geaborteerde vlaktekind
die vlaktekind kriewel krioel
vandag waar sy fetus lê
in die holte van my ribbekas
en skreeuend verklaar sy verlange
na poeierstof soutpanne
waar duiwelwinde dwarreldans
ballet pirouette-passies in stofjassies
hallusinasies hittegolf migrasies
waterpoel stagnasies skilfervel
en sinkplaatpaaie geelslangkronkel
verder en verder in die niet verdwyn
ʼn vergete rolbos tolbos tiekiedraai
teen die driedoring vasgewaai
en swart verbrande rooi ysterklippe
grafsteenhopies lê soos Moses
se tien gebooie … kliptafels
gebroke wette woordloos
die vlaktekind in my hart
se vrugwatersak
is voos en swak
sy wil uit
moet uit
om te gaan groet
waar namakwaduifie sy maat kie-kier roep
die oopbars kraters van ʼn rooi granaat se soet
en dorperooie hulle tweelinge vol-uier voed
te gaan sit in die begraafplaas op ʼn bidklip
terwyl kanniedood se rooi klokkieblom
koggel-koggel … jy is mens … jy kan dood
want sy versmoor, ek het haar kyk vermoor
haar verblind, sy kan nie die plek vind
waar aarde en hemel saam aanbid
vrot verrot die vlakte-fetus in my hart se punt
©Elmyn.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek