boerehart (ʼn Patiche van Toon van den Heever se In Die Hoëveld)
as die laaste lewensnote wegsterf
breek sy boeresiel vry
vry van die kap-kap eggo in aardkors gange
vry van die blikhuisies se dronk moesserny
waar vrouens en kinders met honger oë kyk
waar mans soos hy hul sorge aan Bacchus bely
vry van die hel van ewige hoes
vry van die stad se slawerny
dan keer hy terug na sy grond waar sy siel vir hom wag
kan hy weer in sy hartbeeshuisie bly
is sy vrou en kind nie in die konsentrasiekamp dood
het hy nie alleen agter gebly
kan hy weer soos ‘n kind kleiosse maak
as die waaigras hom nader wink
op sy plaas ruim en vry
sal sy boerehart eindelik vrede vind
sal hy sy hemel kry
©Evanthe 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.