Daar is NIE geld NIE!
Daar is NIE geld NIE!
Ek hou nie daarvan om dorp toe te gaan nie! Ek gaan net dorp toe in selfverdediging.
Maar so tref dit my nou op hierdie sonnige, herfmiddag dat ek vir Dierbaarste ‘n dit en ‘n dat en dan nog sommer iets vir die wis en die onwis moet gaan koop.
Dierbaarste, my arme Ding, lê in die bed met ‘n gruwelike maagaandoening, wat sy by my aangesteek het..
Die eerste irritasie was dat ek my bike vir die kar moes verruil. Sien, daar is wel rekke en dinge waarmee mens ligter pakkies op die bike kan vasmaak as jy nie saalsakke het nie. Maar hierdie ditjies en datjies sou my laat lyk het of ek iewers in India woon. Daar waar hulle alles met bromponies aanry. Jy sou net ‘n vrag op twee wiele sien aankom het.
Dan is daar ander goete en dinge wat my briek as ek dan nou opsluit dorp toe moet gaan.
Kinders wat die spasie tussen winkelrakke vol hardloop asof dit langspeel-pouse is.
Rakpakkers wat met vurkhysers rakke moet af- en volpak. Maar eers in die gang kuier.
Buurvrouens wat die dag uitgesit het om inkope te doen en dan kuier hulle van rak tot rak.
Teen die tyd wat ek my wis en onwis artikels in die trollie het, moet ek by die lekkergoed-hindernisbaan deur om uiteindelik by die kasregister te kom.
‘n Mollige moedertjie, goed versorg, met nie ‘n haar uit sy plek van haar haarkapperkop nie, het haar interne GPS verkeerd verstaan en te vroeg afgedraai. Reg by die rak verby wat elke kind verander in ‘n kwylende, kermende monster.
En daar begin Sustertjie, (ek skat so ses), se geteem:
“Mamma kan ons hierdie swieties kry?”
Mamma kortaf: “Nee”
Sustertjie: Asse-bliiiiieeeef?”
Mamma: “EK het gesê nee. Kom weg daar.”
Sustertjie: “Maaahaaa!”
Mamma kners op haar tande en sis tussen die spierwit porselein tande deur: “Neeee!”
Haar oë word ietwat groter terwyl sy haar kop dreigend skeef draai.
Met die gestoei om Sustertjie by die rak weg te pluk met die een hand en die oorvol trollie nog veilig te bestuur met die ander hand, jaag sy so dwarsweg in my vas.
Ek word aangegluur of ek die die swiets-neuler is.
Op daardie oomblik huil Sustertjie in ‘n kleinstemmetjie:
“Groot asseblief Mammiekie. A.s.s.e.blllliiiieeefffff?”
Nou slaan daar ‘n histeriese klankie in Mamma se stem deur toe sy vir Sustertjie aan albei skouers beetkry. Haar so ligte plukkie gee, afgemete en bietjie te luid sê:
“Nee! Daar is NIE geld vir swiets NIE!”
My oë gaan onwillikeurig na sekere van die items in haar trollie. En ek verstom my oor die ses kartonne sigarette. Twee verskillende soorte. Ek neem aan, drie vir Mamma en drie vir Pappa.
Ses bottels wyn. Drie rooi en drie wit. Seker weer drie vir jou en drie vir my.
Nael politoer, haarkleursel, tydskrifte (Sarie, Vrouekeur, Men’s Health, Getaway…)
Dan weerklink haar woorde weer in my ore: “Daar is nie geld vir swiets nie!”
© Zymrly 24 Aug 2016
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Ai jinnekie, net toe ek wil seg foeter daai kjint, toe gee jy die redes hoekom daar nie geld issie. Lekker gelees Zym.