Naloop
nonchalant drentel jy deur my huis
en maak jou tuis op die stoepie
waar die wind van die see af beur,
jy weet so goed soos ek dat ons nie
moet nie maar die wag in ons hart
is uitgeput
die maan skitter in haar afwesigheid
maar ek voel die eb en vloed
en weier om weerstand te bied,
jy ken my geite en soete en weet presies
hoe om my te vloed op Merlot
(soos menig maal tevore verloor jy jou stand)
toe jy hoofstuk vir hoofstuk binne my begin lees
vertel ek vir jou stories met geen einde,
verse met paar-rym en verruklike strofes
en sien hoe jy verdwaal in my verhaal
toe jou flikkers veel later in die mis verdwyn
weet ek dat jy weer jou pad terug sal vind
~ nag korf my in en ek gee oor.
© Almarie Truter
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek