Jongste aktiwiteit:

DIE WEERWRAAK MOORD HFSTK 4

HOOFSTUK 4

Toe Irene in die bed klim om haar posisie te oordink bly haar gedagtes deurmekaar en kry sy hulle moeilik georden. Sy kom tot die besef dat sy met Herman een of ander ooreenkoms moet bereik anders gaan sy alles verloor. Hy het al die bewyse op haar rekenaar om haar te dagvaar vir n egskeiding en is sy die een wat as verloorder gaan uitstap as hy haar dagvaar. Sy raak naderhand aan die slaap met die gedagte om die volgende dag met Herman te praat, hopelik het hy dan al afgekoel en kan hulle tot een of ander verstandhouding kom.

Sy kry n boodskap van Armand af op haar selfoon waarin hy vra hoe dit met haar gaan. Haar antwoord is kort en bondig: “Dit gaan sleg, my man het my uitgevang. Hy het my skoot rekenaar met al ons boodskappe daarop. Hy is moeilik en ek verwag dat hy jou ook gaan kontak”.

Die boodskap van Armand af kom terug: “Jou verdiende loon vir wat jy aan my gedoen het. Moet my net nie betrek nie, ek sal net sê dat jy my aanleiding gegee het en dat ek nie geweet het jy is getroud nie en jy my ook nooit gesê het jy is getroud nie as hy my kontak”.

Irene is so deurmekaar en vaak dat sy vergeet om die boodskappe op haar foon uit te vee.

Sondag is sy vroeg op om met Herman te praat. Sy is nog in die bed toe sy hom in die kombuis doenig hoor. Sy vlieg vinnig uit die bed uit, trek haar kamerjas aan en gaan kombuis toe om met hom te praat. Sy wil die ding vroeg agter die rug kry. Sy kry Herman in die kombuis waar hy ingedagte deur die venster na n wolklose hemel staar terwyl hy wag vir die ketel om te kook. Toe hy Irene kortaf groet haal hy nog n koppie uit die kas uit om vir haar ook koffie te maak.

Irene gaan sit by die kombuistafel en wag tot Herman haar koffie voor haar neersit en sy die beker opneem: “Herman ons moet praat oor wat gebeur het. Ek was verkeerd en is bitter jammer oor wat gebeur het. ons moet net eenvoudig, ter wille van ons albei tot n verstandhouding kom”.

“Daar is niks om oor te praat nie Irene. Ek gaan die kinders vertel van wat hulle ma aangevang het en ek gaan hierdie lover van jou en jou werk ook kontak. Wat jy wil maak is jou saak maar ek sê nou vir jou jy gaan nie wegkom hiermee nie. Hulle sal my glo want al die bewyse is op jou skoot rekenaar”, is Herman se kortaf antwoord.

Irene besef dat dit nie gaan help om met Herman te redeneer nie en met trane in die oë vra sy: “Wat verwag jy van my onder hierdie omstandighede Herman. Wat moet ek doen dat jy dit nie hele wêreld vol loop en verkondig nie. Kan ons nie tot n vergelyk kom nie”.

Herman staan stadig op en gaan staan voor Irene: “Ek gaan nie onredelik wees nie. Ek gee jou n week om n ander blyplek te kry en te maak dat jy wegkom uit my lewe uit en uit hierdie huis uit wat ek die grootste deel betaal het. Ek bly nie saam met n vrou wat saam met n ander man in die bed gespring het nie”.

Die skok is vir Irene groot en vlug sy kamer toe. Haastig stort sy, trek aan en vlug uit die huis uit. Met trane in haar oë ry sy net. Sy ry net blindelings en hou naderhand by n parkie stil waar sy onder die bome op n bankie gaan sit om haar gedagtes te orden en tot n besluit te kom wat haar nou te doen staan. Dit is rustig in die parkie met sy lowergroen gras en is daar nie die tyd van die oggend besoekers nie. Daar is net n paar duiwe en mossies wat pik pik oor die gras dwaal op soek na kos.

Sy skakel vir Armand en hy neem n rukkie voor hy antwoord toe hy sien dit is Irene. Hy moet eers op n veilige plek kom waar hy kan praat sonder dat sy vrou hom hoor.

Toe hy antwoord vra sy:” Armand kan ons asseblief nie praat nie. Ek moet jou nou sien. Ek is uit die huis uit geskop want Herman weet alles van ons af”.

“Is jy van jou sinne beroof om my bel Irene. Ek is jammer om van jou moeilikheid te hoor en jy bel my nie weer nie. As ons gedoen het wat ek jou gevra het sou jy nie nou in die gemors gesit het nie. Jy bel my asseblief nie weer nie”. En met die druk hy sy selfoon dood.

Toe hy omdraai staan sy vrou, Estelle, agter hom. Hy word wasbleek want hy weet nie hoe lank sy gestaan en luister het nie en stamel hy n verskoning uit: “Sommer n lastige kliënt wat nou weer so ontydig is”

Estelle kyk hom in die oë: “Jy lieg Armand. Jy het n verhouding met n ander vrou en dit is sy wat jou nou gebel het”, begin sy op Armand skree.

Daar is niks soos n verwoede vrou nie en die volgende oomblik gryp sy Armand se selfoon uit sy hand uit en begin op sy boodskappe ingaan. Voor haar oë ontvou al die boodskappe tussen Armand en Irene en dan begin sy histeries raak en skree sy op Armand: “Noem jy dit n kliënt hierdie. Van wanneer af gaan hou jy liefdesnaweke saam met jou kliënte jou lae vuilgoed”.

Armand probeer nog keer maar n woedende Estelle storm die huis in met sy selfoon en hy agterna
“Gee terug my foon jy weet ek kan nie sonder hom werk nie”, skree Armand terwyl hy die foon by haar probeer afneem.

Sy keer egter: “Nie voor ek hierdie teef se nommer afgeskryf het nie want sy gaan van my hoor beslis”, en met die begin Estelle die nommer in haar selfoon wat op die tafel gelê het, intik.

Klaar daarmee gooi sy Armand se selfoon voor sy voete neer: “Daar is hy en gee pad voor my oë, nou”.

Armand vlug uit die huis uit, klim in sy Audi en ry. Ook Estelle voel sy moet net padgee. Sy klim in haar Honda en vat die pad en stop langs n parkie. Ook maar goed dat sy nie weet dat Irene net aan die anderkant van die parkie sit nie. Toe sy onder die bome gaan sit stuur sy vir Irene n boodskap: “Ek het jou en Armand uitgevang. Ek gaan die sakie nie hier los nie. Ek gaan jou man en jou werk kontak en hulle vertel wat se tipe vrou jy is”.

Irene kry die boodskap en lees dit oor en oor. Sy oorweeg om Armand te skakel maar besluit dan hy moet maar sy eie dinge uitwerk soos hy dit aan haar oorlaat om haar dinge uit te werk. Sy antwoord ook nie op Estelle se boodskap nie want sy weet nie werklik wat om te antwoord nie. Sy, Irene, wat oor ander mense se lot beslis, staan nou self in die beskuldigdebank van die lewe vir ontrou en egbreuk.

Sy keer eers weer laat die oggend terug huis toe. Met verbasing sien sy dat Herman se bakkie nie daar is nie maar toe sy die alarm wil afsit is die alarmstelsel reeds af.
Dit wil vir haar snaaks voorkom want Herman maak altyd seker dat hy die alarm aanskakel as hy ry en sy nie by die huis is nie maar dan aanvaar sy dat hy seker maar te woedend vir haar was en vergeet het om die alarmstelsel aan te skakel.

Sy maak die motorhuisdeur toe om deur die binnedeur in die huis in te gaan. Dit is toe.sy deur die binnedeur gaan wat sy agterkom daar is fout maar is dit te laat. Al wat sy sien is n beweging uit die hoek van haar oog voordat n kaphou teen haar nek haar neervel.. Toe sy haar bewussyn verloor syg sy op die vloer neer. Hande vat om haar keel vas en begin die lewe uit haar uit wurg en gly sy die ewige duisternis in. Seker sy is dood laat die moordenaar haar liggaam stadig afgly, glimlag en trek sy handskoene uit.

“Jy het betaal vir wat jy gedoen het” is sy laaste gedagte toe hy stil deur die huis sluip om deur die agterdeur uit te glip, die deur toe te trek agter hom en die alarm stel te aktiveer voor hy om die huis te loop, die hek met n skakelaar oopmaak en straat af verdwyn.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed