~ Dal Josafat ~
‘n grotesk gepleisterde muur grens tussen
gebreide boorde en krultoon krommings
van ‘n lila berg – ‘n nimmereindigend stryd
wat inspanning verg (sou ek reken)
my taal fladder soos laatherfs deur
kaal gestroopte eike, versteende lawa
blinker oor die vallei – ewig roerend die
alfabet binne my (so voorspelbaar)
nikotien deurdrenk leun ek deur Afrikana luike,
bedag om nie teen historia te skaaf – die nerwe
van my voorgeslag lê immers in hierdie dal begraaf
verskoon die versapte asem en middernagblou
wat aan my lende gom – voor hierdie monument
kniel ek klein, stom (maar dorstig, O so dorstig)
eer my wankel treë, hier waar Totius woorde
uit eekhoring holtes kon grou – so ook my soeke
as uitgeworpene ‘ die afrikaner vrou ‘
ek slaan my oë op na die berge wyl Dawid
(Ou testamenties) ontbyt nuttig saam met my –
die tien gebooie het my voorgeslag hier (gebeitel
teen ‘n berg se voorkop) in Afrikaans gekry.
© Almarie Truter
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek