
Die rooi-oog in die hoek. (SILWER)
Die rooi-oog in die hoek.
Aiken en Cheor speel al te lekker langs die ou Chinese woning met die groen geuweldakkie. Die dakkappe van hul huis het die mooiste gekerfde besonderhede, so eie aan China. In die klein dorpie is daar talle van hierdie tipe huisies te sien. Die Yin gesin woon in die buitewyke van Wuhan.
Die seuns speel heerlik, salig onbewus van die uitbraak van “longontsteking” gevalle in Wuhan, naby die distrik waar hul woon. Aiken het wel gehoor sy ma, Hui Yin vertel van haar oom wat baie siek geword het. Volgens sy ma, het hy skielik ʼn vreeslike longinfeksie gekry wat deur ʼn onbekende virus veroorsaak is. Die medisyne kon nie die infeksie onder beheer kry en oom Jian het aan septiese skok gesterf. Van die nuus bekend geword het, is hulle ma baie stil asof sy baie bekommerd is.
Cheor se stem klink verontwaardig: “Nee! Die drie varkies wil nie hulle eie huise bou nie! Hulle wil nog by hulle mamma se huis bly.”
“Cheor, dit is nie hoe dit werk nie, as jy groot is, gaan bly jy op in jou eie plek.”
Cheor frons, skud sy kop en skop ergerlik die groot plat klip weg wat voor hom lê.
Aiken vat sy tweekop-laptier en gaan aan met sy speletjie. Hy onthou skielik hoe sy ma hom vertel het dat ʼn laptier beskerming bied teen booshede. Hy wonder waarom sy ma nie vir haar oom een gevat het toe sy gehoor het hy is siek nie.
Uit die kombuis kom die reuk van hulle gunsteling kos: rys met soetsuur vark-repies.
“Cheor, Aiken, kom was gou julle hande dat ons kan eet.” Dit raak nou vinnig donker en die naglug voel so snaaks klam.
Hulle sit aan vir ete. Eensklaps trek iets deur die oop venster. Die gedoente fladder wild oor die kinders se hare en gaan soek skuiling by die balke van die dak. Kop onderstebo hang die klein grys gedroggie daar. Hui gryp ʼn kussing en klap na die vlermuis in die hoek.
Aiken lag kliphard.
“Waaroor gaan julle so aan? Dit is maar net ʼn skadelose diertjie!”
“Cheor, het jy geweet dat hy nie in jou sal vasvlieg nie? Daarvoor is hy hopeloos te slim, hy het ʼn radar wat sal keer dat hy in iets vasvlieg.”
Giggels en gille vul die huis as die seuns regmaak vir die nag. Hulle wag vir hulle ma om te kom nagsê en die lantern uit te blaas.
Hui word wakker van ʼn boosaardige gegil!
Cheor sit kietsregop op sy slaapmat, sy kombers onder sy ken vasgeklem. Groot sweetdruppels rol teen sy natgeswete wangetjies af.
“Mamma! Pasop!”
“Cheor, bedaar, wat is fout?”
“Die vlermuis! Die vlermuis!”
“Wat van hom? Ons het hom al uitgejaag voor julle kom lê het?”
“Nee mamma, hy was hier! Hy was baie groter as die een wat ons gesien het! Hy het yslike lang, skerp tande gehad. Hy wou vir Aiken gryp en hom opvreet!”
“Cheor, dit was net ʼn nare droom. Jy is veilig. Kyk, hier is niks in julle kamer nie.”
Na vele mooipraat lê die twee weer rustig toe hulle ma gaan slaap.
In die hoek van die kamer glinster twee bloedrooi ogies, gereed om sy prooi te gryp.
©Marlene Erasmus
31/05/2022
(545 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2022 OOP projek