Feërie – Snert?
Feërie – Snert?
‘n Moedige skryfster, Ronel Janse van Vuuren (wat origens ook as „Skrywer van die Jaar, 2016” gekies is) bring ons reëlmatig staaltjies en verhaaltjies uit ‘n gebied wat sy „Feërie” noem. Nouja, ons kan dit lees en miskien sê dat dit iets vir die kinders is. Of ons kan brul en tekeregaan en sê dat soiets vir die arme klein bloedjies alte af-van-die-ware-pad is. Elkgeval niks vir volwassenes nie. Ons kan dus daarvoor of daarteen wees.
Op Ysland in die Nasionale Museum in Reykjavik is ‘n dokument wat onderteken is deur die Staatspresident en . . . die Dwergkoning!
☼
Ysland is, soos ons uit die aardrykskunde weet, ‘n eiland met volkaanberge, menige nog aktief, die meeste reeds geblus. Maar berge. Om op die eiland van hier na daar te kom, is, soos oral op die aarde, paaie nodig. In ‘n onherbergsame deel van Ysland sou ‘n bergpad deurgeskiet word. Die bou van die pad het goed voraangekom tot die padbouers eendag op ‘n groot klip, ‘n besonders yslike rots afgekom het – midde-in die geplande roete vir die nuwe pad.
Wat maak ons dan hier? Skiet hom met dinamiet uitmekaar! Natuurlik.
Alle pogings om hierdie rots uit die pad te ruim, dit wil sê wegskiet, was verniet. Na die eerste poging, toe niks gebeur het nie, het die padbouers al hoe dieper geboor, al hoe meer dinamiet gelaai, maar niks wou werk nie. Die werkers was verbluf, buiten die paar boorgate waaruit die ontploffings soos uit ‘n geweer uitgeskiet het, was die rots heel en ongeskonde. Toe kom daar ‘n ou mannetjie met ‘n mantel uit velt en ‘n slap tuisgemaakte velthoed verby.
„Julle mors julle tyd,” seg hy, „hierdie is die Dwergkoning se slot. Sy paleis. En julle kan hom nie verdryf nie. As julle iets wil hê, moet julle met hom verhandel.”
„Ken jy die Dwergkoning, vadertjie? Kan jy vir hom sê dat ons hierlangs ‘n pad wil bou? En hom vra watse voorwaardes hy stel?”
„Dit kan ek. Dit maak ek. Maar dan moet julle kyk dat julle nou hier wegkom. Môrevroeg kom ek weer. Maar solank moet julle sorg dat julle hier wegbly.”
Die volgende oggend wag die ou mannetjie die padbouwerkers al in toe hulle aan diens kom.
„Die koning laat dit toe dat julle hier ‘n pad mag bou. Maar julle moet julle streng aan sy voorwaardes hou.”
„En dit is . . ?”
„As eerste moet julle met hom ‘n ooreenkoms sluit. ‘n Staatsverdrag. Daarin sal staan dat die dwerge tot in ewigheid ‘n bepaalde gebied van soveel-en-soveel vierkant kilometers, met hierdie-en-daardie grense, afgestaan word as eie woongebied. Verder dat geen mens hierdie gebied mag betree nie. Tot in die ewigheid! As voorbereiding daarvoor moet julle ‘n weg vrysny van hier tot die grens van die uitgemaakte gebied. En dan moet julle drie weke hier wegbly, totdat die dwerge omgetrek het. Daarná kan julle kom en die klip verwyder.”
„Ja, maar sal ons die klip kan wegskiet . . ?”
„As die koning dit sê!”
☼
Die voorman van die bouspan het notatjies geskryf en het die eise van die dwergkoning na Reykjavik gebring. Na die Staatspresident op sy kantoor. Hy het geduldig, ja welgesind, na hul daarstelling van die saak geluister. Ofskoon hy nog nie self met ‘n dwerg gepraat het nie, het hy mense geken wat al gesprekke gevoer het. Hy het geweet wat in die wêreld aangaan. Toe laat hy op fynste, duursaamste pergament met gekrulde hoofletters, met allerlei versiersels en tierlantyntjies ‘n ooreenkoms opstel waarin presies alles opgeteken word soos die Dwergkoning dit wou hê. ‘n Kontrak tussen hom as Staatspresident in die naam van die volk en die Dwergkoning as verteenwoordiger van sy volk. Daarna het hy dit onderteken en die groot rooi waksseël van die staat Ysland daarop gekleef.
Toe die padwerkers weer by die groot rots uitkom, wag die ou velt-mannetjie oudergewoonte op hulle daar. Hy neem die verdrag en sê hulle nogeens dat hulle nou moet weggan en môrevroeg weer kom. Dit doen hulle toe ook.
Volgende oggend gee hy hulle die verdrag terug. Dis nou volstandig met twee onderskrifte, die van die Staatspresident, duidelik en leesbaar en die van die Dwergkoning, nie leesbaar nie want dis in ‘n ander skrif as ons s’n. Nie egipties nie, nie sjinees of japaans nie, nie sanskrit nie . . . Hoe sal ek sê? Onleesbaar. Eenvoudig onleesbaar. Vir ons.
Die padwerkers het ‘n weg vrygesny tot aan die grens van die nuwe dwerggebied. Hulle het drie weke gewag tot die dwerge omgetrek het. En nog ‘n dag daartoe om seker te maak. Toe hulle dinamiet in die gate van die groot rots laat ontplof, gaan die hele lot in die lug soos ‘n sak sand. Oorgebly het niks nie.
☼
Feërie en snert? A-nee-a! Dat ek (of die Staatspresident of nog iemand) nog nie ‘n fee of ‘n kobold of ‘n elf gesien het nie, beteken niks nie. Ek het ook nie ‘n lig- of klankgolf gesien nie. Of ‘n chromosoom of ‘n dubbelheliks ook nie. Of menige ander „waarheid soos ‘n boom”.
Die Lappe in Skandinawië, die Jakurte in die Mongolei, die Iere en menige ander . . . Hulle gesels almal met hulle „klein volkies” met hulle elbe, kabouters en leprechauns . . .
☼
In elk geval weet ek net van hierdie één verdrag wat opgestel is tussen die leiers van ‘n mensestaat en ‘n dwergstaat. ‘n Ieder kan heengaan en dit in die Nasionale Museum van Ysland in Reykjavik aansien.
☼
©20e.Februarie2017……..☼☼☼……………………tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.