geboue is bloot net nie bestand teen sulke hardhandige behandeling nie. Die ou huise en ander geskiedkundige geboue word uiteindelik herstel en selfs herbou. By die begraafplaas staan ons eers stil, hand op die hart, en spandeer ʼn paar stil oomblikke om die lewens te oordink van diegene wat ons vooruit gegaan het. Die oudste grafsteen is gemerk 1802. Dit bly vir my ʼn besonderse ontdekking om sulke ou stene te sien en verlustig my in die kunswerke wat sommige grafte versier en ook daardie’ s met net ʼn eenvoudige kruisie. Geen datum, geen naam. Dalk was dit ʼn slaaf en slawe was mos nie belangrik genoeg om aan erkenning te gee nie.

Maar wat is die Boland tog sonder waterblommetjies en wingerde? Dit maak ʼn verlange in my wakker waarvoor ek nie ʼn gemaklike plek kan vind nie. Weereens is dit tyd om uit te kamp en hierdie keer vind ons ʼn plekkie wat mens eers laat giggel en dan moedeloos laat. Die prop pas nie in die wasbak nie, maar ons moet asseblief water spaar. Daar is nie warm water nie, dus sal ons die minimum gebruik want ‘n koue stort op ʼn koue, reënerige dag was nog nooit my idee van lekker nie. Om die toilet te gebruik, moet mens eers gaan sit voordat jy die deur kan toetrek en die deur moet ook eers weer oopgestoot word voordat jy kan opstaan. Weereens, woon die mense nie vir ‘n dag of twee in hul eie klein gastehuisie voordat hulle besluit om dit uit te huur nie??

Bettiesbaai is so rustig as wat kan kom, want selfs die winkelier wys ons weg toe ons ʼn paar minute voor tien ʼn roomys wil koop. Sy vee nog vloer en kan onder geen omstandighede vyf minute vroeër oopmaak nie. Dit is darem verregaande om te verwag dat sy nou al ‘n roomys aan iemand moet verkoop! Genadiglik maak die boekwinkel se oordadige fonds op vir die teleurstelling en verwarring omdat die plekke nie voor tienuur besigheid doen nie. Ek sal maar my roomys-lus moet hou vir die volgende dorp.

So gly ons deur Hermanus en sy interessante kunswerke, oor Gansbaai en Swellendam se rollende groen heuwels. Kleinbrak-, Grootbrak en allerhande ander brakke tussenin. Dit is ʼn belewenis. By Heroldsbaai vra Hubby of ek Voëlklip wil besoek. Jy weet mos, daardie plek waar die motors gereeld en doelbewus oor die rand van die afgrond ry. “Nee wat, dankie.” Ek sal verkies dat ek met my tas en kussing afgelaai word en dan kan hy maar alleen gaan kyk. As passasier het ek absoluut geen begeerte om hierheen te gaan nie. Die uitsig mag dalk mooi wees, maar die tragiese stories rondom hierdie plek laat my onwillekeurig ril. Dit is soos om die gaskamers van Hitler te besoek.

Amper uit en tuis, maar ons maak eers ʼn draai by Plettenbergbaai se Monkey- en Bird Park. Dit is darem nou nie aldag wat jou gids soos ʼn wafferse apie hoog in die boom kan klim nie! Net ʼn raps meer as 1000km verder, en ʼn paar lam boude, weet ons dat ons eendag weer hierdie roete moet ry. Volgende keer dalk net ʼn bietjie stadiger, en ja, ons sal weer by elke padstal ietsie koop. Eendag, wanneer die petrol prys nie meer sy tande wys nie.

Ano

Desember 2022 – Samesyn projek

1.Samesyn sonder die Grinch

Vir al daardie outjies wat moeiteloos die genot uit enige Kersfeesviering kan suig.

Ek het in ʼn huis grootgeword waar my drie sibbe met Kersfeesvieringe en al die ‘trimmings’ grootgeword het. Teen die tyd wat Ano byna ʼn dekade later gearriveer het, het hulle hulself van hul heidense weë bekeer en daar is alleenlik gefokus op die Christus verhaal. Dit is reg so, ons moet meer op Christus fokus as die wêreldse genot, maar ai tog, die lewe is darem wraggies net nie swart of wit nie. Jy hoef darem rêrig nie ook die baba saam met die badwater uitgooi nie. En so het hulle deel van die Grinch-kultuur geword en die feestelikheid uit die fees gesuig. Geen versierings in die huis nie, geen geskenke nie. Niks. En sover ek kan onthou, ook geen samesyn met familie nie. Dit was maar net nog ʼn vaal dag in die middel van ʼn lang, vervelige Desembervakansie.

Januarie en terug by die skool, het my maats baie te vertelle gehad terwyl ek het niks gehad om te sê nie. Dit is nogal iets wat my deur die jare bygebly het. Daardie gevoel dat mens buitekant in die koue staan en kyk hoe die familie vrolik saam verkeer. Dan weet jy dat jy anders is as die res. Miskien nie uit keuse nie, maar jy is anders. Gebrandmerk. En jy kry skaam daaroor.

Interessant genoeg, is twee van my drie sibbe vandag een-honderd persent gekant teen enige viering van Kersfees en selfs die herdenking as Christus se geboortedag. Ek is egter effens onseker oor die ander een want hy is glad nie so openlik en verbaal gekant teen die vrolikheid nie. En ek, ek maak op vir die gebrek aan aardse genot gedurende my kinderjare. Ek slaan daai gehate boom op en behang dit met liggies van bo tot onder. Teen die tyd wat ek klaar is, lyk dit soos Kaapstad op ʼn mooi someraand.

Ousus het hoeka gesê ek aanbid die boom, maar wragtag, sy slaan dan daai bal nou ook maar lekker mis. As dit so sou wees, dan aanbid ek ook seker ander lekker dinge soos sjokolade, pizza, fliek, ʼn mooi boek, mooi rokkies, om met verf te kan mors, en so aan. Kindertyd het ek mos in die kerk gehoor dat alles wat mens plesier sou bring, sonde is. So ja, daar is dit dan nou.

Hemeltjie tog, het ons darem nou ernstige hang-ups of wat??

Gewoonlik teen hierdie tyd van die jaar is my siel behoorlik moeg. Sy kort stilte. Eintlik meer stilte weg van Facebook af, veral oor die Kerstyd, as enigiets anders. Dit is ʼn moegheid wat al die slaap in die wêreld nie kan regmaak nie. Hierdie tamheid in my siel het ook nou al ʼn jaarlikse ding geword wanneer die Facebook vriende oor en weer begin twis oor die gebruik om Kersfees te vier – of nie. Daar is altyd ʼn paar wat verwoed daarteen baklei, en dan die ander wat in teenreaksie plaas dat hulle wel die dag sal vier.

Om eerlik te wees, die hele storie maak my al naar.

Dit maak ook nie saak aan watter kant van die draad jy staan nie, jy sal nooit as te nimmer almal gelukkig kan maak nie. Daar sal ALTYD iemand wees wat ʼn knoop in sy derms kry omdat ander daarvan hou om geskenke uit te deel, en daar sal ALTYD iemand anders wees wat heeltemal oorboord gaan en homself in skuld dompel, net om by die blink bure by te hou.

Gelukkig het ek nie ryk bure nie, en gelukkig hou ek nie daarvan om met ander te kompeteer nie. Ek is my eie mens, doen wat my gelukkig maak, en probeer om my ekstreme, radikale, onverdraagsame vriende en familie te ignoreer. Grotendeels. Party jare gaan dit moeiliker as ander jare, maar hierdie jaar skryf ek Ikabot onder ‘n paar name. Ek is nou al deeglik g*tvol vir almal se getwis en gekerm oor Valentynsdag, die paashaas, en of Krismisvader sy voete oor my deurdrumpel mag sit of nie. Die goed waarin grootmense glo lyk net ʼn bietjie anders, en dit maak in elk geval nie noodwendig sin nie. Maar kryt ons dit uit asof die duiwel homself by jou huis ingetrek het?

Hierdie tyd van die jaar hou ek maar baie bolangs kontak met sekere familie. Immers kan ek ook net soveel keer op my sondige weë gewys word voordat die melk in my koffie suur raak. Dus, my liewe susters, broer en al my vriende, my ou boompie flikker van bo tot onder en daaronder pryk die geskenkies vir my kleinkinders. Ons gaan more lekker koue slaai en vleis bedien met appeltert agterna. Julle is ongelukkig nie genooi nie want dit mag darem net nie lyk asof ons die 25e Desember geniet nie!

Ano

Januarie 2023 – Projek NUUT

1.In hierdie oomblik

(Woordtelling 713)

 

In plaas daarvan dat ek my ou gewoontes uithaal en my tot in ʼn ander bloedgroep in vererg, besluit ek een oggend dat dit nou tyd is om bietjie vonkelnuut oor hierdie hele kraglose affêre te dink. Eskom en sy berugte skedules maak te dikwels my wiele pap. Sug. Dit wissel ook nou so vinnig tussen die verskillende vlakke dat gʼn mens meer kan byhou nie.

My kop speel rondomtalie wanneer dit vanoggend nog op vlak 2 was, en teen vanaand sit ons in die donker wanneer vlak 6 onverwags sy opwagting gemaak het. Maar nou ja, al is die tye sonder elektrisiteit maar bra irriterend, is ek terselfdertyd dankbaar dat hulle my noodgedwonge voor die rekenaar laat padgee en vir ’n wyle elders aandag gee. So het ek al ʼn goeie duik in my “Moet-Nog-Lees”-stapel boeke gemaak – daardie boks onder die bed waarvan Hubby nie weet nie. En ek het selfs al geleer hoe om ’n bietjie helder verf op ’n wit doek te spat. Nie asof daardie kunsie altyd suksesvol is nie, maar wat, as jy moet stilsit, kan jy netsowel in ’n ander vertrek, en op ʼn ander manier, produktief wees. Soms beland ʼn paar spatsels van daardie helder verf teen die muur en kaste, maar dit word vinnig afgevee voordat die verkeerde oë dit raaksien!

Gewoonlik gee Eskom ʼn 55-minuut waarskuwing dat jou nou maar daardie laaste dokument moet stoor, anders gaan jy dit more weer moet oordoen. Dit gebeur egter hopeloos te veel dat ek nie daardie waarskuwing hoor nie, en tjoeps, daar het die rekenaar ʼn vinnige dood gesterf en alles waaraan ek gewerk het is heel waarskynlik tot niet. En natuurlik was daar ʼn hele aantal internet ‘tabs’ oop. Ek was immers nog besig met navorsing en nou is alles weg. My idees is ook sommer weg. Heeltemal van noot af sing ek ʼn paar lelike vloekwoorde en vanuit die vertrek langsaan rasper Hubby se stem soos hy my alweer oor die kole haal oor my vieslike taalgebruik. Nou nie asof dit ʼn blywende indruk maak nie, want more of oormore gaan dieselfde ding miskien weer gebeur. Die vloekery natuurlik, want die beurtkrag is natuurlik ʼn gegewe.

Dit raak net ʼn lollery wanneer ek ʼn vergadering saam met die spul Amerikaners moet bywoon, en hulle my aanstaar asof ek praat van houtstellasies op die maan oprig sodat die wortels se blare iets sal hê om teen op te rank. Hierdie “dis nou jou beurt om elektrisiteit te gebruik”, verstaan hulle glad nie, en is maar te dankbaar indien ek wel vir die vergadering opdaag. Geïrriteerd kyk ek na die jammerlike trek van simpatie op hul gesigte. In hul gedagtes woon ons natuurlik almal in modderhutte, dra geskeurde lendedoeke, speel met ʼn stok en rollende motorbande, en leeus loop in die strate rond. Wel, deesdae lyk dit my daar stap tiere in ons strate rond, maar ons praat nie uit nie. Ons is net dankbaar vir die toegif van nou-en-dan-is-dit-jou-beurt.

Ek slaan my oë dakwaarts en besluit dat dit tyd is om ʼn ander houding in te neem, al maak ek daardie besluit seker al om die tweede dag. Sommige van hierdie gedwonge stiltes gaan ek nou gebruik om bietjie stil te raak. Heeltemal doodstil. Ek wil niks en niemand se stories of kommentaar hoor nie. Ek wil ʼn kennisgewing teen my studeerkamer se deur plak wat geen ruimte sal laat oor wat daar toegelaat word nie. ʼn Kort en kragtige “Shut-Up” behoort die ding te doen, alhoewel ek nooit heeltemal seker is dat Hubby wel kan lees nie. Wanneer ek betrap word dat ek ʼn handvol minute met toe oë in stilte sit, word dit gewoonlik begroet met, “dis darem lekker!”. Ook maar lekker sarkasties.

Ons werk teen ʼn spoed, ons speel teen ʼn spoed. Ons doen internet aankope teen ʼn spoed en dit is nie altyd suksesvol nie, veral nie as jy met een oog op die horlosie vinnige besluite moet maak nie. So het ek al per ongeluk twee van dieselfde produk bestel en Dogter was maar alte gelukkig om ʼn onverwagse geskenkie te kry.

Elke dag probeer ek om met vars oë na die nuwe dag se uitdagings te kyk. Soms is dit suksesvol en ander dae, wel, more probeer ons maar weer.

Ano

 

Maart 2023 – OOP projek

1.Steeds kaalvoet, swanger en minderwaardig

(Woordtelling : 997)

 

Meestal hou ek nie my asem op wanneer politici praat nie, want gewoonlik moet jy eers hul woorde gaan ontleed en ten minste drie maal vir die waarheid toets voor jy dit kan glo, maar toe President Ramaphosa sê dat “ʼn vrou se plek nie net in die huis is nie”, het my ore kierts regop in afwagting gaan staan!

Dit was een mooi Sondagoggend toe ek na ʼn onderhoud met ʼn vroulike predikant oor RSG luister. Sy het reguit gesê dat sy baie minder as haar manlike eweknieë verdien, al moet sy buiten haar pligte as predikant, ook die pligte nakom wat gewoonlik op die predikant se eggenoot, se skouers val. Sonder ekstra vergoeding natuurlik. My bloeddruk het sommer met ʼn hele paar grade gestyg, want ek het geen tyd vir nonsens nie. Wat goed is vir die een, is goed vir die ander, maak nie saak wat jou kleur, geur, lengte of geslag is nie. Dieselfde ding gebeur ook in die onderwys, en wie weet waar nog oral.

En natuurlik het Ano haar mond daaroor oopgemaak en dit het hul huwelik tot op die rand van ʼn bed-en-tafel skeiding gebring. Tot haar skok het sy agtergekom dat Hubby in die stilligheid ʼn baie seksistiese wese is. Hy kan dit natuurlik vanuit die Bybel staaf dat die man die heerser oor die vrou is, en daarom is die man belangriker. Die vrou daarenteen, is minderwaardig, nie so ʼn goeie leier nie, en hoort eintlik kaalvoet, swanger en in die kombuis. Dit is net baie jammer dat hy hier nie die Groot Prys gewen het nie, want Ano mag miskien van kaalvoet hou, maar die kombuis is niks meer as ʼn onmisbare ergernis in ʼn huis nie, en sy ʼn baie duidelike strepie getrek oor die hoeveelheid swangerskappe wat daai lyf gewillig sou verduur.

Die verskoning waarom mans meer as hul vroulike eweknie behoort te verdien, is omdat sy ʼn vrou is. Dit is vernederend om gesien te word as “minder as”, bloot omdat jy ʼn baarmoeder het en jou babas kan borsvoed. En ag ja, vroue se IK is natuurlik nie so hoog soos syne nie. Nog ʼn lamlendige verskoning is dat vroue nie die broodwinner van die huishouding is nie, ongeag die feit dat sowat 40% van alle huwelike in die skeihof opeindig en talle huishoudings uit net ʼn ma en kroos bestaan.

Die ewig-stygende lewenskoste veroorsaak dat baie min vroue nog die voorreg om “net” tuis te bly en die kinders te versorg. Dit opsigself is dit reeds ʼn voltydse werk – waarvoor sy nie noodwendig vergoeding ontvang nie. Dikwels is daardie sakgeldjie wat in haar rigting gestoot word, niks minder as  ʼn belediging nie, siende dat sy nie net die voltydse versorger is nie, maar ook die rol van verpleegster, dieetkundige, finansiële beplanner, aktiwiteit koördineerder, opvoedkundige, sielkundige, trooster, verhoudings terapeut, spirituele leier, kleremaker, en nog vele ander rolle, moet vertolk. In kort, jy kan nie ʼn tuisbly ma met ʼn salaris vergoed nie. In die meeste gevalle word die vrou gedwing om buite die huis te gaan werk net sodat die gesin darem kop bo water kan hou.

Vrouens is wel van nature meer geneig om ondersteunende beroepe soos verpligting en onderrig te volg, terwyl mans meer dikwels in konstruksie, ingenieurswese en beroepsgebaseerde poste belangstel. Maar tog is daar heelwat mans wat hulself in ʼn tradisionele vroulike beroep bevind, en net soveel vrouens wat hulself in die tradisionele manlike beroepswêreld uitleef. Dit het niks met geslag te doen nie, maar veel eerder met persoonlikheid. Om van ʼn vrou met natuurlike leierseienskappe te verwag om eerder ʼn ander se toonnaels te verf, sal haar binne ure teen die mure uitdryf.

Ek wil amper vra wat het al hierdie goed nou met die prys van eiers te doen? Wanneer ʼn man en vrou dieselfde kursus by dieselfde universiteit voltooi het, dieselfde tipe pos by dieselfde firma aanvaar, is dit nie logies dat hulle ewe veel betaal moet word nie? Skynbaar nie. Al die verskonings wat hierbo genoem was, word gou uitgehaal en afgestof. Verder word vrouens word nog steeds as seksobjekte gesien. Iets wat altyd mooi te lyk, wat die huis moet skoon hou, sorg dat daar drie maal per dag lekker kos op die tafel verskyn, en almal se nukke en grille in stilte moet verduur. Dan is jy ʼn goeie vrou.

Ano is nie ʼn goeie vrou nie en meestal vol neuk. Sy het ook geen brownie-punte by die grootouers verdien toe sy daarop aangedring het dat wanneer Sus lekkergoed kry, Boet dieselfde sal ontvang nie. Sulke nonsens sou nie onder hierdie dak verduur word nie. En jy gee nie vir een ʼn kind ʼn dubbele verjaardaggeskenk omdat hy die familienaam dra nie. Dit is nie sy skuld dat sy ouers so besluit het nie, of dalk saggies daarin gedwing was nie.

Vir diegene wat dit nog nie weet nie, mans is nie klein godjies wat van kop tot tone bedien moet word nie, al wil sommiges hulself so gedra. Op die oog af lyk dit asof die jonger geslag meer geneig is om die vrou as hul eweknie te sien, en nie iemand wat minder as haar maklike eweknie moet verdien nie.

ʼn Studie in 2018 deur die Wêreld Ekonomiese Forum, het voorspel dat dit meer as 200 jaar sou neem om die gaping in verdienste te vernou. In Suid-Afrika verdien mans nagenoeg 22,7 persent meer as vroue in dieselfde permanente pos, en 39 persent meer vir dieselfde deeltydse pos. Hierdie syfers maak dit duidelik dat vroue verseker nie so gelyk geag word as wat die samelewing graag voorgee nie.

Mnr. Ramaphosa, ons almal sal almal al vergete onder die kluite lê want 200 jaar is baie lank. Wie weet hoe lank dit werklik sal neem om die geslagte gelyke regte en voorregte te gee. Wie weet hoe lank dit sal neem voor mense om ophou om teen ander te diskrimineer, net omdat hulle anders lyk, en daarom sommer ook “minder werd” is.

Ano

 

Junie 2023 – Winter projek

2.Koud én nat, nee dankie!

(Woordtelling 747 )

Nee wat, ’n wintervakansie is net so lekker langs die warmer suidkus se strande as om te betaal om elders koud te kry. In elk geval, ons Suid-Afrikaanse kleredrag laat nie veel ruimte vir sulke uiterste koue nie en as jou skoene eers nat geword het van daardie pragtige sneeu, voel jou tone soos tien gevriesde ysblokkies aan ’n stuk lood. My Kanadese vriendin het ʼn ekstra skaapvel ‘skoen’ wat sy aantrek voordat sy haar normale stewels aantrek. Ons ken nie sulke goed nie.

Waar gaan ek ʼn ekstra dik baadjie, opgestop met sagte gans-donsies opspoor? Die winkelassistent sal my heel waarskynlik aankyk asof ek van Mars afkom. Dit sal bloot buite haar ervaringsveld wees. Ons woon in ʼn sonnige land, ons dra nie sulke dik klere hier nie.

Alhoewel ek dit al ’n keer raakgesien het, is long johns ook nie eintlik iets wat mens in elke klerewinkel raakloop nie. Ekstra dik wol-sokkies ook nie sommer nie. Vir al hierdie ekstra warm klere, moet jy seker eers na die buiteland reis om dit daar te gaan soek. Selfs my ou lang mou frokkies is maar effens aan die dun kant. Om sulke ekstreme weer te oorleef, sal ek seker albei moet aantrek, ʼn lang mou hemp, twee truie en dan nog ʼn baadjie bo-oor. Teen daardie tyd begin ek al hoe meer na die Oros-man lyk! Weet nie nie eintlik wat ek sal doen my ou dun klinknael broek dikker te kry nie. Mens kan ook nie soveel pare wol broekiekouse oormekaar aantrek, dan wil die broek ook nie meer lekker pas nie.

Kyk hoe lekker kla ek nou. As mens iets nie wil doen nie, gaan jy ‘n verskoning kry. As jy ‘n ding wil doen, gaan jy ‘n geleentheid raaksien.

Dit is nou nie asof ek nog nooit sneeu gesien het nie. Gewoonlik word die wêreld gou deur ʼn wit poeier laag tot ʼn sprokiesland omtower, en die volgende dag is dit óf weg, óf ʼn bruinerige sloesh. Guppy en die kinders het die onverwagse sprinkeling van ligte sneeu in Gauteng natuurlik vreeslik geniet – tot hulle met nat klere en stokstyf gevriesde hande die huis binnegestorm het. Klappertand van die koue. Dan is lekker ook nie meer lekker nie. Ma moes maar sorg dat hulle gou droë klere aantrek en het elkeen ʼn beker warm sjokolademelk in die hand gestop. Guppy se blinknat pels moes natuurlik eers drooggevryf word. En raai wie moes dit doen?? Daarna moes sy maar met die verwarmer tevrede wees.

Een jaar gedurende Oktober, kuier ons in die Oos-Kaap. Heerlik. Die weer was koel, maar sonnig. Ons het half ongelowig geglimlag toe die winkelassistent vertel dat dit dalk gaan sneeu. Haha, ja right. Ja jong, ons sien die pragtige blou lug en sonskyn belowe sneeu. Maar mens moet seker nie die noodlot tart nie, want net soos die weer-feetjies dit beplan het, het dit die aand voor ons terugreis begin sneeu. Nie langs die kus nie, maar die berigte was reeds daar dat die berge  in ‘n wit laag koue bedek is.

Sommer by die eerste motorhawe moes ons haastig uitvind watter pad die veiligste sou wees om te ry want sien, daar lê ʼn hele paar bergpasse tussen hier en daar en ons kan dit nie waag om dalk iewers langs die pad in die moeilikheid te beland en dan vir ure lank daar vas te val nie. Die rit was maar stadig en skaats-skaats oor die gladde pad, en hier en daar het ons ʼn motor gesien wat op ‘n ongemaklike plek reeds sy staan langs die pad gekry het.

Dit was bitterlik koud en natuurlik het ons nie die regte klere in ons bagasie gehad  om voorsiening te maak vir sulke drastiese weerpatrone nie. Dit is immers al Oktober! ʼn Pragtige wonderwêreld het voor ons oopgevou, maar boetie, dit was v-v-v-vrek kkkoud. Die motor se verwarmer het hard geblaas, maar dit het werklik nie veel verligting gebring nie. Nog nooit was ek so bly om die Vrystaatse vlaktes te sien nie, vaal en koud, maar heel oorleefbaar.

So, wil ek rêrig ʼn vakansie in die sneeu deurbring, veral as ek weet dat my ou kleertjies te dun is en my voete gou nat gaan wees? Miskien nie. Dit is veel lekkerder om my swembroek en ʼn paar kortmou T-hemde in te pak en op Durban se strand te gaan baljaar. Buitendien, die strande daar is gedurende die wintervakansie glad nie so vol soos gedurende die somermaande nie.

Ano

 

Oktober 2023 – KORT projek

1.Die kortste humeur van die jaar

(Woordtelling 149)

Onthou julle nog die dae van Safari pakke? ’n Broek met bypassende baadjie en dan daardie lang wolkouse. Grrrr. Dit moes hoog mode gewees het gedurende die 70’s en 80’s en het dekades langer gehou. Elke volbloed Boer het ten minste een so ’n pak in sy klerekas gehad. Dit was letterlik was-en-dra klere, wat Mammie natuurlik ongelooflik bly gemaak het.

Met Skoonouers se kuier was die stapel-klerekas natuurlik Safari pakke, en Skoonma, goeie huisvrou wat sy was, het letterlik álles gestryk. Eie aan my ongeduldige self, het ek altyd die strykyster net op die warmste stelling gebruik om die lastige werkie vinnig afgehandel te kry. Skoonma, gewoond daaraan dat haar yster nooit warmer as louwarm is nie, smelt kaplaks ’n yslike bruin, strykyster-vormige gat in Oupa se broek!

Dáár het ek geleer hoe vinnig jy in die moeilikheid kan kom, al was jy nie eens teenwoordig nie!

 

Ano

 

November 2023 – OOP projek

1.’n Swart draaikolk in November
(Woordtelling : 648)

Net soos die vlieg op die vensterbank sy handjies ingenome teen mekaar sit en vryf, vryf ek ook elke jaar my handjies teen mekaar in afwagting op die lang verwagte Swart Vrydag se spesiale aanbiedinge. Die hele jaar deur word geldjies eenkant gesit net om dit aan die einde van die jaar vlerke te gee. As mens nou nie versigtig werk nie, kan hierdie opgewondenheid jou egter hopeloos te vinnig, hopeloos te duur, te staan kom. Dit is immers nou nie asof daar nie ’n einde aan die tien een-Rand muntstukke in my klein maer beursie is nie. Ek draai elke munt ten minste twee maal om, en die laaste drie word sommer vier maal gedraai, ernstig oor die aankope oor nagedink, en soms (nie altyd nie), word die munt saggies teruggesit.
Ek het twee lysies vir aankope wat teen die einde van die jaar bepaald ’n paar bladsye beslaan. Die een is praktiese produkte wat ek deur die loop van die jaar gereeld gebruik en wat baie beslis aangevul moet word. Ek het immers al die kuns verfyn om slegs een maal per jaar haarprodukte teen ’n afslagprys te bekom, daarom hou ek die prys met ’n valkoog dop en bestel net op die regte oomblik – gewoonlik net voordat ek die boom van die laaste houer conditioner begin skraap. Soms hou ek my asem op wanneer dit voel asof die afslag nooit aangebied gaan word nie, maar dit was darem ook nog nooit nodig om enige nood aankope by die naaste apteek te doen nie.
Die ander is ’n regte-egte wenslys, goed wat ek nie nodig het om van te leef nie, maar tog lekker sal wees om te hê. Koop-koop, jou bek hang oop…! Hierdie jaar-eind-spesiale aanbiedinge kan mens maklik kop laat verloor, maar dit bly steeds die ideale geleentheid om ’n geskenkie of twee teen ’n goeie prys te bekom. Daar is immers twéé verjaarsdae aan die einde van die jaar en as mens nou ’n rand of tien kan bespaar, waarom nie? Dalk hoef ek een van daardie munte in my beursie net een maal om te draai.
As mens egter nie ’n skerp oog op jou beursie se inhoud hou nie, kan jy baie vinnig ontdek dat daar wel onverwags ’n swart draaikolk daarbinne ontstaan het. Dit is alte maklik om kop te verloor wanneer elke handelaar sy produkte baie verleidelik voor jou voete neergooi. Die hoeveelheid e-posse wat ek hierdie jaar ontvang het, het my byna gek gedryf! Elke dag het ek, sonder om dit oop te maak, die een na die ander na die asblik gestuur, heeltemal te bang ek word verlei om te spandeer waar dit nie nodig is nie. Immers is ek ’n vroumens en hoogs verleibaar met als wat blink en kleurvol is! Dis dalk nie skoentjies nie, maar daar is genoeg om my ogies bekoorlik te laat blink en die besighede weet dit! Tot my skaamte ken hulle al my naam én adres en ken ek die koerier ook al by die naam. Ons groet soos lang verlore vriende wanneer hy sy rondtes kom doen.
Die internet kan nogal ’n lastige ding wees, veral wanneer daardie flikkerende advertensies die hele tyd jou aandag van belangriker take aftrek. En raai, die liewe AI weet ook nét waarna ek graag kyk en kom vertel my dan hoe heerlik dit sal wees as hiérdie boek ook op my boekrak sal verskyn, of hiérdie blikkie verf/kwas/gom/glitter perfek vir daardie projek gaan werk. Ons weet mos wat om daarmee te doen. Nie net word dit teen ’n aansienlike afslag aangebied nie, ’n piepklein geskenkie word ook sommer as ’n verdere verleidingstaktiek ingesluit.
Koop-koop, jou bek hang oop…! Maak toe die ding, dis brommertyd. En nee, hou nou op om jou handjies te sit en vryf en gaan tel jou geldjies. Desember kan ’n lang maand wees as mens nie versigtig is nie.

Ano

Desember 2023 – Veldslag projek

2.Wanneer geloof n slagveld word

(Woordtelling : 400)

 

Geloof het deur baie eeue al bewys dat dit vrugbare grond vir oorlog is, geïnisieer deur jou persoonlike siening, maar eintlik gebreinspoel deur die kerk of betrokke denominasie. Die kerk sê hulle leef en preek net uit die Woord, maar hul interpretasie van die Bybel is soms skrikwekkend. Alhoewel dit onskuldig voorkom, is die uitleef van hul sienswyse dikwels liefdeloos, soms met ʼn goeie skoot indoktrinasie en selfs kwalik bedekte mishandeling.

Om vrae te vra is taboe. Of dit ʼn onskuldige vraag is oor ʼn storie in die Bybel, oor die leier se interpretasie van sekere Bybeltekste, of die siening van die betrokke kerk. Vrae mag jy nie vra nie want, mense wat vrae vra aanvaar nie meer alles wat aan hulle opgedis word nie. Mense wat vir hulself begin dink is gevaarlik wanneer jy met alle mag probeer om die massas blind te hou. Onwaarhede en valse waardes word met groot moeite toegesmeer en wanneer jy iemand met vrees vasgevang kan hou, behou jy die mag oor hul denke en geld.

Die kerk se reëls is baie dikwels ook nie die toonbeeld van liefde nie, al probeer hulle anders voorgee. As jy nie dink en glo soos ék glo nie, is jý verkeerd. As jy op ʼn sekere dag kerk toe gaan, gaan jy reguit hel toe. As jy enigiemand buite die kerk raadpleeg rakende geestesongesteldhede, gaan jy hel toe. As jy iemand bevriend wat nie in ons kerk is nie, word jy uitgestoot. Net mense met blou oë gaan hemel toe. As jy nie soos ʼn ou Testamentiese Jood glo nie, is daar net een warm plek vir jou. Moet ek aangaan?

Dit is wonderlik dat die kerk deur soveel eeue al bestaan en ʼn instansie is wat groot skommelinge oorleef het. Tog is dit ook ʼn plek wat enige vorm van vernuwing moeilik hanteer. Aan die ander kant, om ʼn paar duisend lidmate te oortuig dat ons die Bybel verkeerd geïnterpreteer het en nou anders moet leef, is sekerlik ʼn uitdaging soos min.

Geloof en hoe ons dit uitleef loop verkeerd wanneer jy jou mensgemaakte reëls op ʼn ander afdwing en dan regter speel. Daar is nie ruimte vir verskille of groei nie. Weereens, mense wat vrae vra wil beter verstaan, en leiers wat stilmaak wil dit nie hê nie want groei beteken dat hul posisie van mag in gedrang kom en hul goue troontjies sal verbrokkel. Siestog.

 

Ano

 

Januarie 2024 – OOP Projek

2.So gemaak en so gelaat staan

(Woordtelling : 1177)

 

As kind wat noodgedwonge die huis met my ouers moes deel en 24/7 onder hul (verouderde) invloed was, het ek dikwels gehoor dat my pa sê, “so gemaak en so laat staan”. Of, “jy kan nie ʼn ou hond nuwe truuks leer nie”. Die idee van die ouer geslagte was dat wanneer jou brein gevorm is en die patrone vasgelê is, +- op die ouderdom van twee- of drie-en-twintig, niks dit kon verander nie. Genadiglik weet ons vandag van beter en daar is voldoende bewyse dat ʼn persoon nooit ophou leer nie.

Die neuro-plastisiteit van die brein beteken dat sekere dele die funksie van ‘n ander kan oorneem indien eersgenoemde beskadig sou raak. Ook, dat aangeleerde gedrag en dit wat ons oor onsself en die wêreld glo, wel kan verander. Niks op hierdie aarde is in sement vasgelê nie, al het die ouer geslagte so gedink.

Waar ʼn wil is, is ʼn weg en ʼn persoon wat iets wil verander, sal ʼn manier kry. Iemand wat gemaklik is in sy ongemaklike lewe, en vir wie dit te veel moeite is, sal ʼn verskoning kry. Die brein is ʼn hoogs intelligente orgaan wat homself deurlopend herbedraad en herorganiseer, uiters aanpasbaar is, nooit ophou leer nie, en meer vaardighede kan aanleer, veral na ʼn ernstige besering.  Verlamdes het bo verwagting weer leer loop en mense wat ʼn beroerte gehad het, het geleer om ou take op nuwe maniere te doen.

Dit is ook onwaar dat mens net 10% van jou brein gebruik. ʼn Meer onlangse studie het getoon dat ons 35% van die brein gebruik, iets wat ek egter betwyfel. Ons is altyd besig om nuwe goed te ontdek en daar is voortdurend nuwe studies om die teendeel te bewys. Verskillende mense gebruik wel verskillende hoeveelhede van hul grysstof, dus is dit gevaarlik om te veralgemeen.

Nog ʼn mite is dat jy meer dominant aan die een kant van jou brein as aan die ander kant is. Vroeër het ons geglo dat die regterkant vir meer kreatiewe denke, en die linkerkant vir logiese denke gebruik word. Navorsing toon egter dat ʼn gesonde brein die hele tyd seine tussen die twee lobbe stuur om inligting effektief te kan verwerk. Jy gebruik dus die hele tyd alle dele van jou brein.

‘n Nie-so-klein jakkals in die wingerd is wanneer ‘n idee deur die meerderheid aanvaar word sonder om eers vas te stel of dit op jou van toepassing is. Om jou denke te verander, moet die persoon egter gewillig wees om te verander. Niemand anders kan dit vír jou doen nie en jy kan op jou eie begin om klein veranderings in jou daaglikse roetine te doen, of die hulp van iemand inroep, waarna die verandering baie vinniger sal gebeur. Dus, ʼn terapeut of sielkundige is nie “ʼn telg van die duiwel” wat jou kop vol nonsens gaan prop nie, maar ʼn bekwame persoon wat opgelei is om mense deur hul probleme en struikelblokke te help.

Wanneer ʼn persoon se kognitiewe funksie verbeter, is hy meer bewus van homself (sy denke, aksies en die gevolge daarvan), kan hy sy emosies beter reguleer en het meer uithouvermoë en veerkragtigheid. Hy is ook meer kreatief, beter met probleemoplossing, en beter in staat om ʼn ander se standpunt in te sien. So ʼn persoon het ook beter begrip van die interaksie tussen sy liggaam en verstand en dit dra als by tot ʼn positiewe ervaring van die lewe in die geheel.

Om daardie interaksie tussen die liggaam en verstand maksimaal te kan benut moet jy leer hoe om jou emosies en gevoelens te identifiseer. Dit help verseker om ʼn “groei-ingesteldheid” te hê, eerder as om te dink dat situasies of denkpatrone vir ewig op ʼn sekere manier vasgelê is en jy niks daaraan kan verander nie. Dit is heeltemal moontlik vir die brein om nuwe paadjies te vorm en anders oor sake te dink, maak nie saak hoe oud jy is nie.

ʼn Gebalanseerde dieet is nie net goed vir jou liggaam nie, maar ook vir jou brein. Dit beteken nie ʼn koekie in elke hand vir goeie balans nie, maar kos wat goed is vir jou liggaam sowel as daardie belangrike grysstof in jou skedel. Bv., groente ryk aan vitamien E soos spinasie en broccoli, en groente ryk aan beta karotene soos rooi pepers, wortels en soet patats. Olierige vis soos tuna en salm bevat belangrike omega-3 vette, en pekan- en okkerneute is ryk aan anti-oksidante.

Oefening is nie net ʼn liggaamlike aktiwiteit nie, maar het ook ʼn invloed op jou die gesondheid van jou brein. Gereelde oefening verminder nie net hartprobleme nie, maar ook die risiko vir dimensie. Dit is nie nodig om elke dag ure lank in die naaste gym rond te spring of gewigte op te tel nie, maar kan so eenvoudig wees soos die halfuur se stap om melk en brood te gaan koop. Fietsry, swem en draf is natuurlik ook uitstekende oefening.

Die brein het skoon lug en suurstof nodig, en is ʼn groot verbruiker van kalorieë. Voldoende water is nodig om als effektief te laat funksioneer en selfs ʼn klein mate van dehidrasie is genoeg om jou gedagtes stadiger te laat werk. Alhoewel cholesterol deesdae ʼn vloekwoord geword het, bestaan 25% van die brein uit cholesterol waarsonder jy letterlik sal doodgaan. Dit beteken nie ʼn hamburger en vetterige tjips elke dag nie, maar bronne van gesonde vette soos dit wat ons in vis en vitamien E kry.

Hou jou brein aktief deur dit te gebruik! Blokkiesraaisels, Sudoku, bordspeletjies, legkaarte en interessante stokperdjies is alles maniere om jou aan die dink te hou. Die slegste ding wat jy aan jouself kan doen is om die hele dag voor die TV te sit of na die gewaande interessante lewens van ander op Facebook te staar. Verbreed jou horisonne deur jou belangstelling uit te brei na meer dinge as die nuus- en sport kanaal.

Wetenskaplike navorsing het nou uiteindelik bewys dat die misbruik van alkohol oor ʼn lang tydperk nie jou breinselle laat doodgaan nie. Tog laat dit jou brein krimp en selfs wanneer jy nugter is, kan ander langtermyn gevolge waargeneem word. Dit sluit in probleme met sig, balans- en koördinasie probleme, stadige reaksies, vergeetagtigheid, en sukkel om te konsentreer.

Voorkoming is altyd beter as nasorg. Kyk na jou fisiese gesondheid deur minder te rook en alkohol gebruik te beperk, jou bloeddruk en cholesterol op ʼn aanvaarbare vlak te hou, gewig te verloor indien nodig, genoeg oefening en slaap te kry, en onthou om genoeg water te drink. Kyk na jou geestesgesondheid vir tekens van depressie, wees betrokke by vriende en moet nooit ophou om die brein te stimuleer nie. Leer gereeld iets nuuts of besoek nuwe plekke.

As jy bereid is om nooit op te hou leer nie, sal jou brein jou nie in die steek laat nie. Wees bedag op jou gedagtes, want dit word jou woorde. Kyk watter woorde jy gebruik want dit word jou aksies. Kyk waarmee jy jou besig hou, want dit word gewoontes. Hou jou gewoontes dop, want dit word jou karakter.

 

Ano

 

MAART 2024 – OOP PROJEK

2.Slegte goed en goeie mense

(Woordtelling : 934)

 

‘n Wyse vrou het eendag aan my gesê dat ons lewens-vrae vra wat nie beantwoord kan word nie, dat ons eintlik die verkeerde vrae vra. Eers wanneer jy na jou situasie uit ʼn ander hoek kan kyk, en ander vrae kan begin vra, sal jy verstaan waarom sekere dinge oor jou pad kom. Dit is grootliks ʼn oefening om na binne te kyk en nie daar buite iewers jou antwoorde te soek nie.

Om te vra waarom slegte goed met goeie mense gebeur, is in der waarheid ʼn baie egotistiese vraag. Dit impliseer dat jy dink jy is te goed, lewe voorbeeldig, volg die nou paadjie, is ʼn “goeie” christen, en daarom behoort slegte goed nie oor jou pad te kom nie – siektes, dood, finansiële nood, ens.

Die ego hou nie van swaarkry nie. Hy/sy wil ʼn lewe hê gesaai met gemak en voorspoed. Hierdie liewe ego is ook gou om ander te blameer wanneer dinge skeefloop, of om te dink dat jy nie hierdie vreeslike “straf” verdien nie.

Ons kan nogal verbasend arrogant wees wanneer ons dink ons word te na gekom! “Die lewe is onregverdig”, “ek verdien dit nie”, “my eggenoot/kind/sib was ʼn goeie mens en hy verdien nie om (so jonk) dood te gaan nie”, is ʼn paar stellings wat ek maar te dikwels hoor. Die egotistiese mens dink dat sy lewe net een lang partytjie moet wees met ʼn uitgerekte happy ever after. Dit laat sommer gou-gou my wiele afval en moet ek my mond met versterkte kleefband toeplak om nie my ware gedagtes te laat uitglip nie. Enige teëspoed is dan vir so ʼn persoon ‘n reuse verrassing, en meer dikwels ook ʼn baie traumatiese een.

Maar bevraagteken ons dit net so hard wanneer daar werklik goeie goed met oënskynlike slegte mense gebeur? Is alles wat met ons gebeur nie maar net ʼn gebeurtenis nie, sonder om dit te klassifiseer as goed of sleg nie? En wie is ons om te besluit of ʼn ander persoon goed of sleg is? Jy kan nie 100% akkuraat bepaal wat in ʼn persoon se hart omgaan deur na sy klere of gewoontes te kyk nie.

Daar wag egter ʼn slegte verrassing vir diegene wat so ʼn denkpatroon het, want ek kan my voortande daarop wed dat elke persoon wat hierdie aarde bewandel, iewers ʼn uitdaging gaan teëkom wat sy hele bestaan uitmekaar gaan skeur en alles sal bevraagteken wat hy tot op daardie dag geleer het. Dit is egter net diegene wat besef dat die lewe hul niks skuld nie, wat uiteindelik soos die Phoenix uit die vaal asse verrys. Die res maal maar daar onder in hul verdriet rond en vind nooit antwoorde op hul nuttelose vrae nie.

Iets wat my na dekades steeds helder bybly is ʼn familielid se opmerking dat die boer en sy vrou wat met hul tuiskoms na ʼn kerkdiens, en by die plaashek vermoor word, seker slegte mense was, anders sou hierdie ding nie met hulle gebeur het nie.

Ons noem so ‘n arrogante denkwyse spirituele hoogmoed. Wanneer jy links en regs ander se lewe veroordeel omdat iets met daardie persoon gebeur het. Dit is alte maklik om op jou heilige mishoop te sit en vingers na ander te wys en ander se foute uit te lig terwyl jy maak asof jy die sondelose Here self is. Ek wonder wat sy vir haarself te sê gehad het toe kanker by haar gediagnoseer was? En by wie het sy hierdie skeefgetrekte idees geleer, want dit was verseker nie in ons ouerhuis nie.

Jare gelede het ek gesê dat ek dankbaar is dat die mens nie eendag die geleentheid sal hê om oor ander se lewens te oordeel nie, en soms word hierdie gedagte net weer opnuut na vore gestoot.

Iewers in ons lewe kry ons die boodskap dat God alwetend is en wonderwerke laat gebeur, maar wanneer ons swaar kry, wonder mens gou hoekom God nie hierdie ding gekeer het nie. Wanneer ʼn oorlog uitbreek wonder ons waar is God of waarom daar soveel pyn en leiding in die wêreld is. Goeie goed word sonder meer aan God toegeskryf terwyl slegte goed die duiwel se skuld is. Iets wat te dikwels uit die oog verloor word, is dat die mens vrye wil het, en baie dikwels ‘n dom besluit maak wat werklik slegte gevolge het.

Maar nou ja, een ding is seker, en dit is dat God nie hier is om jou lewe namens jou te leef nie. Hý het nie nodig om jóú lewenslesse te kom leer nie – dis die mens se plig om te leer en te groei.

Wanneer ʼn slegte ding jou lewe laat ontspoor, is dit nie die heelal se manier om jou te straf en sodoende op die nou paadjie te hou nie. Die lewe gebeur met almal. Dit maak nie saak hoe voorbeeldig jy is of hoeveel keer jy kerk toe gaan en jou sondes bely nie, dit gaan geen verskil wanneer jy ʼn uitdaging beleef nie. ‘n Voorbeeldige lewe vrywaar niemand van emosionele pyn nie, dit kan jou hoogstens daardeur help.

Wat as die slegte goed gebeur vir dieselfde rede waarom énigiets gebeur? Dat ons moet leer om nie onderskeid te tref nie, maar dit objektief beskou. Dat die groot ding agter ʼn uitdaging is om te leer hoe om daardeur te werk, en te leer hoe om saam met die lewe te vloei, eerder as om die hele tyd daarteen te skop. Dan, en slegs dan, weet jy dat jou vreeslike belangrike lewe maar ʼn spikkeltjie in die heelal is en dat alles nie net om jou draai nie.

Ano

 

Mei 2024 – OOP projek

3.Soveel dae, soveel dinge

(Woordtelling : 728)

 

Wie sou nou ooit kon raai dat die dag sou aanbreek waarop jou minderjarige kind jou kan aankla en ’n beskermingsbevel bekom omdat jy en jou eggenoot baklei?

Dit is seker waar dat ʼn kind trauma ervaar deur dít wat hy in sy ouerhuis waarneem, maar om ʼn bakleiery te rapporteer en om ʼn beskermingsbevel te bekom, is erger as om die dam onder die eend se *** uit te ruk.

Ek kan nie help om te lag oor die Wysigingswet wat maak dat dit ʼn oortreding is wanneer kinders huishoudelike geweld aanskou of selfs net deur dit te hoor nie. Die oortreding is nie teenoor die kind nie, maar dit is die ouers wat nie hul probleme soos grootmense kan oplos nie.

Ek sê nie dit is reg om ooit ʼn kind onveilig te laat voel nie. Dit is wel ʼn feit dat mens nie altyd “reg” en verantwoordelik optree nie, en daar wel die een of ander tyd woordewisselings in enige verhouding sal gebeur. Selfs in die wonderlikste verhoudings word daar een of ander tyd ʼn deur geklap of onnodige woorde aan die ander persoon toegesnou.

ʼn Luidrugtige woordewisseling kan sekerlik nie as huishoudelike geweld geklassifiseer word nie, tensy jy borde begin rondgooi en fisies hardhandig optree nie. Dit regverdig ook seker nie die dreigement dat jou kind jou daarvoor sal kan aankla nie.

Ek kan nie help om te wonder wie hierdie nuwe wet gaan toepas nie. Daar is duisende wette wat minder werd is as die papier waarop dit gedruk is.

Ek kan ook nie help om te wonder na watter plek van veiligheid hierdie kind geneem sal word nie, siende dat byna elke instansie onder groot geldelike druk verkeer.

Ek kan nie insien dat daar genoegsame pleegouers beskikbaar is om hierdie nuwe “gier” te akkommodeer nie. Elke ding wat leef en beef moet beskerm word, maar ons almal weet dat dit nie altyd prakties moontlik is nie. Ons raas en blaas met allerhande wette, maar daar is bloot net nie genoeg hande om als te hanteer nie.

ʼn Jong kind weet gewoonlik nie dat die omstandighede in sý huis anders is as in ander huise nie. Waar gaan hy die inligting kry dat hy ʼn beskermingsbevel mag bekom? En dan, wie gaan hom daarmee help? As ek bewus is van die feit dat die bure se kind elke Vrydagaand onder die vuiste van ʼn dronk pa deurloop, honger in die hondehok gaan slaap, of daar seksuele misbruik plaasvind, is dit my plig om in te tree en te vra dat daardie kind beskerm moet word. Maar gaan ek noodwendig intree omdat die bure op mekaar skree?

Ek wonder of ek my tiener sou kon aankla vir ongehoorsaamheid, terugpraat, en openlike ongeskikte gedrag?

Ek wil ook ʼn klag van huishoudelike geweld gaan aanmeld asseblief. Namens my kinders wat nou lank reeds nie meer kinders is nie. Daar was nie op ons geskree nie, maar die emosionele afknouery het dag na dag plaasgevind. Ek wonder of die staat sou ingryp en die kinders na ʼn “veilige” omgewing sou verplaas waar die versorgers wonderlike emosioneel-gesonde volwassenes is wat self hul kinderjare se trauma ten volle verwerk het? Is daardie huis van veiligheid ooit werklik veiliger? Dit is ʼn bekende feit dat kinders wat in die stelsel opgeneem word, meestal op een of ander manier deur die krake val.

Dit klink so edel om te sê dat daar gepoog word om die siklus van mishandeling te breek en vrouemoord te voorkom. Ja, ons moet ons kinders beskerm, maar hierdie voel asof ons ʼn pleister op ʼn gebreekte been probeer plak en spreek nie die kern van die probleem aan nie. Miskien is dit tyd dat ouers behoorlike ondersteuning het en selfs opleiding kry voordat hulle nog swanger raak. Dit sal reeds help as die staat nie elke tienerma met ‘n karige paar rand onderhou vir elke baba wat gebore word, en waarvoor sy duidelik nie kan sorg nie.

Wanneer die volwassenes dit kan regkry om gesonde verhoudings te handhaaf, sal die kinders noodwendig ook ʼn beter grondslag vir sy eie toekoms hê. Maar ons droom nou van wors in ʼn hondehok. Hierdie is ʼn siklus wat slegs met groot moeite gebreek sal kan word, en om die kinders toegang te gee om ʼn beskermingsbevel teen hul ouers te lê, voel nie na die regte antwoord nie.

 

Ano

 

SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK

3.Hopelik is dit nie die tandmuis nie!

(Woordtelling : 898)

 

Help, daar is ʼn muis in my huis. Snags hoor ek hoe baljaar hy op die plafon en soms kan ek hoor hoe knibbel en kou hy aan … wat? Wat vreet die ding dat dit soos saag geluide in die stilte van die nag klink? En hoekom is die ding die hele tyd honger?

Dit help ook nie om ʼn muisvalletjie te stel nie, want die kêreltjie is alte slim. Hy trek sy neus op vir die kaas en hou nie van brood met konfyt nie. Dalk blaas die Checkers-brood ook sy derms op. Miskien moet ek vir hom ʼn blokkie hout in daai valletjie vasknyp want dit smaak my mos dat hy lief is vir saagsels.

Dalk is hy besig om sy nes uit te voer. Dalk is hy eintlik ʼn sy en het sy nou dringend behoefte om alles netjies reg te kry in die dae voor geboorte. Oh hemeltjie tog, help net asb. Wat moet ek maak om hierdie diertjie die hasepad te laat kies sonder om hom seer te maak?

Al hou ek van die natuur, is dit dalk nie so ʼn goeie idee om hierdie warmbloedige plat rot-Ferarri met sy lang voortande te welkom te laat voel nie. Gʼn mens watter drade hy dalk gaan opvreet en dan gaan die kragonderbreking nie Eskom se skuld wees nie. En die gedagte dat daar ʼn harige dingetjie snags deur die huis sluip, sorg dat ek nie ʼn voet uit die bed sit voordat die son nie skyn nie.

Eintlik sluip hy nie te saggies nie, want ek kan hoor hoe daardie voetjies oor die teëlvloer girts. En die lang naeltjies wat effentjies vashaak wanneer hy oor die slaapkamer se mat katrol. Pappie sê die ding is in die badkamer en maak die deur toe, wetende dat daardie klein skelet mos so plat soos ʼn pannekoek kan druk en deur die onmoontlikste plekke kan glip.

Maar kyk, terwyl Mammie maar taamlik bang is vir ʼn spinnekop, laat sy haar nie afsit deur ʼn ou muisie nie. Het ek dan nie kleintyd al ʼn rot met rooi ogies vir ʼn troeteldier gehad nie? Pappie, aan die ander kant, sal verseker homself pens en pootjies OP die bed bevind eerder as om te help om die dingetjie aan te keer.

Ek bars byna in ʼn poging om onder die badkamerkassie in te loer, maar niemand anders in hierdie huis wil dit mos doen nie. Elke hoekie van die badkamer word bekyk maar muis se kind is letterlik nêrens. Al wegkruipplek wat oorbly is die wasgoedmandjie. Yup, daardie mandjie met ʼn week se vuil klere. Die arme muis snak seker na sy asem, maar as jy moet wegkruip, is enige plek waarskynlik ʼn goeie plek.

Eers werk ek ʼn paar scenario’s in my kop uit. As ek die wasgoed op die vloer uitskud en muis is wel op die oomblik in die mandjie, gaan hy kans kry om terug te hardloop na ons slaapkamer en dan is daar ʼn duisend donker gaatjies waar hy kan inglip. Dan gaan ons vannag uit ons soete drome weggeruk word wanneer Pappie met ʼn groot gil opspring. Dalk sal ek in my skrik die paniekknoppie druk, menende dat daar ʼn inbreker in die huis moet wees.

Dat mens nou so bang vir ʼn ou muisie kan wees. Hy kan kwalik meer as twintig gram weeg.

As ek die mandjie in die bad begin uitpak, het ek mos meer beheer, of hoe? Stukkie vir stukkie haal ek die wasgoed uit en gooi dit op die badkamervloer neer. Net om seker te maak moet die bad maar so leeg as moontlik wees. En ja wraggies, daar sit Muis. Doodverskrik en stikkend aan die reuk van ou wasgoed. Maar nou is sy wegkruipplek ook daarmee heen en hy gly-hardloop in die bad rond. Nou is daar nie meer ʼn veilige plek om buite sig te bly nie.

Ek skep hom in ʼn diep emmer op, wetende dat hulle goed kan spring. Sit sommer die deksel ook op vir dubbele versekering. Dit gaan nie help om die dingetjie vir die bure aan te stuur nie, want dalk kom hy net weer terug. Het hy dan nie alreeds ontdek dat hier genoeg kos en wegkruipplek is nie?

Pappie is maar vieserig toe ek vir hom die emmer aangee. Die deksel is behoorlik opgedruk maar dit lyk steeds asof die man gaan flou word. Spierwit in die gesig en baie vies vir die opdrag om die muis VEILIG elders te gaan uitskud, hou hy die emmer ʼn armlengte ver van sy lyf af, so al asof die muis intussen gevrot het.

Op pad winkel toe skud hy eers vir Muis in die veld uit. Immers wil niemand ʼn muis saam met sy vars broodrolletjies koop nie, maak nie saak of hy lewendig of dood is nie, en deesdae gebeur dit skynbaar al hoe meer dat daar ʼn muis in die brood is. So ʼn ekstra stukkie vleis is ongelukkig nie altyd welkom nie.

En so word nog ʼn lewe gered. Klein, groot, dit maak eintlik nie saak nie.

Daar is darem een troos. Vriendin se man het uit pure skrik in die lug opgespring toe hulle onwelkome kuiergas reguit op hom afgepeil het. Met die afkomslag was die muis reg onder hom en kon nie daardie 100kg op sy ou ribbetjies oorleef nie. Effens dood en baie plat.

 

Ano

OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK

1.Hups (970 woorde)

Lank gelede, pas getroud en heerlik verlief, word ek oorgeskuif na ʼn ander afdeling in ons plaaslike stadsraad. Hier moet ek nou die kantoor met ses ander dames deel, sowel as die toesighoudende oujongnooi wat ons uit haar glas kantoortjie soos ʼn wafferse valk dophou. Dit was ʼn verligting om weg te kom uit die kantoor waar die ander dame soos ʼn goed opgeleide skoorsteen gerook het, maar ʼn groter aanpassing om my persoonlike spasie met soveel ander te deel. As die tikmasjiene nie geraas het nie, was dit net ʼn nimmereindigende geklets.

Soms was dit lekker om geselskap te hê, ander dae ʼn bron van irritasie. As jy nie aan die geselskap deelgeneem het nie, was jy ongeskik en is gou uit die groep gestoot en die mens is tog maar ʼn trop dier, al wil jy graag aan die sykant stap. Wat die heel ergste was, was die gevoel dat almal op een of ander manier van almal se doen en late geweet het. Jy het hul gewoontes tuis en op kantoor leer ken, meer van hul liefdeslewe geleer as waarvan jy ooit wou weet, en van al hul brille-en-pille-skete kennis geneem. Genade, die intieme goed wat mense darem so vir almal kan uitblaker is verstommend!

Hulle het gou gewoond geraak dat ek soggens baie vroeg, en heeltemal teen my sin, op kantoor was. Hubby se werkgewer was in die buurdorp en ons het net een motor gehad. Om my die moeite van ʼn busrit te spaar, het hy my dan soggens douvoordag by die kantoor afgelaai. So moes ek en die liewe oujongnooi, Juffrou Van Rooi, daagliks ten minste ʼn uur alleen in mekaar se geselskap deurbring. Buiten dat ons ten minste drie dekades uitmekaar gebore was, het ons verder ook nie juis dieselfde belangstellings gehad nie en na ons gegroet het, was die stilte soms maar goed ongemaklik.

Juffrou Van Rooi mag miskien ʼn oujongnooi gewees het, maar sy was geensins skaam om ʼn gewillige man nader te wink vir ʼn gesellige ete in haar geliefkoosde restaurant nie. Al het sy heel gepas nooit haar persoonlike lewe met die res van die kantoor gedeel nie, was almal daarvan bewus as sy die vorige aand uitgegaan het. Die stank van haar geliefkoosde slakke-in-knoffelbotter het haar teenwoordigheid aangekondig nog lank voordat jy haar gesien het. So ongesiens moontlik het jy maar ‘n sakdoekie voor jou neus gedruk. Die stank van die knoffel het ons almal na ons asems laat snak. Niemand het die rede vir haar ongetroude status geweet nie, maar haar liefde vir knoffel het heel waarskynlik enige potensiële maat onmiddellik die hasepad laat kies!

Ewenwel, terwyl sy soggens vroeg met haar dagtaak begin het, het ek soms ʼn handwerkie saamgebring om daardie eerste uur om te kry. Ander dae het ek uit pure verveeldheid die woordeboek nadergetrek om te lees. Al is dit nie iets wat ek op ʼn normale dag gedoen het nie, het ek dit wel geniet om nuwe woorde te ontdek en die betekenis daarvan te leer, en hierdie kennis het my goed gehelp wanneer ek blokkiesraaisels ingevul het.

Een oggend, nog voor die horlosie sou aankondig dat ons werktyd amptelik begin, het die dames soos gewoonlik, eers bietjie navraag oor ander se huislike lewe gedoen. Buiten vir daardie betrokke oggend, kan ek nou nie juis onthou of enigiemand ooit spesifiek na die welstand van Hubby gevra het nie. Ewenwel, in my totale jeugdige onskuld sê ek toe dat hy “heel hups is, dankie.” Bedoelende, dit gaan baie goed met hom, hy is gesond en vrolik.

Wel, nodeloos om te sê, die hele spul het omtrent op die vloer gaan lê soos hulle gelag het. Trane het vrylik geloop en dit was geensins uit simpatie nie. Die manier waarop hulle na my gekyk het, het my wange al hoe warmer en rooier laat brand. Daardie “ek weet wat het julle gisteraand gedoen”-kyk het werklik nie woorde nodig nie.

Blosend, verward en baie skaam, vlug ek na die hoektafel waar die woordeboek lê. Ek soek die betekenis van “hups” op en sien dat my interpretasie daarvan inderdaad korrek was. Maar, daar is nie salf te smeer aan ʼn persoon wat iets nie wil glo nie, en niemand wou die eintlike verklaring van hups hoor nie. Dit moet maar moeilik wees wanneer jy eerder toegee aan groepsdruk en onder ʼn wanindruk bly, as wat dit is om die ware betekenis van ʼn woord te leer. Dalk verwag ek net te veel van mense wat nie genoeg omgee om iets nuuts te leer nie. In hul oë was die betekenis, wel, uhm, om die kat in die donker te knyp en niks en niemand sou hulle van iets anders oortuig nie.

Juffrou Van Rooi het miskien nie saam gelag nie, maar sy het ook nie ʼn vinger gelig om te help nie. Niemand sal ooit weet wat op daardie oomblik in haar kop omgegaan het nie. Wou haar mond oophang oor die onbeskofte woord of het sy wel die betekenis daarvan geken maar net niks gesê nie?

Dit mag miskien ʼn argaïese woord wees wat selde gebruik word, maar dit beteken nie dat die betekenis daarvan deur die jare verander het nie. En, het ek dit ooit weer gewaag om daardie spesifieke woord in enige geselskap gebruik? Nie in ʼn miljoen jaar sal dit ooit weer oor my lippe in enige geselskap glip nie. Ek mag soms daaraan dink, maar sal dit nooit weer uitspreek nie.

Maar, al sal ek dit nie hoorbaar uitspreek nie, kan ek seker nog steeds vra, “hoe hups voel jy vandag?” Is dit jou daaglikse ingesteldheid, of hou jy meer van mor en kla oor alles en nog wat waarin niemand in elk geval belangstel nie?

(Volgens die Afrikaanse woordeboek (HAT) beteken hups “lewendig; opgewek; flink; nie dooierig nie”.)

 

©Susann Moolman  Ano

November 2024 – OOP projek

2.Wat ’n ramp!

(Woordtelling 675)

 

Vanoggend moes ek oor RSG se vroegoggend program, Monitor, hoor dat ek en Hubby nou presies 37 jaar getroud is. Ja, reg gehoor, oor die radio nogal. Nie asof enigeen ʼn boodskap of gelukwensing ingestuur het nie. Dit was egter die herlewing van Suid-Afrika se grootste lugramp wat ook die herinnering aan ons troudag geprikkel het. ʼn Dag wat ek on verskeie redes eerder sou wou vergeet, maar om al die verkeerde redes herinner word.

So tussendeur sykouse aantrek en hare kam het ek en my strooimeisie op 28 November 1997 baie tyd voor die televisie deurgebring. ʼn Boeing 747, die Helderberg, vlug SAL 295, was op pad terug vanuit Taiwan en het kort voor landing in Mauritius in die Indiese oseaan neergestort. 248km voor die naaste lughawe en die 159 mense aan boord is almal dood. Die oorsaak was ʼn brand, en die vermoede was dat dit moontlik deur terrorisme veroorsaak kon wees. Latere ondersoek het daarop gedui dat daar die vliegtuig dalk onverklaarde van die destydse apartheidsregering vervoer het.

Niemand wil in ʼn vliegtuig duisende kilometer van die naaste land ontdek dat daar ʼn brand aan boord van ʼn vliegtuig is nie. Veral nie wanneer daardie vliegtuig bo die grote oseaan vlieg nie. Dan verklein hierdie mensgemaakte wonderwerk en word niks anders as ʼn vlieënde metaal-buis waaruit jy nie kan ontsnap nie. Daar is geen plek om uit te spring nie, en selfs al sou jy dit kon doen, is jou kanse op oorlewing nog minder as nul.

Met groot skok het ons na die tragiese gebeure geluister en dit het beslis ʼn prop op die feesvieringe gedruk. Hubby was in daardie stadium werksaam as ʼn tegnikus by SAL en hy was bekommerd dat hy dalk ingeroep sou word vir ʼn onderhoud. Eintlik is dit ʼn intensiewe ondersoek na alles wat die mense dalk verkeerd kon gedoen het, eerder as ʼn onderhoud. Was die skroewe se groewe dalk al uitgewerk? Was daar genoeg smeermiddel op die regte plekke? Was al die deure mooi toe? Hoe was die vrag gepak? Het iemand in die toilet gerook? Elke enkele persoon wat betrokke is by ʼn vliegtuig se instandhouding word deeglik ondervra.

Genadiglik was dit nog voor selfone in ons lewens verskyn het. Niemand het geweet waar in die land ons rondrits nie en ons kon ons vakansie in vrede geniet. Dit was wel nie besonders lekker om met ʼn vliegtuig na ons bestemming te reis nie want as een vliegtuig sommer-maar-net uit die lug kon val, kan ʼn ander dit mos ook doen!

Dit was in die weke daarna wat die drama vir my eers werklik lewe begin kry het. Danksy Amerika se bystand is stukke van die wrak twaalf ure later opgespoor. Agt liggame is opgepik en almal het tekens van trauma getoon. Uiteindelik is die wrak op bykans 5,000 meter onder die wateroppervlak opgespoor. Net sekere stukke van die vliegtuig is na die oppervlak gebring en is gedeeltelik soos ʼn groot legkaart aanmekaar gelas. Personeel van die lugdiens en uitgesoekte lede van die publiek kon hierna gaan kyk.

Dit is eintlik siek om te dink dat mens nou uit nuuskierigheid gaan ginnegaap oor die wrakstukke waarin soveel mense hul lewens verloor het.

Ek was onder een van die “gelukkiges” om ook te gaan kyk. Wat my tot vandag toe bybly is die verweerde tasse wat uit die water opgepik was. Onpaar skoene. Paspoorte en ander dokumente. Die wit teddiebeer was seker ʼn geskenk vir ʼn kind, of dalk was dit reeds die eiendom van ʼn kind.

Volgens die Taiwannese owerheid was daar onder die passasiers 30 Taiwannese burgers, 19 Suid-Afrikaners, 47 Japanese, 2 Mauritiane, ʼn Deense burger, ʼn Hollander, ʼn Brit en ʼn Duitser aan boord. Dit is nie bekend hoeveel volwassenes en hoeveel kinders deel van die passasierslys uitgemaak het nie.

Baie mense sal nie eens meer onthou wat hulle op daardie oomblik gedoen het nie, of waar hulle was nie, tog was dit ʼn dag waarop tyd vir ʼn paar uur tot stilstand gekom het. Vir ewig in ons geheue ingebrand.

Ano

Desember 2024 – Kersfees projek

2.Die liefde van Christus?

(Woordtelling: 149)

 

Vandag kyk ek met dieper aandag na die kinders, want in hul oë kan jy sien of daar, agter toe deure, ʼn balans gehandhaaf word tussen geloof en die sondige gebruike van die verleidelike wêreld.

Vandat ek begin het om weg te beweeg van die fundamentalistiese siening rondom ons Christelike geloof, het hierdie ewige gestry oor wanneer Christus nou eintlik gebore was, ʼn baie wrang smaak in my mond veroorsaak. September, Desember, enige ander maand? Aan die einde van die dag, maak dit werklik saak? Gaan ek eendag op my sterfbed lê en steeds kibbel oor iets wat al twee-duisend jaar gelede gebeur het, of gaan ek doodgaan met die blydskap dat ek teruggaan na die plek waarvandaan ek gekom het.

Ons raak so maklik verlore in die fyner detail dat die groter prentjie heeltemal misgekyk, en ons optrede liefdeloos word.

©Ano

FEBRUARIE 2025 – WATER PROJEK

2.Dag zero

(Woordtelling : 793)

 

Dit was seker een van die vreesaanjaendste frases wat ek nog ooit gehoor het – Dag Zero. Om te dink dat daar ʼn dag kon aanbreek waar daar geen water uit die krane sou loop nie is nogal skrikwekkend. Mens kan immers vir ʼn redelike tyd sonder kos klaarkom, maar sonder water? Afhangende van jou metabolisme, kan ʼn persoon tussen twee dae en ʼn week sonder drinkwater oorleef. En, al oorleef jy vir ʼn week, sal jou liggaam soveel skade opdoen dat jy heel waarskynlik steeds aan nierversaking of iets dergeliks sal sterf.

Die voorspelling was dat daar teen Junie 2022 geen bruikbare water in die opgaardamme van die Oos-Kaap sou wees nie. Die inwoners was dus ernstig versoek om elke moontlike druppel te spaar. Die vorige verdoemende voorspelling was vir die Wes-Kaap en hul krane sou teen April 2018 opgedroog het. Op ʼn wonderbaarlike manier het daar net-net betyds genoeg reën geval en die opgaardamme was gou weer vol en Dag Zero het nooit gerealiseer nie.

Die distrik was beperk tot 50L water per persoon, per dag. Dit is eers wanneer mens elke druppel moet tel wat jy bewus raak dat mens eintlik maar lekker met water kan mors. Om dit net bietjie in perspektief te stel, ons wasmasjien gebruik aansienlik meer as 50L op enige gegewe wasdag. Dit help ook nie om die klere en beddegoed op te gaar nie, want die bondel word net groter en die wasmasjien tap doodeenvoudig net meer water. Die nuutste masjiene kan mos weeg, somme doen, en self besluit hoeveel nodig is. En moet nie dink mens kan daai ou blikbrein flous nie!

Ons het geleer om vinnig te stort. Gebruik net genoeg water om jouself nat te maak, draai die krane toe sodat jy kan seep en skrop, en vinnig afspoel. Teen daardie tempo kan jy in minder as 60 sekondes klaar stort en sommer terselfdertyd heelwat water bespaar.

Alle koue water was eers in ʼn emmertjie opgevang en in die toilet se spoelbak gegooi. Ons het geleer om die toilet aansienlik minder te spoel. Ons het geleer dat ons nie dood sou gaan indien die vloere minder gewas word nie. Ons het geleer om hare in ʼn emmer te was en slegs in die stort met skoon water af te spoel. As die skottelgoedwater nie vetterig was nie, kon dit ook in die toilet gebruik word.

Dit is wel so dat water na die verskillende buurtes aangery was, maar wanneer jy vir ʼn uur of langer in ʼn lang ry moet staan met ʼn paar 5L kannetjies, begin jy ook petrolgeld bytel. Wanneer jy genoeg water vir jou huishouding moet gaan haal, besef jy dat 5L letterlik ʼn druppel in die emmer is. Uit respek het niemand ooit 50L op ʼn slag geneem nie.

In daardie rye het ons die ryk en die arm saam gesien. Sommige was opgetof met pêrels en diamantringe, ander het met vuil, stukkende klere opgedaag. Ons het gou geleer dat die lewe van die ryk man nie vreeslik verskil van die bosslaper sʼn nie, al is Gertruida se beddegoed ʼn bietjie skoner as Maria sʼn .

Oor die algemeen is hierdie reëls sonder groot teëstribbeling ondersteun, behalwe vir buurvrou. Miskien besit sy nie ʼn radio of TV nie. Dalk lees sy nie koerant nie. Dalk gebruik sy nie sosiale media nie en het nooit gehoor dat daar ʼn ernstige waterkrisis aan die gebeur was nie. Dalk lewe sy in La-la-land, maar dit is meer waarskynlik dat sy heeltemal te belangrik is om haar aan sulke nietighede te steur. Ek twyfel of sy ooit ʼn enkele keer met haar spykerhakkies in ʼn ry gestaan het om ʼn bottel water huis toe te karwei.

Terwyl die hele omgewing se gordyne maar taamlik stokstyf van die stof gestaan het, het buurvrou sʼn skitterwit en geurig agter die oop vensters gewapper. Komberse en badkamermatjies het nie agterweë gebly nie. Haar perfekte huishouding het voortgegaan asof daar nie ʼn bekommernis in wêreld was nie. En ja, dit het my diep gegrief, maar ek is ook nie die waterpolisie nie. Terwyl almal die krane stywer toedraai, het sy oënskynlik uit haar pad gegaan om nog meer te gebruik. Indien ek dit sou waag om haar te verkla, sou sy geweet het wie dit was omdat ek die enigste persoon is wat ʼn uitsig op haar wasgoeddraad het!

Intussen het die damme alweer meer as een maal oorgeloop en ons is diep dankbaar. Tog beteken dit nie dat ons weer kan mors en die tuine natspuit van die more tot die aand nie. Of ʼn tuinslang gebruik om jou motor te was nie. Al was dit moeilik, het ons ook goeie gewoontes aangeleer. Soms het mens bietjie aansporing nodig om ʼn blywende verandering teweeg te bring.

©Susann Moolman Ano

 

3.Dam sonder water

(Woordtelling : 453)

 

Dit was met die grootste skok en verbasing wat ons tussen Aberdeen en Willowmore ʼn dolleë dam gesien het. Was die droogte dan so erg, of was dit bloot nalatigheid van die regering? Of dalk, soos in die geval van die nuut geboude, maar ongebruikte skool, ʼn dam wat op die verkeerde plek gebou is?

Die Beervlei Dam se damwal van 31m wat op die klipharde grond staan gemaak is, het oënskynlik geen doel nie. Dit staan daar soos ʼn reuse monument van letterlik niks. Groen gras groei welig en dik op die uitgespreide area waar ons water verwag. Tog, die dam is nie leeg weens ʼn uitgerekte Karoo-droogte nie, maar is veronderstel om leeg te wees!

Waar in jou lewe het mens ooit gehoor dat daar ʼn dam gebou word en dit leeg moet wees? Dit klink so effens na ʼn vermorsing van geld, dan nie?

Die dam wat in 1957 voltooi was, het ʼn kapasiteit van 85,800,00 kubieke meter en beslaan ʼn area van 23 vierkante kilometer. Na die goeie reën in die Karoo gedurende Desember 2021 en Januarie 2022, was daar vir die eerste keer in 20 jaar water in die Beervlei dam.

Die hoofdoel van die dam is egter om vloede te beheer en te keer dat die boere se grond nie wegspoel wanneer dit sou reën nie. Dit voorsien ook nie die dorpe in die omgewing van enige water nie. Met die goeie reën en die dam byna vol, was alles stroomaf, die dorpe inkluis, veilig. Naastenby 500 miljoen liters water is stadig vrygelaat tot die dam weer heeltemal leeg was.

Omdat die Karoo-grond so baie sout bevat, kan hierdie water nie opgegaar word nie en is dit nie geskik vir menslike gebruik nie. Die boere is egter baie bly vir die ekstra water, al is dit net vir ʼn kort tydjie beskikbaar. Dit word stadig vrygelaat sodat alles wat stroomaf is, veilig is.

Maar waar kom hierdie vreemde naam vandaan? Die dam lyk nie eens soos ʼn bierbottel nie, en is ook nie gebou deur ʼn Mnr. of Mev. (de) Beer nie. Baie damme word egter wel na ʼn dier vernoem, maar daar is immers nie bere in Suid-Afrika nie.

Die plaaslike Khoikhoi naam vir die area is Udigaugau, wat aartvark beteken, ʼn dier wat volop in die omgewing voorkom.  Die manlike vorm van die aartvark is  ʼn “beer”, en die vlei is die plek waar die water na ʼn goeie reënseisoen vergader. Dit is ʼn lang verduideliking van ʼn naam wat uit drie tale geskep is, Khoikhoi, Engels en Afrikaans. Dit is egter die mees logiese verklaring vir die vreemde naam van ʼn nog vreemder dam wat bedoel is om geen water in te hê nie.

 

Bronne : https://en.wikipedia.org/wiki/Beervlei_Dam

https://www.karooheartland.com/listings/beervlei-dam/

https://galavantingwithkathryncostello.blog/2022/10/18/the-beervlei-dam/

 

©Susann Moolman Ano

 

 

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Koos Elsum het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak