Grensoorlogstorie: Gesteelde tyd
Soms sit, of staan, of loop of lê ek … en soms doen ek dit terwyl ek oor goeters dink. So kan ek seker al ’n boek vol maak met al die gedagtes wat in my bewussyn rondseil terwyl ek stort. Met seker nog ’n boek wat lewe kan kry uit die gemoedsomswerwinge bedags in die motor, in stiltetyd of deur net na my vrou te luister wanneer sy haar hare droogblaas. Die dikste boek sou seker daardie een wees, wat uit die sketse van my werksloopbaan saamgestel kan word.
Net hier moet ons egter enige agterdog en vooroordeel ’n nekslag toedien; ek beskou gewis nie al, of selfs enige van my boekskryfgedagtes as publiseerbaar of noodwendig vir almal ewe genietbaar nie. Maar net ingeval, vertel ek tog graag hierdie storie’tjie.
Na matriek wou ek aanvanklik die regte van ’n prokurower gaan studeer; maar ons Hemelse Vader het in Sy alwetendheid besluit dat ek eerder ’n rekenmeester se papiere moes gaan haal. Tussen die einde van die skooljare en die aanmeld ter voltooiing van die verpligte twee jaar militêre diens by SANW en seuns, het ek toe vier jaar se studies ingedruk. Lekker tye.
Tot daardie dag wat die bruin koevert afgelewer word: “Oproepinstruksies vir HI Fritz”. Ek moes 3 Julie, die volgende jaar, by 1 Onderhoudseenheid, Kimberley, vir diensplig aanmeld. Moeder was baie bekommerd. Hierdie enigste, eerste en laaste geborene, gaan met skoonhande en -klere ’n lorrie se ratkas moet laat sak; en dit honderde kilometers weg van die huis. Die gedagte hieraan het Ma se bors laat toetrek. Dis hier waar my eerlikheid ook onder verdenking kom, want ek gaan niks oor my eie benoudheid skrywe nie!
Dis Januarie 1991 en ek het ses maande om te wag vir die trein na Kimberley. Weereens en genade in terugdenke, word ek vir die paar maande by Tygerberg Kamer van Handel en Nywerheid aangestel. Daaitydse President, oorle Mnr. Johan Reitz, vir wie ek deur my studentedae goed leer ken het, wou die mediese fonds van die Kamer laat oudit. Die werk by die Kamer was rustig en die geselskap goed. Ek geniet die sakemense en hul dinge en bou ’n goeie verhouding met een van die mees eksentrieke intelligente mense wat ek tot nog toe in die sakewêreld ontmoet het – die Hoofbestuurder, mnr Tommie Brand.
Hy stel voor: “Hoekom gaan klop jy nie by die Ontvanger van Inkomste aan nie”. Die SANW staan gereeld rekenkundig-gekwalifiseerde jonges aan die Ontvanger af. Dit verhoog die gemiddelde intelligensie per kantoor so effentjies, sou iemand eenkeer sê. Overgesetsynde en dienooreenkomstig maak ek toe ’n afspraak met die Ontvanger* (persoon) en gaan sien hom met my CV onder die blad. Die omie (lank en skraal met ’n “gee-my-jou-geld-gesig”) hou toe van wat hy sien en op 1 Julie 1991 begin ek amptelik by die Ontvanger van Inkomste werk. (Skuus, met my weermagverpligting.)
Tussentyds is die normale verpligte weermagtydperk van twee tot eenjaar verminder. Volgens die mededeling wat ek gedurende ons onderhoud by Mnr Ontvanger gekry het, is die ooreenkoms tussen SANW en die Ontvanger (nie die persoon nie) dat laasgenoemde die ander een se seuns mag vat om vir hom te werk, maar dan moet die seuns dubbel die normale weermagtyd verrig. Dus, omdat ons nie fisies sweet en deur korporale rondgejaag word nie, moet ons ’n ekstra jaar se “weermag” by die Ontvanger doen. So gesê, so gedaan. Op 23 Julie 1991, nie die 15de soos die regte staatsamptenare nie, kry ek ’n tjek van R2 253. My maters wat forte en wapens oppas, verdien so ietsie oor die R600! By navraag, sou ek hoor dat die Ontvanger ons weermagseuns volgens die staatsdiens-posvlakskaal vergoed. Manne, hier kan dit net beter raak!
Ek en die meisie raak verloof, bou ’n huisie teen ’n vlei en verbind mekaar in die ewige trou. Dit alles binne die eerste jaar van my weermag! Te lekker.
Aangesien ek elke middag 16:15 huis toe gaan, kry ek baie tyd om aan die nuwe belangstelling in my lewe, buitendien die vroutjie natuurlik, naamlik die Kamer van Handel en Nywerheid, se bedrywighede te wy. Die vaste komitee op belasting trek my nader vir moontlik praktiese insette, die Kraaifontein-streekkomitee gryp my, aangesien my pa ’n onderneming in die streek het, die sosiale komitee verwelkom my, aangesien die ou-manne jong energieke werkers soek, en so meer ensovoorts. Gou was ek een van die geeste in die beweging. Tot daardie wilde dag, wat mnr Brand besluit om te bedank. Hy het ’n pos by die een of ander groot koöperasie gekry en moet binne ’n maand trek. Wat nou gemaak. Die Kamer het ’n toegewyde Hoofbestuurder nodig. Dit is die laaste week van Junie 1992 en die Beheerraad is benoud.
Saterdagoggend net na ek opgestaan het, lui die foon. Dis die President. Nee, nie FW de Klerk nie, maar wel David Newham. President van die Kamer van Handel en Nywerheid. Na ek baie mooi ontsyfer het wat David opgewonde vir my vertel het, het ek ingestem om hom die Maandag gedurende middagete te gaan sien. “Die Beheerraad en mnr Brand het gekoukus en hulle dink jy sal die regte aanstelling vir die pos wees. Kan jy 1 Augustus begin?”
My bene voel soos ’n bak groenjellie toe ek die trappetjies by die kantoor afsukkel. “Dankie menere, ek sal die werk en die geleentheid met albei arms vasgryp,” weerklink my woorde terwyl ek in Voortrekkerweg na my kantoor by die Ontvanger terugsweef. Dwarsdeur my hele gemoed klop die wete van die ekstra jaar wat ek nog die Ontvanger “skuld”. Ek hoor of sien niks anders nie, die gedagte daaraan dat ek hierdie pos kan kry en die Ontvanger en SANW nou in my pad mag staan, oorskadu selfs my asemhalingsritme en hartklop. Ek was asvaal toe ek agter my staatslessenaar op my staatstoel in my staatskantoor die middag sit en om-staar.
Oom Gawie le Roux, ’n oud-maatskappyereg dosent, het altyd graag ons onder-21 rugby gekyk en dan skertsend opgemerk: “Fritzie is te bang hy word getackle- dis hoekom hy die gaps so graag vat.”
Moontlik was Oom Gawie reg, of was dit eerder net die volgende hoofstuk van ’n ongeskrewe lewensboek? Want aangesien ek amper elke moontlike kursus wat daar by die Ontvanger aangebied was, bygewoon het, moes my “personeellegger” deurlopend op datum gehou word. Die legger, soos die personeelmeisie dit genoem het, het alles oor my bevat. My afdelingshoofde se beoordeling van vordering, die kursusse en natuurlik my aanstellingsbrief. Dit was juis dié Vrydag na ’n week se kursus, dat ek die legger op die derde vloer moes gaan afhaal om my “self-evaluasie” te voltooi. Terwyl ek die aanstellingsbrief weer lees, val dit my op dat ek alles behalwe die “termyn” raaklees. Daar is geen melding van die “dubbel weermag-tyd” nie. Eienaardig.
Hierdie was uiteraard lank voor die gerief van “Google” en ’n rekenaar op elke Belastingbeampte se lessenaar, gits ons 13 aanslaers moes een rekenaar op die vloer deel!
Ieder geval, middagete skiet ek af Bellville Biblioteek toe. Reguit na die Verdedigingswet. Ek soek en kry verskeie artikels en klousules rakende die “sekondering” van weermagpersoneel na ander staatsinstellings. Maar, en wag hiervoor … geen enkele word oor die sogenaamde dubbeltydvereiste nie.
Die Maandagoggend om 07:45, voor Meneer inkom, gaan sit ek my bedangkingsbrief op die Ontvanger se lessenaar. “Hiermee gee ek kennis van my beëindiging van diens op 31 Julie 1992.” Kragtens my aanstellingsbrief, het ek dan presies een jaar se diens verrig. In die loop van die oggend laat die Ontvanger my egter na sy kantoor toe roep. “U kan nie bedank nie, mnr Fritz”. Is al wat hy gesê het. “Ek dink ek kan, Meneer.”
Op Vrydag die 31ste Julie het ek my kosblik, beker en personeellegger (wat die meisie van personeel nog nie teruggevra het nie) in my tassie gepak en my staatskantoordeur vir die laaste keer om 16:15 toegetrek.
Maandag 3 Augustus 1992, stap ek my nuwe kantoor by Tygerberg Kamer van Handel en Nywerheid binne en ’n nuwe episode van my lewensprent begin.
Na bykans sewe maande by die nuwe werk en geen woord of geluid van SANW en seuns nie, word die stilte wreed verbreek toe ek een middag by die kantoor terugkom en my sekretaresse sê: “Hennie, hier was twee soldate om jou te sien. Hulle sê hulle sal weer môre-oggend 09:00 terugkom.”
My hart stop net daar; die bloed verpoeier in my brein, daar gaan geen spuugsel suurstof êrens heen nie en ek besef … nou’s ek in die moeilikheid. Sonder veel woorde, en met die waardigheid wat ek bymekaar kon skraap, stap ek ongeërg vinnig kantoor toe. Ek moet iemand bel … ek moet met iemand praat … iemand wat sal weet? Iwan. Die prokureur. Ek strompel en struikel oor die woorde en die volgorde van gebeure en die hoekoms en waaroms en na ’n gesukkel kry ek dit sover dat hy verstaan wat ek aangevang het. “Moenie kommer nie, ek slaan gou na,” is al wat Iwan gesê het. Op daardie oomblik, was dit genoeg; dit en natuurlik ’n sterk koppie tee.
Die volgende oggend is ek reg vir die soldate. En soos dit die oorlede SANW en seuns betaam het, daag die soldate stiptelik om 09:00 op. ’n Militêre polisie-sersant en ’n korporaal. Die een met ’n skryfblok en die ander met ’n pak boeke. En gewapen ook. Terwyl hulle ’n koffietjie geniet, vertel die sersant my tussendeur waar ek oortree het en dat ek binne 24-uur vir diensplig sal moet aanmeld. Anders sal hulle my in hegtenis moet neem. “Absent without leave.”
Terwyl ek die emosie wat binne-in my maag draai so vêr as moontlik van my gesig af weghou, haal ek my Ontvanger van Inkomste-personeellegger uit. Dit het drie voue. Binne die derde vou, is my aanstellingsbrief, my bedankingsbrief en die kort briefie wat Iwan laat die vorige middag vir my gefaks het, vasgekram. Ek draai toe die legger vir die soldate om te lees … “Die onderlinge ooreenkoms ten opsigte van die SANW se personeel en die dienspligtye, is ’n departementele reëling; nie ’n Wetsbepaling nie.”
Die soldate-mense het elkeen ’n afskrif van al drie die briewe geneem en met my goeie wense daarmee saam, in hul weermagvoertuig vertrek.
Ampertjies, het hulle my tyd ook gesteel, want nooit weer het enige haan hieroor gekraai nie.
2 Kommentare
-
Kiekies
Heng hoe lekker kry nou, my tone kriewel in my skoene! Jy het my ook benoud gehad, ek sit eintlik reguit-rug op die punt van my stoel. Ek ag dit my plig om jou mee te deel: Jy is die enigste persoon wat so dink - 'ek beskou gewis nie al, of selfs enige van my boekskryfgedagtes as publiseerbaar'
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Winter nostalgie projek