Ek skryf ‘n sprokie
Ek skryf ‘n sprokie…
Ek skryf ‘n sprokie vir jul twee
‘n meisie en seun kaalvoet langs die see
uitbundig lag en speel
jul vreugde van lugkastele bou van anderkant die duine deel
Ek skryf ‘n sprokie vir twee
van hande wat vol diamante op spierwit strande vee
drome vol goud en silwer wat na die sterre reik
‘n maan wat na tevrede glimlagte lyk
Ek skryf n sprokie vir twee
twee rye spore afgeprent langs die see
slingerend oor die strand toegespoel in sagte sand
twee jong hunkerendes hand aan hand
Ek skryf ‘n sprokie vir kinders van die see
verlangend na anderkant die duine se weë
die onbekende berge valleie bome
waarvan jul net wonder en speel in jul drome
Ek skryf ‘n sprokie vir jul kinders van die weskus
wat net weet van bote wat visvang en op wit sand rus
met die sproeireën van die branders oor jul hand en voet
en jul wens om die anderkant van die golwe te kan gaan groet
Ek skryf ‘n sprokie vir kinders van stadsverkeer en liggies
vir jou stadkind gebore in ‘n plek van beton sonder sterretjies
want wolkekrabbers groei en uittroon na hemel
Miljoene bymekaar beweeg die strate nooit stil
Ek skryf ‘n sprokie vir jou kind van die plaaswerf
jy het die beste toekoms van vry wees geërf
van ruik van die nat aarde sonder besoedeling
na die stilte kan luister as dit vir jou ‘n aandlied sing
Ek skryf ‘n sprokie vir jou kind van die woestyn
wat met karossie om die lyf speel op die rooibruin duin
springbok en gemsbok elke dag op die gesigseinder daar ver
met die son wat bedags gloei en saans koud kry onder maan en ster
Ek skryf ‘n sprokie vir jou straatkind
met die sterrehemel as jou dak en leef in reën, son en wind
jou bed saans die bankie in die park toe gekombers onder koerant
met bedelbroodjie en bitter swart koffie in die hand
Ek skryf ‘n sprokie vir jóú …
©Kopiereg Linda du Plessis 2016
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.