Broos, hanteer saggies
Sy post prentjies op haar timeline
purper, pers en pruimframboos –
elke foto het ‘n blompot
elke blompot het ‘n roos.
Soms staar sy net deur ruite
oor ‘n kuspad,
na die see.
Soms ruik sy net die soutwind
en die witmis
wat stil oor Valsbaaistrande vee –
totdat lankal-koue koffie
haar uit drome laat ontwaak
en haar t’rug laat loop kombuis toe
om warm kruietee te maak.
Sy verf blomme op haar canvas
purper, pers en pruimframboos –
die kleurespel en beelde
verloën haar hart
se bitterbroos.
Op facebook praat sy engels –
(maar sy huil in Afrikaans)
van immerhoop om eendag weer
verby die asspoor
wat die liefde los
tot in die sonskyn te mag dans.
Elke oggend breek die branders,
saans sak die son
– soos ‘n skildery –
in purper, pers en pruimframboos
by haar horison verby.
En sy wil nog graag op reis gaan
maar vir nóú bly sy eers tuis
(voor ‘n venster met ‘n sea view)
en rus in die beskutting
van haar eenslaapkamerhuis.
*
Sy post prentjies op haar timeline
purper, pers en pruimframboos.
Op elke foto kraak ‘n blompot
in elke blompot
knak ‘n roos.
© Carma Shaw
15 April 2017
4 Kommentare
-
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April ope afdeling projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma ek is mal oor hierdie ene