Jongste aktiwiteit:

Gister is ‘n ver land (ballade vir Mary-May)

Vér in die verre verlede
op ‘n dag in 1910
het die mooiste kleine baba
haar eerste lewenslig gesien
en wyl sy wieg in moedersarms
was haar pa so trots en bly
hy sing vir haar ‘n lullaby
en hul noem haar, Mary-May.

In die herfs van 1930
stap Mary langs die strand
en ontmoet toe daar ‘n jong man
van ‘n ver en vreemde land.
‘n Ring met diamante
het sy kort voor lank gekry
en hy vra haar om te trou
want hy was lief vir Mary-May.

Die dag toe hul kom groet
het haar ma se hart gebreek
hul sou haar nooit weer sien nie
dit het sy goed geweet.
Haar pa was byna woordeloos
daar’t ‘n traan oor sy wang gegly
maar hy sing vir haar ‘n lullaby
en sê “vaarwel, my Mary-May.”

Veel jare het verby gegaan
voor haar beeld begin vervaag.
Hy koop ‘n klompie planke ~
en toe begin die ou man saag.
Hy bou vir hom ‘n skuitjie
wat deur seewaters kan sny
maar die bootjie moes ‘n naam hê
en hy doop haar, Mary-May.

Maar nimmer kon hy vrede vind
wyl hy oor blou, blou waters staar
tot anderkant die horison ~
en dink aan lande ver van daar.
Dan droom hy van ‘n groot skip
wat haar terug bring om te bly
en hy neurie weer ‘n lullaby
vir sy mooiste, Mary-May

O, hoe onverwags die stormsee
en dat sy skuit hom só moes faal.
Hoe hy ookal spook en spartel
die strand kon hy nooit haal.
Met nuwe dag se eerste lig
het ‘n sonstraal haar gekry
waar die wind suis soos ‘n lullaby
alom die wrak van Mary-May.

Oor die see sweef soms ‘n droewe stem
soos van ‘n siel met seer belas.
Party sal sê dis net ‘n meeu
wat sy eensaamheid so kras,
maar ieder wat die storie ken
wis ~ dis die ou man wat so ly
en hy sing nog steeds ‘n lullaby
vir sy liefkind, Mary-May

C. Shaw
26 April 2015




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed