Die man wat ek liefhet
Die man wat my liefhet
slingerpad
deur veld en gras
en die fynbostakkies
wat – net gister nog –
sonder blomme was
bloem welig in ‘n welkomsgroet.
In die fluitsang van suikerbekkies
klink ‘n blye weersiensroep
oral
waar hy ou bekende paadjies loop
en – met sy hande –
ryp sade van graspluime stroop.
Die man wat my liefhet
is sterk en sonder skeet;
hy klim oor klip en rant
tot dáár
waar hy kan sien
hoe die witrûe* dans
op strome in die lug.
Hy ken elke voël van die hemel,
die aarde en die bos
se vleuels in hul vlug;
hy wis waar aasvoëls
bedags hul kuikens los
in neste
teen ‘n krans.
Die man wat my liefhet
loop al langs die vlei
by rietpolle, biesies
en wit lelies verby
tot waar swerms wildegans
op die water lê en rus.
Kormorante sprei hul vlerke
waar hul op geboë stompe staan
– draai rugkant na die son
wyl hy sy blik
oor vlei en voël
laat gaan.
*
En hy pluk ‘n bossie blomme,
hy maak ‘n ruiker in die veld
van suikerkan* en steenboksriet
net voor hy huis toe kom.
Want hy weet;
ek is die vrou wat hom lief het
en ek –
ek wag alreeds
vir hom.
© Carma Shaw
*witrûe – kransaasvoëls.
* suikerkan – speldekussing
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2018 - Liefdes projek