goed en kwaad (Opdrag 6)
‘n visioen van God en mens verbeeld in hoë hemelboë
die skepping van ‘n wese met oneindige vermoë
‘n lewende siel toebedeel met denke, eer en heerlikheid
wat verby sy eie sterflikheid kan leef tot in ewigheid
maar ook ‘n mens van vlees en bloed
wat kwaad kan kies bo goed
Renaissance uitbeelding van realiteit en wysheid van God se wens
herlewing van Sy ewige liefde vir die mens
wat Hy in Sy beeltenis smee
met Sy eie asem lewe gee
heilige hemelinge kyk in verwondering na die formering van ‘n aardeling
die kroon van God se skepping uit stof voortgebring
God wat die simfonie van lewe dirigeer
het Sy vingerafdruk in jou gegraveer
Hy het jou net minder as goddelik gemaak
om Sy skepping te bewerk en te bewaak
tog in jou spruit die saad van vernietiging
van God se volmaakte skepping
JY KIES TEEN ALLES OM JOU EIE GOD TE WEES
OM TE EET VAN DIE VRUG VAN VERDORWE VLEES
©Evanthe 2018
2 Kommentare
-
Callie Vermeulen
Pragtig Evanthe!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie