Jongste aktiwiteit:

Buig jou knie en vra Silwer

Buig jou knie en vra.

Wanneer buig jy die knie? Wanneer jy oorgee of wanneer jy nederig is? Of bloot net omdat jy daardie groot vraag wil vra? Daardie vraag wat vele dames se harte week maak.

Die tradisie van knie buig wanneer ‘n man ‘n meisie om haar hand vra, dateer moontlik uit die middeleeue. Wanneer ‘n ridder tot held vereer sou word, moes hy op sy knie neersak om so eer aan die koning of koningin te betoon. Dit was dus ‘n teken van onderdanigheid, asook respek. Daar is ook ander moontlikhede wat die kniel vir gebed, en ook wanneer ‘n persoon voor sy vyand kniel in oorgawe, insluit. Hoe dit ook al sy, om te kniel beteken universeel, nederigheid, respek, liefde en gewilligheid om te dien.

Wanneer ‘n man die ja-woord wil vra, sak hy gewoonlik tradisioneel op sy linkerknie en hou die ringdosie in sy linkerhand terwyl hy dit met sy regterhand oopmaak. Hopelik aanvaar die dame sy aanbod en slaan haar ridder tot held. Dit sou wys wees indien die man vooraf alreeds aanduiding gegee het dat hy wel van plan is om sy knie te buig, anders kan iemand dalk met ‘n rooi gesig rondloop.

Voordat die man tot die groot stap oorgaan moet hy verseker weet dat die persoon van sy keuse die regte lewensmaat is. Hy moet ook seker wees van die feit dat sy maat dieselfde intensies as hy het. Gewoonlik word die groot kniebuig onder uiterste geheimhouding gerëel. Tradisioneel sal die aanstaande bruidegom eers die bruid se ouers se toestemming verkry voordat hy tot die groot stap oorgaan. Dan word daar met behulp van vriende en vriendinne ‘n ringgrootte en keuse van ring bepaal. Alles onder streng geheimhouding.

Kies ‘n plek met ‘n romantiese atmosfeer. Dalk tussen roesbruin en rooi herfsblare wat simboliseer dat daar nuwe lewe na die winter op pad is? Tussen vallende blare en ‘n dieprooi sonsondergang met die geluid van strelende water in die agtergrond? Onder die sterrehemel op ‘n helder somersaand langs die strand? Maak dit spesiaal. ‘n Stukkie hemel wat tot op julle oudag toe onthou sal word.

Sorg dat daar ‘n vriend of vriendin in die omtrek is om die oomblik op film te verewig. Moet nooit die ring in ‘n drankie of kos versteek nie. Dit kan groot konsternasie veroorsaak wanneer dit per abuis in die keel beland. ’n Ware heer sal op die heel beste manier moontlik die ja-woord vra. Hy sal sy knie buig in totale oorgawe. Daardeur sal hy sy respek en eer aan die dame van sy keuse betoon. Hopelik slaan hy haar asem weg en sal sy hom as ridder en held van haar toekoms aanvaar. Buig die knie. Vra daardie vraag.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed