Wanneer gaan jy dit weer hoor?
Die meeste mense sê die een of ander tyd iets waaroor hulle hul tong kan afbyt. ’n Mens hoor daagliks, direk of indirek, iets wat jy waarskynlik sou verkies het om nie te hoor nie. Tog hoor ’n mens soms iets wat so uniek is dat jy wonder of jy dit ooit weer gaan hoor.
’n Paar weke gelede vertel ’n vriend vir my dat hy in die vakansie hopeloos te veel gewig aangesit het. Hy het verleë geglimlag en beduie dat hy tevrede is as hy twee desimale op die skaal weeg.
Ek het vir ’n oomblik oor hierdie sin nagedink. Twee desimale . . . dit beteken ’n reikwydte tot 99 kg. Dít behoort die druk te verlig om ’n sekere gewig te weeg. Ek het gewonder of ek ooit weer iemand dít gaan hoor sê.
’n Maatskappy het onlangs geld aan liefdadigheidsorganisasies oorhandig. Vir hierdie oorhandiging is die kenmerkende groot plastiese tjeks gedruk. Met die terugvervoer van die tjeks na die maatskappy se kantoor het een kollega vir ’n ander gevra of hy kan help om die tjeks te dra. Die res van die kollegas het geglimlag. Wanneer gaan jy iemand weer hoor vra of hy tjeks kan help dra? Daar word skaars nog tjeks gebruik, wat nog te sê gedra.
Ek gaan ’n tyd gelede haarsalon toe. Met die afskortings wat die aangrensende werkgebiede van mekaar skei, kan jy die ander persoon hoor, maar nie sien nie. Toe die kliënt haar plek inneem, hoor ek sy vra: “Sal jy my asseblief vandag nog ’n bietjie gryser maak?”
Ek het geglimlag. Weet sy hoe skaars hierdie woorde is? Aan hierdie kleinood het ek herkou. Wanneer gaan ek dit weer hoor?
http://www.netwerk24.com/ZA/Noordkaap/Nuus/hoe-se-jy-daar-20170214
2 Kommentare
-
neels
Lekker gelees Karin
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Skerp ore. Skerp waarneming. Skerpsinnig geskryf. Dankie! GvT