Jongste aktiwiteit:

Ek, die boelie

Op ’n dag loop ek verby die radio en ek spits my ore toe ek die volgende woorde hoor: “’n Emosionele boelie is iemand wat sy/haar persoonlikheid op iemand anders probeer afdwing.” Stadig het die skuldgevoel teen my ruggraat opgekruip. Dis ek daai, het ek gedink. Die emosionele boelie. Die skoen pas my so goed, want as daar een ding is wat die afgelope jaar my geleer het, is dit hoe bitsig ek met my mond kan wees. Dit het ’n paar keer gebeur dat ek my opinie met iemand gedeel het en dan wou ek my tong na die tyd afkap, want ek kon sien hoe seer my woorde maak. Die jonger ek het nooit hierdie lelike ding raakgesien nie. Inteendeel, ek het dit altyd geclaim as een van my goeie eienskappe. Ek was trots daarop dat ek ’n reguit en eerlike mens is wat nie op my bek geval is nie. Ek sê ’n ding soos dit is.

Ek was nog altyd baie vinnig om iets of iemand op te som en my eie menings en opinies te vorm. Ek is ook net so vinnig om daai menings en opinies met ander te deel, of hulle nou daarvoor gevra het of nie. Ek het verwaand geword met hierdie ding, besef ek nou. Roekeloos het ek my eie waarnemings van mense en dinge begin rondgooi én ander probeer oortuig dat wat ek dink en glo mos nie verkeerd kan wees nie. My woord is wet. Maar my woord het ’n vieslike skerp mes geword waarmee ek mense en verhoudings vol gate gesteek het.

Elke mense het sy slegte én goeie dinge. My oë was wawyd oop vir almal se foute en swakhede, want, sê die duiwel op jou skouer, deur ander mense so af te druk laat jou mos baie beter voel oor jouself! Toe lieg die klein bogger ook nog, want ek voel allesbehalwe goed as ek vandag terugkyk na die trane en ongelukkigheid wat my reguit en eerlike woorde veroorsaak het. Dit is okay om ’n sterk persoonlikheid te hê, maar ek wil dit beslis nie verder gebruik om ander te boelie nie. Dis ook okay om die waarheid te praat, maar die regte waarheid, NIE DIE WAARHEID VOLGENS JÓU NIE! Ek wil my sterk eerlike persoonlikheid gebruik om mense op te bou, eerder as om hulle af te breek. Ek weier om verder ’n boelie te wees! Ek wil graag die highlighter wees wat ander se mooi eienskappe onderstreep.

Iets om saam te vat: “Treat people as if they were what they ought to be, and you will help them become of what they are capable of becoming.” – Goethe




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed