Jongste aktiwiteit:

Geamputeerd (BRONS)

Geamputeerd (BRONS)

Dis laataand en ek voel besonders vergenoegd. Ek het pas ‘n spertyd gehaal met nog 53 minute grasie. Waarskynlik ‘n eie ‘persoonlik beste’ soos die drawwers sou sê, siende ek dikwels oor my werk aan die slaap raak en dan maar later krisisbestuur moet toepas.

 

Met al die ekstra tyd tot my beskikking, gaan ek voort om ‘n e-pos oop te maak wat ek net so voor die afhandeling van my taak ontvang het, maar vasberade eers ignoreer het … daar was mos die spertydkwessie om in ag te neem. Die vergenoegdheid verdwyn vinniger as pynpille in ‘n sorgsentrum. Die verloskundige en narkotiseur-eggenote wat die middelste drie van my vyf kinders deur keisersnee veilig die wêreld ingebring het, verhuis en vestig binnekort in Australië. Nie vir aftrede nie, nee – ‘n fantastiese pos kon nie geweier word nie!

 

Gemelde kinders is al tieners; ek moes al tydens my laaste swangerskap onverwags binne Suid-Afrika verhuis; daar is dus al vir baie jare nie meer kontak met hierdie dokters wat terselfdetyd ook werkskollegas was nie. Tog bestaan daar ‘n band. Hierdie persone is deel van my. Deel van my nes die fisio-klasmaat wat later doktorsgraad verwerf het, ook deel is van my. Die fisio-klasmaat wat later doktér geword het, is ook déél van my. Nóg stukkies van my is te vinde in die staatskliniekverpleegstervriendin – ons kinders was saam klein, sy kon hul ent. Die kerkjeugdoktersvriendin. My oogartsneef. My Voortrekkermaaitjie van laerskooldae wat ‘n suster is. My gemeenskapsdiensoudioloog.

 

Tog is hierdie dele van my nie meer te vinde nie. Hul is elders. Hul is weg. Australië, Kanada, Engeland, Nieu-Seeland. Soos met ‘n amputasie, hou spookpyne jou bewus van hul eertydse bestaan maar dit is vir jou van geen nut nie. En jy – stukkend en minder – moet elke keer stry om gesond word. En wonder later … hoe sal dít wat oorbly enigsins genoeg wees om iewers te oorleef.

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed