Die Fisika les
Die Fisika les, deur Stephan Uys
Een oggend terwyl ek nog so heerlik lê en sluimer op die sofa, lui my selfoon. Ek is met verlof en ek weet dit is definitief nog nie beltyd nie. Ek kyk na my foon se skerm: 5:27, en dan lees ek die naam van die persoon wat wraakgedagtes so vroeg in die oggend by my opwek. Dis Neef wat my wakker bel teen hierdie onheilige uur! Ek sluk my woede in, maar dit wil nie verder sak as my adamsappel nie. Ek druk die groen knoppie en probeer ʼn paar vriendelike woorde verby die suur knop in my keel skuur. Dit gaan moeilik om hom nie te berispe nie, maar ek herinner myself ek hou kosteloos en heeltemal mahala vir twee weke op sy plaas in Natal vakansie. Neef klink so op en wakker ek kan sweer hy het klaar drie van daardie energiedrankies agter die blad: “Neef, bly om te hoor jy’s wakker (die knaap moet sy ore dringend laat toets!), ek het gedink jy moet gou jou bakkie afbring na die put (Neef het vir homself ʼn loopgraaf loop staan en bou, want hy hou skynbaar van olie en ghries aan sy hande!) en dan haal ons gou jou powersteering af en kyk wat is verkeerd voor julle see toe gaan en dan maak ons sommer seker die gearbox se olie is reg en ons kyk ook somme na die diff en…
My knieë knak onder my en ek voel hoe mis my hart ʼn slag. Skielik berou ek dat ek gisteraand om die braaivleisvuur genoem het dat die kragstuur van my bakkie bietjie steeks is. Dis een van twee dinge wat ek onlangs begin berou het. Ek het ook aan Neef genoem dat die artritis so geweldig knaag aan my, maar dat appelasyn nogal die kwaal hokslaan. By aanhore van my nood spring die man op asof hyself die Minister van Gesondheid is. Hy verdwyn in die kombuis in maar kom amper onmiddellik terug met so ʼn regte paddaslagter mes in die een hand, en knoffel in die ander hand.
“Hier Neef, ons gaan nou eers gou jou siektes ʼn doodskoot gee.” sê Neef terwyl hy woes met die mes beduie. Ek is skielik oortuig iets gaan ʼn doodskoot kry, maar ek vermoed dit gaan ek wees – die siektes sal sterwe as “casualties of war”. Neef verduidelik entoesiasties met die mes in die lug vir hoeveel siektes rou knoffel help. Dit help met bloeddruk, kolesterol, artritis, hartsiektes, en nog vele meer. Al een wat hy nie noem nie (die een waaroor ek die besorgste is), is dat dit ook ʼn hoogs effektiewe geboortebeperker is. Ek meen, watter vrou gaan nou met ʼn man wil kafoefel as ʼn bloeddorstige Dracula nie eers vir hom en sy knoffel kans sien nie! Liefie het met gespitste ore gesit en luister. Dit klink vir haar mooi en goed en reg, en sy seg vir Neef dis tyd om op te hou praat en te begin slag. Dit is op hierdie oomblik dat ek die knoffel in Neef se hand beskou. Gewoonlik praat mens mos van ʼn knoffelhuisie? Nie van die een in Neef se hand nie! Hy hou so wragtie ʼn hele woonstelblok daar vas. Ek kry ʼn koue sweet en begin bewe, maar Neef sê ek moenie worry nie, hy glo die knoffel sal daarvoor ook help. Liefie bring vir my ʼn glas water en Neef kerf die knoffel in klein stukkies. Tevrede staan hy terug en ons staar na sy handewerk. Vir my lyk dit soos die berg Arrarat wat daar lê. “Jy sluk hom sommer so rou, jy hoef dit nie te kou nie” gee Neef die eerste goeie nuus van die aand. Liefie maak vir my oë; dis duidelik sy wil hê ek moet die goed insluk. Neef maak ʼn klein hopie vir homself. Hy het al goeie weerstand opgebou en sy knoffelreserwes is hoog. Verwese groet ek al my ongebore kinders voor ek agter my knoffelberg inskuif. Neef het vir my ʼn lepel gegee, maar ek dink by my jammergat-self ek sou beter doen met ʼn skopgraaf. Ek skep, sluk, bulk soos ʼn bees, sluk nog twee keer, en toe is die eerste woonstel af in my keel. Dit smaak my ek sluk daardie aand die hele Ponty in! Terwyl my laaste bulk teen die kranse eggo, stop Liefie my ʼn koppie koffie in die hand en beduie na die sofa: “Jy slaap vanaand daar.” Dis op die einste sofa waar ek toe vroegoggend deur Neef wakker gebel word.
Teen die tyd dat ek geskeer, gekoffie, geëet en getandeborsel het, begin die son al die duister sterk te verdryf. Ek klim in die bakkie en ry af na Neef se loopgraaf. Daar gekom trek ek die bakkie wydsbeen oor die sloot. Neef verduidelik ek bly bo staan sodat ek kan tools aangee en dies meer. Ek protesteer baie halfhartig, die naaste wat ek aan olie wil kom is as ek aan slap tjips vat of as ek ʼn baba inseën. Neef verdwyn in die donkerte en ek begin spanners aangee. So ʼn wyle later beduie Neef ek moet die pomp van bo af vashou, want hy kan nie losmaak en vashou nie. Nou moet ek eers verduidelik. My bakkie is hoog. Ek moet op my tone staan en my maag oor die kant van die bakkie gooi om net by die pompie by te kom. Ek haal met sulke rukke en stote asem want my maag druk my longe skeef. Neef het ook sy loopgraaf lekker diep gegrawe, so hy moet op sy tone staan om by die pomp by te kom. Hy het pas beveel: “Nou moet jy hou!”, toe hoor ek die pomp kom los met so ʼn snaakse fluit geluid. Neef is nie ʼn stil man nie, maar kort na die fluitgeluid daal daar ‘n doodse stilte in daardie loopgraaf neer. Die volgende oomblik bewys Neef toe dat die Fisika Wet wat beweer warm lug styg op korrek is. Met die dat ek so stuk-stuk asemhaal, kry die warm lug wat uit Neef ontsnap het toe hy so hoog op sy tone moes rek, kans om onder die enjinkap vergadering te hou. Ek hap ʼn groot deel van hul samekoms met my eerste asemteug. Die lug voel vir my bietjie dik om lekker af te gly, maar toe absorbeer my neus se reukorgane die mikroskopiese gedeeltes van Neef se gaslating. My oë slaan reg om, soveel so dat ek my eie gedagtes met my eie oë kan lees. Die wêreld draai en skielike duisternis oorval my. Ek voel hoe my greep verswak op die pompie. Desperaat probeer ek my gas deurdrenkte gedagtes fokus om alle oorblywende krag na my vingerpunte toe te stuur. Intussen het Neef homself uit die loopgraaf kon kry en hy kom op wankelende bene nader geslinger. Net voor die wêreld swart word voor my gryp Neef die pomp uit my hande.
Laat die middag lê ek nog bewend met ʼn klam handdoek op my voorkop toe Neef die kamer instap met die tweeling van gisteraand se knoffel. “Knoffel help ook baie vir duiseligheid Neef…”
NS. Sou iemand weet van bekostigbare vakansies in Natal tydens Desember, kontak my asseblief dringend. Neef se vrou het netnou laat weet Neef het ʼn hele knoffel plantasie aangeplant net vir my en my brose gestel!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.