Eb en Vloed
Soos die blink oseaan
in sy kalm ontstuimigheid
saggies om rotse speel
stu my liefde in golf
op golf teen die kurwes
valleie van jou verruklike lyf
en die somerwind kuier saam
soos ‘n halsstarrige kleinsus
wat giggelend rondom ons dans
Ons liefde verstrengel
met niks tussen ons twee
behalwe die nag en die wind
en die lag…
Die maansekel loer
met ‘n skalkse lag
om die wolkie wat hy
sluiersag voor hom hou
en hy knipoog sy lig
op die maat van die wind
maak patroontjies
wat speels oor ons lywe
heen dans
en die eb word
die vloed
by die hoogmerk verby
om weer
stadig te eb
en te kabbel
en saggies wegsink
in tevrede
nat sand…
© Anton Bosch
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.