Ek wens jy was hier
My lief,
ek wens jy kan sien
hoe die lenteson soggens
deur die wintergrense breek
en die koue elke dag verder
die vlaktes indryf
terwyl sý soos ‘n ryp appelkoos
haarself fier aan die hemel ophys
en die nagblou heuwels
met aller mooi skakerings
van rooi violet, oranje
en goudgeel verlig
Ek wens jy kan sien
hoe die vuurpyle
tussen die rotse blom
en nuwe lewe kleurvol
in die asvaal veld opkom,
hoe die blousysies en vinke
in die maalklip bad
en die houtkapper ‘n stort
in die stofpad vat
ek wens jy kan hier wees
om saam met my te stap
al met die wildspaadjie langs
op ons wandelpad
tot daar by die groot klip
aan die oewerkant
waar sonstrale laatdag
met refleksies van ons
op die waterpoele dans
en vanaand
as die volmaan boepens blink
aan die hemelruim hang
en die aarde in luna-eklips
voor die son insink
om die maan se lig te steel,
hoop ek jy sal hier wees
om die oomblik te deel
as sý al smeulend
soos ‘n bloedrooi topaas
haar weg deur die sterre
terug na haar lig toe baan
©Loretta Szikra
20180727
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek