Die kronieke van Leon Voëlgemis
Leon het ʼn besonderse groot neus wat lyk soos ʼn slurp aan die voorkant van sy smal gesig. Sy neus maak sy oogbanke al die meer prominent terwyl sy snor die dun en altyd saam geperste lippe verberg. Sy kort vet vingertjies wat uit sy groot handpalm ontpop, is soos die punte van half opgeblase ballonne en lyk soos vergroeide vratte. Sy oorgrote maag hang laag oor sy broek terwyl sy stomp, plomp bene snaaks lyk sonder kouse in die klein nommer agt skoene.
Hy wag alreeds twee ure vir die bankbestuurder om klaar te maak. Hy het ʼn halfuur vroeg gekom vir die onderhoud en is gevra om net ʼn bietjie te wag meneer van Staden is net besig met ʼn kliënt. Telkens verdwyn die sekretaresse net om minute later terug te kom met bloedbelope oë en ʼn snesie wat sy voor haar mond hou. Sy vermy oogkontak en wanneer sy haar kop optel, spring sy weer op en verdwyn om die hoek. Die roetine amuseer Leon, maar hy sê nie ʼn woord nie.
Meneer van Staden kom uit die kantoor, draai hom na Leon, kyk hom vir paar oomblikke vas in die gesig en bars dan kliphard uit van die lag. “Meneer Viljoen, ek stel voor jy gaan…” vir paar oomblikke skud hy weer soos hy lag. “verskoon tog…” dit dawer weer in die kantoor soos hy lag. Die sekretaresse buk agter haar lesenaar weg onder die voorwendsel om iets denkbeeldigs op te tel maar die hele tafeltjie ruk soos sy lag. “Meneer Viljoen, kom more terug asseblief…” Hy verdwyn weer in sy kantoor maar dit verberg nie die dreuning van ʼn lag wat diep uit sy maag voorkom nie. Leon is bloedrooi van skaamte. Hy weet dat baie mense hom al gespot het met sy potsierlike liggaam en onnatuurlike neus, maar nog nooit het iemand direk in sy gesig vir hom gelag nie.
Bedeesd staan Leon op, verlaat die kantoor en stap straat af in die rigting van sy moeder se huis. “Waarom sou hulle so lag? Hy kyk of enige knoop los is en of daar nie dalk enige ontblote deel is nie, maar helaas niks.
ʼn Half uur later, terwyl hy in die badkamer voor die spieël staan, sien hy die oorsaak van hulle lag. Hy voel die warm bloed is wange opstoot. Bo-oor sy groot bos rooi gekrulde hare lê daar ʼn streep van seemeeumis wat amper tot aan sy oor strek.
Dit is vanselfsprekend dat Leon nooit terug gegaan het vir daardie werksonderhoud nie. Vir ʼn jaar of wat daar na het hy nie eers sy gesig gewys in die selfde straat nie. Vir jare, na hierdie gebeurtenis het die bloed sy wange nog bloedrooi gemaak en die warmte in sy nek opgetrek net by die gedagte aan daardie skroomvallige dag.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Skroomvallig? Dis glad geen begrip nie! Dis 'n ten diepste beledigende onbeskaafde misdaad. Vir diesulkes is daar mos inrigtinge, het 'n vriend eenkeer gesê. -- As dit waar sou wees. As dit nie waar was nie: 'n goedgeskilderte beeld van aaklige omstandighede! GvT