Die Son sing Lente
subtiel
sonder fanfare
skuif sonstrale
vroeër
en sterstap stadig
nader
oor die kim …
Flora vryf slaap uit haar lang-rus-oë
sy skud haar kleed se stof af
en kwas blos op haar winterwange
ʼn verspreiding van kleurpoeier oor die dag
dan dans sy wakker onder die stort
van vroeë reën se sprinkelsproei
om in groen botsels en ʼn palet van knopsels
finaal die skurf van winter af te stroop
sy skryf ʼn vers van vroeë lentegroei
geïnk in vrolike seretonien en dopamien
ʼn skouspel van beloftes in nektar gedoop
wat soet oor die halfrond in kleurspel drup
want
die son speel
subtiel
sonder fanfare
sy lentelied
en glim en lag
in ontvaalde seisoensverandering
Etna Wepener ©️
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.