Donker Goël-uur: (Kwatryne)
selfs die rooi-dagbreek lê nog sluimerend
sy glip uit drome gedagtes ontbind
en kleef vas teen die donker van die uur
die stilte verstrengel haar versmorend
‘n vrou lê wakker in ‘n sinkplaathuis
‘n vrou sit wakker in haar duur kombuis
op die oog af verskillend dog glad nie
want elk een ongeag dra aan ‘n kruis
‘n goue draad loop deur ons almal
verbind met die uitdyende heelal
my siel weerspieël joune dis eenvoudig
geen grense geen vrese laat die muur val
ons binnelandskap se armoede
smag net na aanvaarding sonder woede
soek almal die sielsvoeding van hartskos
en die onvoorwaardelike liefde
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.