Jongste aktiwiteit:

Episode drie: In die middel van my tuin staan daar vir altyd ’n ryding

Terwyl ek hier sit en aan die herinneringe van my voertuie en die kaskenades in, om en met hulle herkou, sak daar ’n lap van skuld oor my gemoed neer.
Voordat ek my heel eerste voertuig met my eie geleende geld gekoop het, het my ouers en uiteraard meer my Pa as Moeder, my van ‘n vloot voertuie voorsien.
Sommige vir ’n paar weke en ander langer. Sommige is met moeite gerestureer en ander was vars uit die toonvenster.

In sak en as weens ‘n tekort aan vervoer was ek dus nooit nie, maar dat ek meer as net ’n pennie uit my ouers se geldsakkie geruk het, dit is gewis so!
In terugdenke is dit iets waaroor ek weereens beide skaam en diep dankbaar is.

Die groen Mazda 323 met die dakrak en agterkant vol branderplankplakkers is aan my Peetmoedertjie verkoop en met ’n uit-die-boks opgeboude wit en maroen Baja Bug vervang.
(Vir die geslag wat die gier gemis het: dis ’n Volkswagen-Beetle, wat se modderskerms, bagasiedeksel en enjinkap afgegooi word. In hulle plek word, gewoonlik, veselglas wyespoor en gevormde panele aangesit sodat die arme Volksie soos ’n wafferse duin-drogter kan lyk. Gooi daarby wye bande en ’n blink nuwe raserige uitlaatstelsel en dit is ’n speelding soos min!)
My kar was skoon van bo tot onder, het soms ’n “paddle-ski” op die dakrak gehad en die son het strepe deur my kuif gebrand, maar tog iets het gepla.

Die aster van die baai se matriekafskeid was voor die deur en daar was op deesde aarde geen manier wat sy in hierdie raserige spinnekopkoets van my vervoer sou word nie. In daardie dae ( heng, hoe oud dink ek nou!), het selfs die geldgatkinders met “gewone” voertuie na die matriekdans toe gegaan. Die rokke was wel toe al deur die Arendse en kie van die Kaap gemaak, maar die rygoed was agterweë.
Soos ek wou en soos die meisie se geite was, was die Baja nie eintlik ’n oorweging nie.
Wat van Moeder se Nissan?
Dit was geen uitdaging nie. Met graagte sou Moeder haar Langley vir die geleentheid leen, maar vir die uwe, was dit nie heeltemal eersteprys nie…

Pa het by sy werkplek ’n statige donkerblou Mercedes 350se te koop gehad. Hierdie lang kragtige pragtige ou dame was myns insiens net die regte voertuig vir my meisie vir die aand.
Maar Moeder het ander gedagtes gehad en toe begin dit…
“Oor my dooie liggaam!…of … as sy nie met my kar gevat wil word nie, dan kan sy stap!” en so sou Moeder in aanloop tot Hoërskool Kampsbaai se matriekafskeidsfunksie, in vele van ons bekgevegte gedurende die week gil.
Ons het baklei-baklei smorens die huis verlaat en saans smoorkwaad die ligte afgesit; net omdat Moeder verseg dat my Pa tot hierdie onskuldige versoek instem. Tot daai een aand, wat hy seker ook genoeg gehad het en ons albei met ’n groot grofgeskut stilgemaak het…

Die dans was wild en lekker en die “after-party” by ’n klub in Seepunt senutergend; want ek wou elke kort-kort opdraf om te gaan kyk of die kar nog heel én daar is!
Die ontbyt in ’n salig slapende stad was gou verby en met ’n moeë lyf halfpad huis toe moes ek vir oulaas vir die dorstige blou dame by ’n motorhawe stop. Ek het my sin gekry en ék was tevrede, maar desondanks al die baklei vir haar, was ons verhouding hierna oorlede.

Dit was seker so ‘n jaar later wat die Baja Bug gier gaan lê het en ek, as meer besadigde tweedejaarstudent, die behoefte aan ’n gewone voertuig ontwikkel het. Pa gee toe vir my rooi 1200 Datsun. Dit was ’n pragtige oorspronklike 1974 model; ’n ou oom se bakkie gewees.
( O’ja amper vergeet ek. Neef Philip het die eenkeer gesê mens moet nie na die voertuig as ’n sis of so “bakkie” verwys nie; dis ’n Datsun of ’n Ford, want ’n hond vreet uit ’n bakkie uit!”)

Die rooi Datsun was nie baie vinnig of uiteraard gemaklik nie en as 21-jarige was dit darem nie die mees geskikte ryding nie….
Pa gee toe ’n rooi VW Golf.
’n Netjiese tweedehandse opgedolliede 1500 Golf 1 met ’n warmgemaakte enjin. Deur die eerste drie ratte het min 6-silinders langs haar gesit.
Daardie Desember van 1988 was my rooi Golfie ’n bekende gesig as afkondigingsvoertuig en draer van goeie boodskappe namens die Stranddienspan in Kleinmond, maar in Maart van die nuwe jaar was daai einste Golfie verantwoordelik vir die dood van ’n voetganger buite Hermanus. Die polisieverklaring sou lui: Ongeveer 19:15… voertuig was in Suid-Noordelike rigting onderweg toe die voetganger vanuit die ruigte bosse in ’n Oos-Wes rigting die pad sonder meer probeer kruis het en noodlottig beseer is….”
Ek en vriend Philip was genadiglik die vroegaand nog op pad dorp toe, teen ’n rustige spoed, sonder substante se invloed….. en skielik knyp die koue my aan die keel wanneer ek aan die werklike moontlikheid van die alternatief dink; en sonder oorweging daarvan begin “Amazing Grace, how sweet the sound…” op die voorgrond van my instinktiewe sooibrand gedagtes speel.

Die Golf was tot niet en ’n vars geverfde Opel Kadett het op my gewag. Pa het ook bykans alles aan die kar oorgedoen en reggemaak en vir ’n maand of wat het die Kadett haar deel gedoen…tot sy begin lol het. Dan staan sy want sy is te warm, dan vrek sy want sy is te nat en toe moet sy waai!
Pa voorsien weer en staan nader om die Opel vir ’n nuwerige Nissan 14:00, met ’n kappie, om te ruil. Dit was ’n lekker ryding. Sit ’n sakkie sement op haar agterwiele en die agterstewe sit vas in enige draai! Met haar was see toe gaan ’n bries en naweeksakke kon sonder ’n snak na ’n asem gelaai word.
Die dae was skynbaar goed; die kalmte en wyn soet….

Einde van episode drie




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed