[BRONS] – Teen die Lyn
Teen die Lyn
Ek was ses toe juffrou vir die eerste keer op my vingers geslaan het. “Nie daai hand nie, Mientjie,” het sy gesê, haar stem soet en ferm. “Jy moet regterhand gebruik.” My pen het uit my hand geval en op die grond gerol. Sonder om te dink, het ek hom opgetel — met my linkerhand, natuurlik. Nog ’n klap. “Regterhand,” het sy weer gesê. Ek het skaam geword. Nie oor wat ek gedoen het nie, maar oor wie ek was. Ek het begin probeer oefen met my regterhand. My skrif was krom, stadig en styf. Maar juffrou was tevrede. En op ses glo jy nog wat grootmense sê, veral as hulle mooi glimlag terwyl hulle jou reghelp.
Niemand het ooit daarna weer iets oor my handvoorkeur gesê nie, maar ek het myself geleer om dinge te doen soos wat van my verwag word – stil, netjies, sonder vrae. Ek het geleer om aan te pas. Regterhand, regsdenk, regs in die ry. Alles, altyd net regs.
Dis eers baie later dat ek besef het hoeveel ek verloor het. Hoe lank ek my linkerhand begrawe het – nie omdat sy verkeerd was nie, maar omdat sy anders was. Ek het eers weer na haar begin luister toe ek op universiteit beland het en toevallig aan ’n skilderwerkswinkel deelgeneem het. Ek het nie veel daarvan verwag nie. My vriendin het my gesleep, en ek het net my naam op die inskrywingslys geskryf om haar stil te hou. Maar iets aan daardie eerste streep verf op die doek het my laat stilraak. Dit het gevoel soos asemhaal ná ’n lang tyd onder water. Iets in my het wakker geword. Ek het begin aanhou skilder. Aanvanklik met my regterhand, natuurlik — dis waarmee ek alles gedoen het. Maar dit was lomp en klinies. Toe vat ek die kwas met my linkerhand.
Die verskil was onmiddellik. Nie perfek nie, glad nie, maar reg. Ek het skielik nie net gesien wat ek wou vasvang nie; ek het gevoel hoe dit deur my vloei. Dit was asof ek weer met myself kennis gemaak het.
My ma het een middag kom kuier terwyl ek in die kombuis gesit en verf het. Sy’t my stil dopgehou. “Jy weet,” het sy ná ’n ruk gesê, “jou ouma was ook links.” Ek het opgekyk. “Sy’t altyd met haar linkerhand geskryf en geverf. Tot die dominee gesê het dis die duiwel se kant. Sy’t toe opgehou.” Ek het niks gesê nie. Die stilte tussen ons was swaar van dinge wat nooit gesê is nie. Daardie aand het ek met my linkerhand begin skryf. Net vir myself, in ’n ou notaboek. Die letters was skeef, stadig, onbeholpe. Maar dit was myne. Ek het my naam geskryf, oor en oor, en vir die eerste keer gevoel dis reg.
Ek het toe begin om alles links te doen. Eet, tande borsel, hare kam. Ek het die wêreld om my begin sien vir wat dit is: nie neutraal nie, maar ontwerp vir die meerderheid. Skêre werk nie lekker nie en selfs notaboeke is ’n pyn. Ek moes leer hoe om my plek te maak… Letterlik en figuurlik. Ek het begin agterkom hoe maklik mense aanneem hulle manier is die enigste manier. En ek het myself besig gevind om terug te stoot. Nie luid nie, maar vas.
Dis snaaks, linkshandigheid was nie net iets wat my anders gemaak het nie. Dit het my geleer om vrae te vra. Om stil opstand te voer. Ek het ’n skildery vir ’n kunsuitstalling ingeskryf, een wat ek volledig met my linkerhand gemaak het. “Dis só ongewone lynwerk,” het een van die beoordelaars gesê. “Dis asof dit iets in jou losmaak.” Ek het net geglimlag. Hy’t nie geweet watse pad daardie lynwerk al geloop het nie.
Ek skryf nou weer met my linkerhand. Nie altyd nie , ek’s stadig, my pols raak moeg — maar wanneer ek dit doen, voel ek asof ek met my hele self praat. Ek is nie net besig om woorde neer te pen nie. Ek’s besig om my reg terug te vat om anders te wees, om heeltemal myself te wees.
Ek hou nog steeds daardie eerste bladsy in die notaboek, die een waar ek net my naam geskryf het. Daar is ook ’n bladsy vol A’s in groot, wiebelrige letters. Ek kyk soms daarna, nie om terug te verlang nie, maar om te onthou. Ek het lank geglo ek is verkeerd. Dat ek moet aanpas, stil wees, reg wees. Maar ek was net anders. En anders is nie verkeerd nie.
Ek is links. En ek is regs.
© Nicola Brown
759 woorde
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek